Monday 30 April 2012

Geleende vere



Ek het in my ouerhuis grootgeword met die Afrikaanse idioom wat dit wil hê dat ‘n mens met geleende (of anderman se) vere pronk. Dit wil sê iets gebruik wat aan 'n ander behoort en dan die eer daarvoor ontvang.
In ons huis is ons eerder daarteen gewaarsku om nie met geleende vere te pronk nie, soos wat jy (in ander konteks natuurlik) nie met anderman se kalwers mog ploeg nie.
Die idiomatiese pronk met geleende vere het waarskynlik sy oorsprong in die volgende fabel wat Phaedrus (c. 15 vC – c. 50 nC) aangeteken het.

Die kraai en die poue
Esopus bied ons ‘n baie leersame storie om nie met andermansgoed rond te loop nie, maar om ons lewens in ons eie en met ons eie te lei.

‘n Onnosel kraai, skoon geswolle en opgeblase van ydelheid en trots, kom toe af op ‘n aantal pouvere wat op die grond laat val en laat staan is. Hy tel dit toe op, trek dit vir homself aan, en probeer, nadat hy sy eie groep spottend en neerhalend vaarwel geroep het, om by die swerm poue aan te sluit. Die poue het hierdie voorbarige en aanmatigende aanstellerigheid met aggressie begroet:  hulle het die vere uitgepluk en die kraai gepik tot hy homself uit die voete gemaak het. Na hy sy moses so sleg onder die poue teëgekom het, is hy stert tussen die bene terug na sy eie soort toe. Daar aangekom is hy summier verdryf en weer eens aan fisiese pyn en openbare vernedering uitgelewer. Een van die kraaie, een van die wat hy met sy afskeid so lekker gespot het, sê toe vir hom:  “As jy tevrede daarmee was om tussen ons te bly, met dit waarmee die natuur jou toebedeel het, sou jy sowel die poue se vernedering, as ons verwerping en afwysing gespaar gewees het.


Phaedrus vertel nie sommer net van ‘n kraai nie, hy verwys na ‘n kerkkraai (die Engelse Jackdaw) wat ons nie in Afrikaans (Suid-Afrika) ken nie. Horatius het egter ook destyds reeds hierdie fabel wat aan Esopus toegeskryf word, neergeskryf, en hy was minder puntenerig – hy vertel sommer net van ‘n kraai.

Iewers uit die 4de eeu nC het ‘n Esopiese fabel deur Aphthonius van Antiochië, waarin daar ook van geleende vere (weer eens die van ‘n kerkkraai) sprake is, behoue gebly:

Die skoonheidskompetisie van die geveerdes

Die storie van ‘n kraai wat ons wil aanspoor om arrogansie te verfoei.

‘n Skoonheidskompetisie is gehou en al die voëls het saamgetrek om deur die Griekse oppergod, Zeus, beoordeel te word. Hermes, die boodskapper van die gode, het laat weet presies watter dag die kompetisie sou plaasvind en op die vooraand van die groot dag het al die voëls afgesit na die damme en riviere waar hulle van hul ou vere ontslae geraak en die nuwe fynste vere glad gestryk het. Die stomme kraai het egter geen spoggerige vertoonvere gehad wat hy in plek kon kry nie. Hy besluit toe om hom te tooi in die afvalvere wat die ander voëls agtergelaat het. Alleen ook maar die uil wat haar vere herken en die bedrogspul agtergekom het. Sy het haar eie vere gaan terug eis en die ander voëls aangehits om dieselfde te doen. Teen die tyd dat die kraai gestroop was van al die gesteelde vere, was daar ook weinig van sy eie vere oor, en het hy bykans poedelkaal voor Zeus moes verskyn om beoordeel te word.

Sierade wat nie aan jou behoort nie, kan jou groot verleentheid en vernedering besorg.



En steeds is dit het einde niet. Ons het Odo van Cheriton (die monnik hier iewers uit die 13de eeu) reeds leer ken as ‘n oorverteller van fabels wat met veel digterlike vryheid te werk gegaan het om sy teologie, tydsgees en waardes te pas. Hy het ons twee vermanings rondom geleende vere nagelaat.



Die kraai die arend en die vere

‘n Fabel wat die mense wat roem dat hulle iets het, maar nie daaroor beskik nie, aankla.

Daar was hierdie kraai wat besef het dat hy lelik en swart is. Hy gaan kla toe by arend wat voorstel dat sy vere van haar ander geveerde vriende leen. Die kraai het daad by die arend se woord gevoeg: sy het twee stertvere by die pou geleen, iets uit ‘n ander se vlerk, by duif en papegaai, ‘n donsie hier, ‘n borsveertjie daar. En so aan en so voort tot die kraai na haar eie mening sommer spoggerig gelyk het en die ander voëls eers begin uitlag het, toe selfs uit begin skel het. Die ander voëls sit toe op hul beurt af na arend om oor hierdie grootpraterige, ongepoetste kraai te kla. Arend se wyse voorstel was dat elkeen sy vere moes terugneem om die kraai verneder te laat. Dis presies wat die voëls gedoen het, en waarom die kraai vandag nog kaal en lelik is.

Dan het ons met die fabel van die hardwerkende miere en lui sprinkaan wat Odo op sy kop gekeer het om die miere in ‘n slegte lig te stel – so asof hulle vir hulle skatte op aarde bymekaar maak, in plaas van in die hemel – agtergekom dat Odo lief daarvoor was om die bordjies in bekende fabels te verhang. Sy ander fabel rondom geleende vere teiken nie die kraai of raaf wat die leenwerk doen nie, eerder die pou wat die uitleenwerk doen.



Die voëls, die pou en sy vere

Teen ydelheid en so voort.

Die pou was voorwaar ‘n merkwaardige voël, nie net oor die skoonheid van sy vere met hul lieflike kleure en patrone nie, maar ook omdat hy so edel was. Op pad na ‘n vergadering van die voëls, kruis sy weg egter met die van ‘n raaf. Die raaf vra hom toe of hy nie maar twee sy vere kan kry nie. Die pou is heel inskiklik, maar wil dadelik weet:  “En wat gee jy vir my in ruil vir my twee vere?” “Waar ek my in die geselskap van ander voëls bevind, onderneem ek om altyd jou lof te besing.” Die pou gee toe sommer ook dadelik twee van sy vere prys. So is dit dieselfde storie met die kraai wat verby gekom het en weg is met twee vere. Ook so met die koekoek, die loerie en nog talle ander voëls... tot die pou op die ou einde nie ‘n enkele veer meer oor had nie en kaal gepluk daar gestaan het. Die pou, wat veronderstel was om sy kuikens te help voed en warm te hou, was sonder enige vere daartoe geensins meer in staat nie. Toe die winter kom, toe sterf hy. Sy kuikens is vort om na die beste van hul gebrekkige vermoë vir hulle ‘n beter heenkome te vind.


Illustrasies is deur Laura K Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.