Saturday, 2 March 2013

Die veebouer, landbouer en rooikat

fotobron
'n Vlugvoetige rooikat was aan’t wegvlug van 'n veeboer. 'n Landbouer, rustig aan die skoffel in sy ou lappie braakland, het egter gesien waar die dier homself in nouernood in 'n digte struikgewas onsigbaar probeer maak. Die rooikat sê toe vir hom: “Ek smeek jou in die naam van elke voorvader en god wat daar is, ook van ‘n ieder en ‘n elke wat vir ons lief en dierbaar is, om my nie vanmiddag hier te verklap nie! Ek het my in my ganse dag des lewens nog nooit iets anders nie as goed in die geselskap van jou en jou gesaaides gedra. Die landbouer  antwoord:  “Wat jy sê is waar, wees daarom gerus en nie bevrees nie, hou net jou lyf skraal daar waar jy is, jou bewegings skaars, en ontspan.” Met dié daag die skaapboer warm op die spoor van die rooikat, vuurwapen in die hand en ook lankal heel warm om die kraag daar op:  “Haai, jy, mielieboer, is hier nie straks vaneffe 'n ellendige rooikat verby nie?” “Inderdaad,” kom dit van die landbouer, “maar hy het vervaard en teen onaardige spoed voet in die wind geslaan en sy lyf dóérie kant toe klein laat word soos hy gehol het.” Terwyl hy praat swaai hy egter sy kop ewe slinks en wink hy met die oog, anderkant toe, in die rigting van die rooikat se ruigteskuilplek. Die jagter slaan in sy haas egter nie hierop ag nie en verdwyn spoedig uit die oog. Dis toe dat die landbouer hom tot die rooikat wend: “En toe, gaan jy my nie bedank vir die feit dat ek jou geheim, geheim gehou het nie?” Maar die rooikat antwoord bitter: “Wel, ek kan dit nie ontken dat ek jou tong baie dank verskuldig is nie, en daarvoor baie dankie dan ook. Maar wat daardie leuenagtige oë van jou betref, wens ek weliswaar iemand kom en ruk dit uit hul kaste uit en voer hulle vir die kraaie. En mog daardie verraderlike kop van jou wat netnou so lynreg van jou mooi woorde verskil het om ‘n gans ander deuntjie te fluit, sommer spoedig deur die einste skoffel daar in jou hand tot ewige stilte gemoker word.”