Tuesday, 26 July 2011

Die Vrek


Dan was daar hierdie vrek wat al sy eiendom verkoop het en in die plek daarvan 'n lywige klont goud aangekoop het. Hy gaan begrawe dit toe net buite die stadsmure waar hy die welstand daarvan elke dag gaan inspekteer. 'n Arbeider merk die vrek se gedrag op, kry snuf in die neus en bring inderdaad die kloutjie by die oor uit. Toe die man weer weg is, neem hy die klont goud vir homself. Toe die vrek weer sy inspeksieronde doen en ontdek dat die wegsteekplek dolleeg is, bars hy in trane uit en begin die hare uit sy kop uit trek. 'n Verbyganger kan nie anders as om van die man se ongewone, bykans buitensporige, rou bewus te word nie en vra wat dit is wat skeel. Na hy die storie enduit geluister het, is sy raad: “Jy het nou genoeg gesanik. Staak dit. Kry vir jouself 'n klip en bêre dit waar jy die goud versteek het; vertel jouself dan die goud is steeds daar – dit is immers tog nie asof jy dit gebruik het toe jy dit nog had nie.”



Hierdie storie wys dat dit van nul en gener waarde is om oor iets te beskik wat jy nie ten volle en na behore benut nie.


Latere vertellers het skynbaar 'n ongemaklikheid met die vrek wat van al sy eiendom ontslae raak en plooi die storie om gemaklik in 'n ander tydraamwerk te pas:

‘n Gierige Vrek het bykans alles wat hy sy lewe lank versamel het verkoop, en vir homself ‘n redelike groot klont goud gekoop. Maar wat nou gemaak met sy goud? Hy begrawe dit toe in ‘n gat in die grond naby ‘n baie hoë sipresboom in sy groot tuin en gaan elke dag uit om te kyk of dit nog daar is. Een van sy arbeiders, vermoedelik maar ‘n tuinier, raak toe bewus van sy baas se vreemde daaglikse roetine en besluit om nadere ondersoek in te stel. Natuurlik, die oomblik toe hy die oubaas se geheim ontdek, toe neem hy die goud vir homself en verdwyn. Dis by die leë gat in die grond dat sy buurman hom opspoor – hy het die man hoor huil en skree en nader gekom om hom te kry waar hy die hare uit sy kop uit trek en bitterlik ween. Toe hy die hartseer storie uit die ou Suinigaard het, is sy raad eenvoudig: “Nou maar kry vir jou ‘n klip, enige ander klip, plaas dit in die gat en vertel jouself dis die goud wat daar lê. Dit sal vir jou van presies dieselfde waarde wees, want toe die goud nog daar was het jy, al kon jy as jy wou, nie die minste gebruik darvan gehad of iets daarmee gedoen nie.”

Ek is daarvan oortuig dat ek hierdie storie redelik onlangs vertel het, maar nou kry ek dit nie opgespoor nie, nie onder 'n naam wat verband hou met 'n suinigaard of vrek nie.

Ek onthou selfs hoe baie ek van die heel boonste illustrasie gehou het. Die studie van die fabels se illustrasies kan 'n studie op sy eie word.

Hierdie illustrasies, soos bykans almal, is deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel. Wat hierdie vrou, of haar studente, vir fabels doen, is ongelooflik.