Friday 1 March 2013

Tierboskat en Haas se eie unieke hardloop


Tierboskat jaag toe een agtermiddag laat vir Vlakhaas uit haar skuilplek op, maar begin na ‘n kort dog vinnige jaagtog die aftog blaas. ‘n Astrante kraai wat alles van iewers hoog tussen die takke en blare deur gade geslaan het, krys dadelik heel smalend:  “O, aarde, hoe lyk dit my dan nou vandag so al asof die kleiner een van die twee, die enetjie met die korter bene, veel vlugvoetiger is as die ou grote met sy langer slanke bene!”  “Glad nie,” blaas Tierboskat kortaf, “maar dis so duidelik soos daglig dat jy geensins die verskil in ons twee se hardloop opgemerk het nie - ek het bloot maar net agter ‘n ligte ou klein versnaperinkie aangehol, Haas, aan die anderkant, se hele lewe, én ganse nageslag, het van sý hardloop afgehang.”