Nadat Leeu homself tot koning van die diereryk uitgeroep het, wou hy sorg dat hy eendag onthou word vir sy offervaardige regverdigheid. Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en geregtigheid tot op die letter te laat geskied, sy dieet aansienlik verskraal en ingekort het om homself soos ‘n wafferse gras- en blaarvreter te gedra. Natuurlik kon hy nie die karnivoor in hom verloën nie en het hy stelselmatig begin om die een dier na die ander eenkant toe te roep om in die privaat vir hom te kom sê of sy asem stink of nie. En toe is dit eenvoudig: as jy sê die koning se asem stink, word jy opgevreet oor jy hom in die gesig beledig; sê jy dit stink nié, lieg jy, en word jy vir jou straf opgevreet. Nadat hy op hierdie manier met ‘n hele paar van sy onderdane afgereken het, het hy hom tot Aap gewend om na die gesteldheid van sy halitose te verneem. Aap is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en meld summier dat die kroon se bek die geur van kaneel adem, asof dit ‘n altaar vir die gode is. Leeu voel toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net vir bokveld toe te stuur en kom met ‘n nuwe strategie: hy maak of hy kwansuis vreeslik siek is en die koninklike dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die man se lastige naarheid op die maag voor. “Konings mag dan seker maar eet wat hulle wil,” kom dit van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan aapvleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie, toe word Aap om die lewe gebring om die koning op die pad van herstel te plaas.”
Of jy nou jou bek rek en of jy hom nou toesluit, jou straf is een en dieselfde.
Dan moet daar onthou word dat kaneel in die wêreld van die Klassieke Grieke en Romeine, selfs so laat as die Middeleeue, uiters kosbaar was, juis oor die lang roete wat dit moes volg vanaf die Indonesiese spesery-eilande, deur Arabië, na Nood-Afrika en die Mediterreense hawens.