Thursday 18 April 2013

Die donkie en die skoothond


 
Die boer het ‘n donkie in die veekampie direk langs die plaaswerf aangehou. Ou langoor sien hoe sy baas se skoothondjie aldag en heeldag al op en oor die man is. As hy nie in sy hande is nie, is hy op sy skoot, en partykeer glads pens en pootjies sommer op sy bors. Intussen geniet die klein keffer ook net die allerbeste kos, reguit van die baas se eie tafel af. Dis nou benewens al die bederfies waarmee al wat huis en kombuisbediende is, sy gevreet deur die loop van die dag volstop. Die donkie vertel homself toe:  “As my meester en sy bediendes so gek is oor 'n verskoninkie vir 'n hond soos daardie een, hoeveel te meer sal hulle nie wees as ek my soos een gedra nie. Ek is immers na alles veel beter as enige hond, intelligenter, talentvoller, en, o, so veelsydig! Fonteinwater wat spesiaal in die yskas koel gemaak is en net die beste snitte en geurigste porsies sal vir my voorgesit word; ek is immers in alle opsigte die hond se meerdere. Dit het lankal hoogtyd geword dat ek die respek wat my toekom, begin afdwing,” maak hy homself wys. Met dié laat los hy 'n harde, opgeruie hiéé-hô, en sit al balkende op 'n hondegaloppie af na sy meester toe. Hy spring orent en slaan sy twee voorpote oor die niksvermoedende man se skouers, met sy stink asem in die man se verbaasde gesig begin hy hom met sy groot grys tong al op die wang en in die nek te lek – dit, terwyl sy hoewe van die man se skouers begin gly en dit sy klere aan flarde skeur. Gelukkig, vir die stomme plaasboer, begin hy ingee onder die donkie se gewig en kom die eerste plaasarbeiders, in antwoord op sy gille en krete, ook met stokke en pikke en grawe en byle aangehardloop. Tesame met die klippe, kluite en klonte wat hardop saamgesels, is dit ook nie lank nie of die arme donkie sien sy ma vir 'n eendvoël aan. Hulle is toe met hom, kwalik nog in die lewe, af stalle toe waar hy lank, baie lank, opgesluit gehou is.

Dit kom nou daarvan as niets iets wil wees! Ondergeskiktes wat dit nie waardig is nie, moenie wederregtelik probeer om die posisie van hul meerderes oor te neem nie.