Saturday 12 May 2012

Die arend en die pyl


‘n Storie met ‘n boogskutter wat wil wys dat dit bitter is om deur jou eie soort tot ‘n val te kom.
Die boogskutter lê aan op die arend en stuur die pyl sekuur uit sy boog. Dis klief deur die arend, wat ‘n oomblik nog gegun word om te kyk wat hom getref het. Sterwend sê hy, na hy die vere om die agterkant van die pyl opgemerk het:  “Baie is dit wat tot ‘n val kom deur juis dit wat hulle self ook opgelewer het.”
Dit herinner my ook aan ons wat in Afrikaans sê dat iemand sy eie graf grawe, of ook, ‘n lat vir sy eie gat pluk.
En dan is ons ook geneig om ander dikwels van skietgoed te voorsien wat teen onsself gebruik word.

Hierdie illustrasie uit die De Medici-kinders se Griekse handboek kan vir die eietydse oog verwarrend wees, maar dan moet ons onthou dat daar daardie jare nog nie iets soos strokiesprente was nie; die kunstenaars het dikwels meer as een moment van 'n verhaal in een raampie uitgebeeld.