Ons is almal vertroud met die wolf in skaapsklere en weet dat jy nie soos die kraai met geleende vere moet pronk nie, maar miskien is almal nie bewus van die feit dat ook die donkie goed aan probeer jaag het in die vel van ‘n leeu nie.
Die boere, die donkie en die leeu se vel
Die storie van ‘n donkie, wat ons wil aanspoor om nie na meer te smag as wat ons toekom nie.
Hierdie donkie wou hom as ‘n leeu voordoen. Maar omdat hy aan sy eie natuur en geaardheid onder die son niks kon verander nie, besef hy toe dat hy maar sy drome om verwoesting onder die vrugte van die boere se arbeid te saai, aan die hand van ‘n kostuum sal moet verwesenlik. En dis presies wat hy toe ook onder die dekmantel van ‘n leeuvel gedoen het. ‘n Rukwind het egter opgesteek, korte mette met die vermomming gemaak en die leeu se ware kleure gewys. Die oomblik toe die boere onder wie se oes die leeu so rojaal te kere gegaan het, sien dat dit maar net ‘n donkie is, het hulle opgeruk en hom met stokke doodgeslaan.
Versierings en tooisels, van watter aard ook al, wat nie aan jou behoort nie, kan gevaarlik wees.
Hierdie is ‘n oorvertel van Aphthonius se weergawe van die storie. Ander weergawes wil dit hê dat die gebeure op Cyme, ‘n Aeöliese nedersetting in Klein Asië, afgespeel het. Die inwoners van die dorpie, wat spreekwoordelik in die volksmond as onnosel bestempel is, het nog nooit oog op ‘n leeu gelê gehad nie – hulle is in hul onnoselheid, ten spyte van die donkie se lang ore wat duidelik uitgesteek het, geheel en al deur die donkie in die leeu se vel oortuig. Hierdie anekdote het trouens tot ‘n spreekwoord aanleiding gegee wat ons op meer as een plek in die klassieke tekste raaklees: “Dis soos met die donkie onder die inwoners van Cyme.”
In ‘n ander weergawe saai die donkie onrus, nie onder die boere nie, maar onder die diere:
Die jakkals, die donkie en die leeu se vel
‘n Donkie het vir homself die vel van ‘n leeu aangetrek en rondegeloop en al die diere ‘n groot skrik op die lyf gejaag. Toe die donkie op ‘n jakkals afkom, het hy haar ook skrik probeer maak, maar lank voor sy die donkie gesien het, het sy hom reeds gehoor. Daarom sê sy dan ook: “Jy kan daarvan verseker wees dat ek baie bang sou gewees het, as dit nie was dat ek jou gebalk in die verte gehoor het nie.”
Netso is daar sekere liggewig outjies onder ons wat danksy hul voorkoms soos swaargewigte lyk; en dan kom hul ware identiteit na vore, die oomblik wat hulle hul monde oopmaak en iets probeer sê.
Kyk ek so na die illustrasies, is dit opvallend dat niemand 'n histories-korrekte boer wil uitbeeld nie - elkeen se boer isn geklee in die kleredrag van die tyd waarin die boek gedruk word. En dan is dit ook duidelik dat daardie verwysing na die stok, 'n sterk en blywende indruk op die illustreerders moes gemaak het.
Kyk ek so na die illustrasies, is dit opvallend dat niemand 'n histories-korrekte boer wil uitbeeld nie - elkeen se boer isn geklee in die kleredrag van die tyd waarin die boek gedruk word. En dan is dit ook duidelik dat daardie verwysing na die stok, 'n sterk en blywende indruk op die illustreerders moes gemaak het.