Monday, 17 October 2011

Die ystersmid en sy hond



Daar was hierdie hond wat sy dae in die ystersmid en sy vakleerlinge se werkswinkel deurgebring het. Terwyl hulle gewerk het, het hy rustig geslaap, maar die oomblik as hulle sit om te eet, het hy wakker geword en vriendelik gebedel vir kos. “Hoe is dit moontlik, “ kom dit van die smid, “dat jy dwars deur die gekap van ons hamers op die yster kan slaap, maar die oomblik dat jy ons tande hoor kou, dan is jy so wakker soos 'n akker!”

As iets ons nie raak nie, kan dit saam met die hele wêreld maar verbygaan, maar op die geringste dingetjie wat ons raak, slaan ons summier die hoogste ag.

Sunday, 9 October 2011

Die siek ou leeu, die wolf en die jakkals

Leeu het oud en siek geword; hy lê sterwend in sy grot. Al die diere, met uitsondering van Jakkals, kom lê besoek af om hulde te betoon. Wolf maak van die geleentheid gebruik om jakkals lelik swart te smeer by die moeilike ou leeu – jakkals is dan nou kwansuis sús disrespekvol en só oneerbiedig teenoor die diere se heer en meester... waarop jakkals, wat inderdaad siekebesoek kom doen, instap – net betyds om so die stertkant van wolf se vertelling te hoor. Leeu brul woedend maar jakkals vra dadelik toestemming om sy gedrag te mag verduidelik. “Na alles,” vra die jakkals, “wie van al die diere wat al besoek kom aflê het, het soos ek, jakkals, al om die wêreld gereis en hom deurkruis opsoek na 'n middel om u wonderbaarlik te genees – én een gekry? Natuurlik wil leeu dadelik weet wat dit is en jakkals verduidelik graag: “Jy moet 'n wolf lewend afslag en sy warm vel om jou gooi...” Maar voor jakkals nog verder kon uitwei, was wolf reeds dood en jakkals merk laggend op: “Jy moenie jou meester slegter laat voel as wat hy reeds voel nie, jy moet hom opbeur en rede gee om beter te voel”


Die storie wys dat ons maklik in slagysters trap wat ons vir ander stel.

Tuesday, 4 October 2011

Die donkie en die skoothond



Die donkie sien sy baas se skoothondjie aldag en heeldag al op en oor die man, dan in sy hande, dan in sy skoot, dan sommer op sy bors. Intussen geniet die keffer-gevreetjie ook net die beste kos, reguit van die baas se eie tafel af, dis nou benewens al die bederfies waarmee al wat bediende is, hom deur die loop van die dag volstop. Die donkie vertel homself toe: “As my meester en sy bediendes so gek is oor 'n verskoninkie vir 'n hond soos daardie een, hoeveel te meer sal hulle nie wees as ek my soos een gedra nie. Ek is immers na alles veel beter as enige hond, intelligenter, talentvoller, en, o, so veelsydig! Heilige fonteinwater en net die beste snitte en porsies sal vir my voorgesit word omdat ek in alle opsigte die hond se meerdere is. Dit het lankal tyd geword dat ek die respek wat my toekom begin afdwing.” Met dié laat los hy 'n harde, balkende hiéé-hô, en sit op 'n galoppie af na sy meester toe. Hy spring op en slaan sy twee voorpote oor die niksvermoedende man se skouers, met sy stink asem in die man se gesig begin hy hom met sy groot grys tong al op die wang en in die nek te lek – dit, terwyl sy hoewe van die man se skouers begin gly en sy klere aan flarde skeur. Gelukkig, vir die stomme plaasboer, begin hy ingee onder die donkie se gewig en kom die eerste plaasarbeiders, in antwoord op sy gille en krete, ook met stokke en pikke en grawe en byle aangehardloop. Tesame met die klippe wat hardop saamgesels, is dit ook nie lank nie of die arme donkie sien sy ma vir 'n eendvoël aan. Hulle is toe met hom, kwalik nog in die lewe, af stalle toe waar hy lank, baie lank, opgesluit gehou is.

Ondergeskiktes wat dit nie waardig is nie moenie wederregtelik probeer om die posisie van hul meerderes oor te neem nie.

Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

Sunday, 2 October 2011

Die wolwe en die beesvelle


Die trop honger wolwe spoor 'n spul beesvelle op wat in die rivier dryf. Hulle sal enige iets vir die velle gee, maar die diepte en vloei van die rivier maak dit vir hulle onmoontlik. Toe besluit hulle om maar die rivier leeg te suip en so by die velle uit te kom. Gelukkig sê 'n man vir hulle: “As julle al daardie water suip, sal julle verseker aan stukke bars en vrek neerslaan.”

Hierdie fabel kla diegene aan wat roekelose mal perde opsaal.

Selfs die antieke skrywers het nie uit een Aesopiese mond gepraat nie: Phaedrus en Plutarch vertel bv. van domonnosel honde wat dit op hulle neem om die rivier leeg te suip, en dan drink hulle hulle wel tot letterlike barstens toe. Vandaar ook die honde, in plaas van wolwe, in die boonste illustrasie.



Iewers langs die pad het die beesvelle ook 'n donkiekarkas geword, soos duidelik uit sommige visuele tekste spreek.


Die illustrasies is deur Laura G Gibbs op die internet in die openbare domein beskikbaar gestel.