Monday, 11 March 2013

Die padda en die muis


fotobron


Die vaalveldmuisie vra die padda om hom tog net oor die rivierstroom te help. Die stroom lyk nou skielik vir hom veel sterker as toe hy ‘n dag of wat gelede daar verby gekom het. Hulle bind toe die muis se voorpoot met 'n stuk groen soetveldgras aan die padda se agterpoot vas, en hop-spring sukkel-sukkel af waterkant toe. Daar gekom, duik padda  toe weg, die muisie agterna. Maar skaars het hulle net mooi in die middel van die stroom aangekom of hierdie padda openbaar homself om ‘n opperste verraaier te wees – hy duik onverwags die dieptes in, bodem toe, met die stomme muis spartelend agterna. Gelukkig versuip die arme diertjie sommer gou en dobber sy lewelose lyfie kortvoorlank opgeblaas op die wateroppervlak rond. Padda sit nou daarmee af oorkantse wal toe om daarvan ‘n lieflike middagete te maak. Die grys lyfie wat nie saam met die stroom afdryf nie, maar eerder lyk of dit die stroom sonder enige swem- of skopbewegings kruis, vang ‘n valk se skerp oog. Hy swiep nuuskierig af en sien dis niks anders nie as ‘n vinnige happie wat gereed wag om opgeraap te word. Maar ook nie net een nie – sommer twee! Toe hy die dooie muis gryp, is die padda, steeds met die grasspriet daaraan vas, natuurlik saam die lug in opgesleep. En so is die verraderlike padda wat teen die muis gedraai het, ook gedood en opgevreet.

Wie onheil saai, sal onheil maai.

Hierdie is een van die sowat 13 fabels wat Martin Luther in sy leeftyd vertaal het. Hy het groot waarde aan fabels geheg en wou 'n boek uitgee met sy oorvertellings in. Hy het egter slegs by 13 uitgekom en dit is eers na sy dood publiseer.

Ek moet vandag saalopening waarneem en gebruik hierdie as vertrekpunt.