‘n Smous is met sy donkie af soutpanne toe om sout te raap. Op pad terug en net mooi in die middel van so ‘n effense driffie langs die pad, trap die donkie skielik skeef en beland, kaplaks, sout en al, in die water. Toe sy baas hom eers weer veilig daar op en uit het, voel die donkie dadelik dat sy vrag nou aansienlik ligter is. Dis ook vir die man duidelik dat sy vrag sout in die water op moes gelos het; hy draai terug om dit wat hy sopas verloor het, eers weer te gaan herwin. Dié slag raap hy veiligheidshawe meer as ronde een en dis dan ook met ‘n aansienlike swaarder vrag dat hy en vaaljas ‘n rukkie later weer die langpad terug aanpak. By dieselfde driffie aangekom, struikel die donkie, wat duidelik geen esel is nie, kwansuis weer en staan hy ‘n wyle later eens weer met ‘n aanvoelbare ligter vrag uit die water op. Dis vir die smous amper of die gebalk wat hom begroet nou skielik soorts van triomfantelik is, so asof die donkie bly is hy het gekry wat hy verlang het. Weer draai hulle om, nie panne toe nie, maar verby see se kant toe, hawe toe; nie om verlore sout aan te vul nie maar om iets heel anders te loop aankoop. Ja, ons smous, wat gemenespel van die donkie se kant vermoed, maak aankoop van ‘n enorme groot bondel seespons. Al is die vrag nie naastenby so swaar soos die vorige twee vragte sout nie, is dit natuurlik ‘n stuk of vyftien keer groter en lomper as vaneffe. Hulle val in dieselfde pad terug, verby die panne, en kom by dieselfde driffie, en ook presies dieselfde klip in die middel van die driffie, waar die donkie dan nou so waar as wraggies weer ‘n keer kamstig sy poot swik, struikel, en met die grote vrag spons en al, op sy sy, in die water beland. Die stomme donkie versuip amper in die proses en toe die smous hom uiteindelik eers weer op en uit die water het, is daardie vrag van hom niks, nie ‘n dooie ons, ligter nie, maar het die slim sy baas gevang en die toertjie mooitjies geboemerang – die vrag is tien keer swaarder van al die water wat die spons met die val in die water absorbeer het. Gelukkig, en dis wat so mooi is van hierdie storie, het die donkie nooit ooit weer by daardie driffie langs die pad – trouens by geen enige ander driffie hoegenaamd langs watter pad ook al nie – geval, of gestruikel, of so veel as selfs net ‘n voet skeef neergesit, nie.