Thursday, 7 March 2013

Die bokwagter en sy bokke


Dit het sonder enige vooraf aankondiging sommer net skielik sterk en swaar begin kapok. Ook nie lank nie, of die hele kudde was pikspierwit oortrek van die sneeu. Gelukkig ken die veewagter die landskap soos die palm van sy hand en dryf hy sy bokke kort voor lank in ‘n nabygeleë grot in. Hy was onder die indruk dat dit onbeset sou wees; groot was sy verbasing daarom toe hy op 'n hele trop wilde bokke, wat hom en sy kudde voorgespring het, daar aantref. Hierdie geharde bende was nie alleen meer bokke sterk as sy eie trop nie; maar al die swaarkry en wind van voor gewoond, was elkeen alkante toe ‘n goeie hand of wat groter, ook opsigtelik sterker gespierd daarby. Die gevolg is dat die veewagter, terwyl sy eie kudde honger lei, toe eerder die bietjie wat daar was en as voer deur sou kon gaan, aan die wilde bokke afstaan om húlle te versterk. Toe die gure weer weldra weer opklaar, kom hy egter met ‘n skok agter dat ‘n een en ‘n elk van sy eie bokke intussen afgevrek het, dit terwyl die skerminkels waarna hy so mooi omgesien het, op hul beurt reeds vort is en op 'n deel van die berg waar nog geen dier die betrokke seisoen gevreet of vertrap het nie, rustig aan die wei is. Van sy drome oor 'n groter kudde het net mooi niks gekom nie en is die belaglike gierigaard toe verleë sonder 'n enkele nuwe bok huis toe, maar meer as dit nog – hy had ook nie eens meer selfs net een van die oorspronklike kudde waarmee hy die seisoen afgeskop het, oor om agter sy naam te kan skryf nie.