Friday, 1 March 2013

Die arm man en die dood

fotobron
‘n Brandarm man loop oor die hitte van die dag met ‘n sware drag vuurmaakhout op sy een skouer. In ‘n stadium raak die pad net te ver, die opdraande te steil, die hout hopeloos te swaar en hy doodeenvoudig net tot die dood toe te moeg om nog een enkele keer sy een voet voor die ander neer te sit. Met ‘n diep sug slaat hy in die los grassies en bossies aan die soom van die pad neer en sit sy gedagtes uitasem om in woorde:  “Die Engel van die Here kan my maar kom loop haal, van my sal Hy ten minste darem kan sê dat hy my by my werk gekry het.” Met dié klop Gabriël hom hoeka aan die skouer en wil hy besorg weet:  “Ek hoor jy het my gesoek, is daar dalk iets waarmee ek jou behulpsaam kan wees.” So vloei daar toe mos nou skielik uit die bloute piksplinternuwe lewe in die arme man se moeë bene; hy spring heel flink en begeester op met die woorde: “Ai, maar is ek nie so vreeslik bly om te sien u is hier om my by te staan nie! Ek het eintlik maar net gewonder of u my nie vir ‘n kort oomblik kan help om hierdie stapeltjie hout gou weer op hierdie ou klipkop van my te kry voor ons elkeen maar weer ongesteur sy eie rigting kan inslaan nie.”

So byt ons almal ook maar vas aan die lewe, dit maak nie saak hóé sleg ons daaraan toe is nie.