Hierdie boerbokkie, sommer nog goed nat agter die ore, dwaal toe wei-wei agter soet grassies aan en is sommer gou 'n hele ent van sy trop af weg. Toe hy hom weer kom kry en opkyk om seker te maak waar hy is, toe is ‘n uitgevrete rooikat nie van agter in sy spoor nie, maar viervoetvas vlak van voor in die middel van sy pad. Met geen maar geen kans om voet in die wind te slaan nie, is hy sommer gou in die kwylende roofdier se honger kloue en prewel hy bewend: “Ek weet dat ek op die punt staan om jou aandete te word, oom Rooi. Maar gun my asseblief net die voorreg om my dood met waardigheid in te gaan – speel asseblief vir my ‘n mooi deuntjie op hierdie bekfluitjie sodat ek oulaas ‘n afskeidsriel kan dans.” Eerder uit nuuskierigheid oor hoe die bokkie dan nou blykbaar ‘n riel kan dans, as uit goedgemanierdheid of respek vir ‘n prooi se sterwenswens, stem die rooikat toe in en die bokkie dans ligvoets, maar steeds dat die stof so staan, op die melodie wat uit die bekfluitjie kom. Dié vrolike musiek, want as daar nou een ding is wat die rooikat goed kon doen, dan was dit om mondfluitjie te speel, het natuurlik die aandag van die bokwagters se honde getrek en die hele trop was gou op die toneel om die kat te verjaag. So in sy enigheid en terwyl hy rieme neerlê, dink die rooikat: “Dit het ek nou daarvan om my lyf musikant, in plaas van slagter, te wil hou.”
Deur maar net jou mond oop te maak en met ander in gesprek te tree, selfs by die wat jou nie noodwendig goedgesind is nie, kán jy jouself uit die moeilikheid praat.