Monday, 8 August 2011

Die hond en sy weerkaatsing


In 'n onbewaakte oomblik gryp die hond vir homself 'n ongesonde groot stuk vleis by die slaghuis en sit af na die buitewyke van die dorp. Toe hy met die bruggie langs oor 'n spruitjie stap, merk hy die porsie vleis se weerkaatsing in die water op, en dít lyk vir hom veel groter as die homp vleis in sy bek. Hy laat los toe ook summier sy eie vleis en hap in die water af na die groter porsie. Toe die weerkaatsing plotseling in die troebel water verdwyn, soek-soek die hond na sy eie homp vleis van vaneffe, maar dit het intussen verdwyn – 'n raaf het dit opgeraap en is daarmee weg. Die hond verval in 'n weeklaag oor sy betreurenswaardige situasie:  “Wee my, ek wat so onnosel was om dit wat ek had, prys te wil gee vir 'n voorspooksel, 'n illusie, en op die ou einde toe met niks sit!”



Die fabel gaan oor gulsige en giere mense wat meer gryp as wat hulle nodig het.



In die Oosterse fabelskat is 'n soortgelyke verhaal van die jakkals wat die vleis in sy bek neersit om 'n groter vis te vang. Toe daag die aasvoël op, steel dit, en soos met die hond, eindig die jakkals toe ook met niks op.

In 'n ander weergawe uit die Ooste sien die jakkals kuikens waaragter hy aangaan. 'n Valkie kom steel dan sy vleis.

Reeds in die 5e eeu vC is daar 'n Griekse verwysing na hierdie fabel van Esopus. Die Oosterse weergawe dateer op sy beurt weer uit die 3e eeu vC. Wie eerste was, sal ons nie weet nie - dat daar oor en weer geleen is, is 'n feit.

Sunday, 7 August 2011

Die perdevlieg en die leeu


Die perdevlieg kom ewe vermakerig by leeu aangevlieg: “Jy is nie eens 'n aks sterker as ek nie, Leeu. Daarom is ek is trouens nie eers in die minste vir jou bang nie! Waarin is jou kamstige krag miskien geleë? In naels wat krap, en tande wat byt! Dis maar die tipe ding wat 'n flerrie ook inspan, stry sy die dag met haar man." En die insek kry net nie end nie:  "Ek is, om die waarheid te sê, sterker as jy, en as jy nie te bang is om toe stem nie, kan ons dit nou, hier, op die plek, uitbaklei om my punt te bewys." Met die gaan hy tot die aanval oor en piets vir leeu om sy neus waar sy gesig nie met ruie hare bedek is nie. En hy piets en hy piets en piets en piets. En al wat stomme leeu kon doen, was om homself onbeholpe met sy kloue te verweer – maar al waarin hy kon slaag was om homself stukkend en aan flarde te krap. Op die ou einde moes hy die stryd gewonne gee – perdevlieg het hom deeglik ore aangesit. Heel triomfantelik is perdevlieg toe ook daar weg –reguit, ongelukkig, in 'n spinnerak, waarin sy gou verstrengel raak, in. En terwyl die spinnekop haar tot maaltyd vir homself neem, betreur perdevlieg die feit dat sý, wat leeu van alle diere die loef afgesteek het, deur so 'n nietige skepseltjie soos 'n spinnekop aan haar einde moet kom.




Die Engelse vertaling praat van 'n “gnat”, wat saam met “midge” as “muggie” vertaal word. Kan muggies steek? Ek weet nie. Ek stel my voor 'n steekvlieg of perdevlieg pas beter in ons konteks.


Laura Gibbs se fotobron op Flickr

Die wingerdstok en die boerbok


Dit was oestyd en die wingerd het swaar gedra aan blare én trosse druiwe. 'n Bok wat daar verby gekom het, het aan die jong lote en nuwe blare begin knibbel en kort voor lank met vernietigingsug sy ongekende eetlus op die stok uitgewoed. Verontwaardig vra die wingerdstok toe: “Vir wat verrinneweer jy my so sonder enige rede? Is daar nie grasspriete vir jou om van te leef nie? Gelukkig is vergelding nie ver in die toekoms nie – kort voor lank sal jy as brandoffer aan die gode opgedra word, en ek sal die wyn verskaf wat jou hoof benat wanneer jy na die altaar gelei word."

Ons sê onder die Bybel se invloed “wat jy saai sal jy maai.” Die Grieke wou met hierdie fabel die gedagte tuisbring dat dit wat jy aan ander doen, ook met jou sal gebeur.

Arthur Rackham se illustrasie hier bo met die visuele personifikasie van die wingerdstok bewys net weer eens waarom ek elke keer bly is as ek een van sy illustrasies uit 1912 kan deel. Ook hierdie een is deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.