Saturday, 31 December 2011

Die wolf en die jakkals


In 'n stadium is gebore 'n baie groot en sterk wolfwelpie wat sommer gou die ander van sy soort verbygesteek het in krag, grootte en flinkheid; ook nie lank nie, of die lede van die trop besluit eenparig om van hom as die “Leeu” te praat. Die stomme wolf wat nie sy eie grootte in verhouding tot die ander roofdiere kon takseer nie, het gemeen hulle was ernstig met hierdie aanspreekvorm; hy het sy ras verlaat en voortaan slegs met die leeus gemeng. 'n Jakkals wat die gebeure van naby gevolg het, maak toe hierdie opmerking: “Mag ek tog nooit eendag so 'n spektakel van myself maak soos jy met jou geswolle hoof, oordrewe trots en grootheidswaan nie – tussen die wolwe mag jy wel 'n leeu wees, maar glo my, tussen die leeus is jy niks anders as 'n wolfie nie.

Ons sê partykeer van iemand dat hy “'n man onder die seuns maar 'n seun tussen die manne” is.

Hierdie fabel het my aan diegene van wie ons dit sê, herinner.

Fabels bestaan in verskillende vorme voort. Hoewel steeds geensins 'n letterlike vertaling nie, sien die oudste vorm wat ons van hierdie fabel het, soos wat Babrius dit opgeteken het, in Afrikaans nader aan die volgende daar uit:



Daar was hierdie wolf wat soveel stewiger as die res van die trop opgeëindig het, dat hulle na hom as die Leeu onder hulle begin verwys het. Hierdie besonderse eer wat hom te beurt geval het, kon ons wolf se grootheidswaan egter nie bevredig nie – hy het sy trop verlaat en 'n plek onder die leeus ingeneem. 'n Jakkals het hom gespot en gesê: “Mag ek tog nooit so geswolle prentjie van myself kry, soos jy nie: jy mag op die oog af, tussen die wolwe, aan 'n leeu herinner, maar as die leeus hul eendag aan jou moet meet, sal jy sommer gou-gou terug gaan om niks anders as net 'n ou wolfie te wees nie.”

Tuesday, 20 December 2011

Die Wolf en die Skaap

‘n Wolf, erg verrinneweer en verniel deur ‘n trop van die boer se honde, lê op die rand van die dood in sy lêplek. Uitgehonger en dors roep hy ‘n Skaap wat daar verby gaan nader met die versoek om vir hom ‘n lekseltjie water in die spruit daar naby te gaan haal. “Want,” gaan hy voort, “as jy my eers van ‘n bietjie water voorsien het, sal ek self vir my eie vleiskos kan sorg.” “Ja, nè,” kom dit van die Skaap, omdat ‘n mens vinnig deur skynheilige praatjies sien, “en as ek eers jou dors geles het, sal jy seker op my vleis reken om jou honger ook te stil.”


Friday, 16 December 2011

Die vegtende Hane en die Arend


Twee Hane veg allervreeslik en verskriklik om die baas op die plaaswerf én onder die henne te kan wees. Uiteindelik slaag die een daarin om as oorwinnaar uit die stryd te tree. Die verslane Haan word oorwonne van die werf verdryf, sluip daar weg en gaan kruip in ‘n stil hoekie weg. Die oorwinnaar, aan die ander kant, vlieg met sy flappende veelkleurige vlerke tot op ‘n baie hoë muur daar naby en verkondig met ‘n luidkeelse gekraai aan al wat leef en beef sy heerskappy op die plaaswerf . Met dié kom ‘n arend hoog bo die werf verby gevlieg, hy hoor die gedoente, duik af, gryp die Haan in sy kloue en is met hom daar weg. Die verslane Haan het onmidellik uit sy stil hoekie gekom en onbestrede tot in lengte van dae op die plaaswerf en oor die henne geheers.

As ons na die woordoortolligheid, die woord-overdadigheid, hier bo kyk, is dit duidelik dat ek die oorvertel van hierdie fabel baie geniet het. In sy suiwerste, en oorspronklike Griekse vorm, word die boodskap egter net so goed en met aansienlik minder omhaal van woorde tuisgebring:

Twee hane het 'n groot baklei gekry. Die verloorder het in 'n hoekie gaan wegkruip; terwyl die oorwinnaar homself met flappende vlerke op die nok van die dak gaan tuismaak het en sy oorwinning luidkeels uitgekraai het. 'n Arend swiep toe neer en is met hierdie haan daar weg.

Die fabel wys dat jy nie grootkop moet rondloop as jy skielik 'n bietjie sukses gesmaak het nie.

Ek hou baie van die boonste inleidende illustrasie, miskien suiwer omdat dit so oud is. Fabelillustrasies soos die eerste een hier onder staan my glad nie aan nie.


Selfs ek wat min van 'n plaaswerf, of ornitologie, weet, weet dat wat hier onder uitgebeeld word, darem baie dik vir 'n daalder is:



Die volgende foto het die vertaling wat ek in die eerste, overdadige oorvertel van die fabel gebruik het, vergesel. Dis duidelik dat hierdie vertaling nie gehou het by die verwysing na die dak se nok nie.


Dat sommige vertalers wel die oorspronklike Grieks onder oog had, is duidelik:


Die wyse waarop die arend in die volgende illustrasie onderspeel word, die spanning wat daardeur opgebou word, is vir my amper meer effektief as die oorbeklemtoning van die naderende gevaar in die daaropvolgende illustrasie:




Ek weet nie of ek my dit verbeel nie, maar dit wil tog vir my voorkom asof die donker kolletjie in die hoogste agterste boomtop die vae buitelyne van die arend kan wees:


Of miskien is dit net toevallig.

Die illustrasies is hier deur Laura G Gibbs toeganklik gemaak.






Thursday, 15 December 2011

Krap en Jakkals



Krap trek toe skielik sy neus op vir dit wat die see hom bied en gaan soek sy kos op land. Maar voor hý kos kan kry, kry Jakkals hóm, en vreet hom op. Net voor hy sterf besef Krap egter dat dit sy verdiende loën is, as hy sê:“Ek is tog ‘n seedier! Wat het ek nou op land verloor; wat anders as my dood, het ek op land loop soek?

Die fabel wil maar net sê dat jy gedoem is om te faal as jy jou eie bekende en gebaande weë verlaat en ‘n besigheid volg waarvan jy niks onder die son weet nie.

Monday, 5 December 2011

Die Sprinkaan en die Uil




‘n Uil, gewoond daaraan om snags te jag en bedags te slaap, word helder oordag deur ‘n kriek se getjirp uit sy slaap gehou en hy vra hom mooi asseblief tog stil te bly. Die Sprinkaan weier om toe te gee, of selfs net ‘n bietjie eenkant toe te skuif, trouens, hy tjirp gevul met eiewaan net al hoe vinniger en harder, hoe meer die Uil hom smeek om stil te raak. Dit is toe dat die Uil van strategie verander: “Met die dat ek vanweë die skone klanke wat jou bene voorbring, en glo my dis mooier as die mooiste vioolmusiek, nie kan slaap nie, gaan ek my daarmee saam verlustig in die soete nektar wat een van die gode my onlangs geskenk het. Voel vry om jou by my aan te sluit, dis nou as jy van nektar hou, en dan geniet ons dit saam.” Die kriek, nie net dors nie, maar ook daartoe verlei deur die Uil se aanprysing van sy mooi musiek, vlieg met groot entoesiasme die lug in om by die Uil aan te sluit. Dis toe ook mooi op hierdie punt dat die Uil uit haar skuilplek kom, afduik, die kriek doodmaak en verder gaan slaap sonder om hom eers te eet, want Uile jag snags.


Dit was 'n Victoriaanse oorvertel van die fabel. Die klassieke brondokument klink effe anders as ons dit vertaal:


Diegene wat nie die nodige respek en agting toon waar dit toekom nie, word gewoonlik lelik in die bek geruk oor hul verwaandheid.


Die kriek was helder oordag besig om die allervreeslikste geraas aan te jaag. Dit was tot groot ergenis van die uil wat daaraan gewoond was om in die donkerte van die nag op jag te gaan en bedags iewers in 'n hol boomstam te slaap. Daarom dan ook dat die uil die kriek vriendelik versoek om stil te bly, Dit het die kriek egter net aangespoor om 'n nog groter geraas op te sit. 'n Tweede keer rig die uil 'n vriendelike versoek, en 'n tweede keer draai die kriek die desibels aan. Toe die uil besef dat mooipraatjies niks aan die saak gaan doen nie, juis omdat die kriek hom so aflag, besluit hy om die bron van ergernis dan maar ‘n lelike streep te trek. “Met die dat ek van al jou gesingery, wat natuurlik aan engelegesang herinner,  nie eers 'n uiltjie kan knip nie – wat nog te sê 'n oog kan toemaak,” kom dit van die uil, “het ek besluit om my te verlekker in die soete ambrosia  wat een van die gode my as present gegee het. As dit jou welgeval, sal dit vir my 'n voorreg wees as jy dit saam met my geniet." Die kriek willig toe dadelik in, nie net was hy vreeslik dors nie, maar ook besonders gevlei deur die heuningkwas wat uil hom om die mond gesmeer het. Hy vlieg dan toe ook dadelik op na waar die uil hom bevind. Die uil maak hom toe summier tuis voor die ingang na die gat in die boom – dis om te keer dat die kriek nie uitkom nie – en bring 'n einde, nie net aan die kriek se geraas nie, maar aan die kriek se lewe. Dit waartoe die kriek nie in hierdie lewe kon instem nie, het hy op die ou einde toe wel in sy dood bemeester.








Thursday, 1 December 2011

Die skaapwagter en sy wolf


Die skaapwagter het toe die klein wolfwelpie wat hy in die veld teëgekom het, hans grootgemaak; en toe die dingetjie bietjie ouer was, selfs geleer om van die bure se lammers te gaan vang. Toe die wolf hierdie kuns egter die dag eers vervolmaak het, noem hy aan die skaapwagter: “Noudat jy my geleer het om te steel, pas tog net op dat baie van jou eie skape nie ook op soortgelyke wyse verdwyn nie.

En dit is hoe dit is met ingebore booswigte is – hulle draai selfs teen hul eie leermeesters sodra hulle touwys gemaak is in steel en lieg en bedrieg.

fotobron