Die landbouer het met groot sorg vir homself ‘n groterige vangnet geweef. Dié het hy oor ‘n lappie aarde wat hy as saailand voorberei het, geplaas. Al hierdie moeite is ook nie verniet nie – hy slaag sodoende daarin om ‘n hele klompie tarentale wat sy kosbare saad kom los skrop en uitpik, vas te vang. Dié word ‘n smaaklike vleiskossie en wat vir hom en sy gesin te veel is, kan hy onder die res van die plaaslike gemeenskap gaan verkwansel. Tussen al die kwaaddoeners kom hy egter ook af op ‘n fisant wat sy been in die net verstrik en seergemaak het. Die fisant pleit by die landbouer om tog net sy lewe te spaar: “Laat my, agbare heer en meester, groot asseblief vry. En as my gebreekte been, of my vrou en kinders se gebroke harte, nie die nodige bejammering in jóú ruim hart opwek nie, onthou dan tog net hoe goed ek nie nog my bejaarde ouers en grootouers versorg nie! Neem ook in ag dat ek ‘n edel fisant van onbesproke karakter is en nie een van hierdie verfoeilike pêrelhoenders nie, let maar net op na my slanke bou en sierlike verekleed. Om my vandag hier te wil dood maak, sal as ‘n aanklag teen die ganse mensdom opgeskryf staan. “Ek hoor wat jy sê, Fisant,” kom dit tussen die bestaansboer se lag deur, “maar wat ek sonder ‘n greintjie twyfel vir ‘n seker feit weet, is dat ek jou vaneffe midde die gure geselskap van hierdie spul rowers en buiters, die tarentale, gevang het. Julle is voëls van eenderse vere, man! Dis nooit anders nie! Daarom dan ook hoekom jy vandag saam met hulle gaan sterf en basta met die res.”
Friday, 26 April 2013
Die landbouer en die fisant