‘n Uil, gewoond daaraan om snags te jag en bedags te slaap, word helder oordag deur ‘n kriek se getjirp uit sy slaap gehou en hy vra hom mooi asseblief tog stil te bly. Die Sprinkaan weier om toe te gee, of selfs net ‘n bietjie eenkant toe te skuif, trouens, hy tjirp gevul met eiewaan net al hoe vinniger en harder, hoe meer die Uil hom smeek om stil te raak. Dit is toe dat die Uil van strategie verander: “Met die dat ek vanweë die skone klanke wat jou bene voorbring, en glo my dis mooier as die mooiste vioolmusiek, nie kan slaap nie, gaan ek my daarmee saam verlustig in die soete nektar wat een van die gode my onlangs geskenk het. Voel vry om jou by my aan te sluit, dis nou as jy van nektar hou, en dan geniet ons dit saam.” Die kriek, nie net dors nie, maar ook daartoe verlei deur die Uil se aanprysing van sy mooi musiek, vlieg met groot entoesiasme die lug in om by die Uil aan te sluit. Dis toe ook mooi op hierdie punt dat die Uil uit haar skuilplek kom, afduik, die kriek doodmaak en verder gaan slaap sonder om hom eers te eet, want Uile jag snags.
Dit was 'n Victoriaanse oorvertel van die fabel. Die klassieke brondokument klink effe anders as ons dit vertaal:
Diegene wat nie die nodige respek en agting toon waar dit toekom nie, word gewoonlik lelik in die bek geruk oor hul verwaandheid.
Die kriek was helder oordag besig om die allervreeslikste geraas aan te jaag. Dit was tot groot ergenis van die uil wat daaraan gewoond was om in die donkerte van die nag op jag te gaan en bedags iewers in 'n hol boomstam te slaap. Daarom dan ook dat die uil die kriek vriendelik versoek om stil te bly, Dit het die kriek egter net aangespoor om 'n nog groter geraas op te sit. 'n Tweede keer rig die uil 'n vriendelike versoek, en 'n tweede keer draai die kriek die desibels aan. Toe die uil besef dat mooipraatjies niks aan die saak gaan doen nie, juis omdat die kriek hom so aflag, besluit hy om die bron van ergernis dan maar ‘n lelike streep te trek. “Met die dat ek van al jou gesingery, wat natuurlik aan engelegesang herinner, nie eers 'n uiltjie kan knip nie – wat nog te sê 'n oog kan toemaak,” kom dit van die uil, “het ek besluit om my te verlekker in die soete ambrosia wat een van die gode my as present gegee het. As dit jou welgeval, sal dit vir my 'n voorreg wees as jy dit saam met my geniet." Die kriek willig toe dadelik in, nie net was hy vreeslik dors nie, maar ook besonders gevlei deur die heuningkwas wat uil hom om die mond gesmeer het. Hy vlieg dan toe ook dadelik op na waar die uil hom bevind. Die uil maak hom toe summier tuis voor die ingang na die gat in die boom – dis om te keer dat die kriek nie uitkom nie – en bring 'n einde, nie net aan die kriek se geraas nie, maar aan die kriek se lewe. Dit waartoe die kriek nie in hierdie lewe kon instem nie, het hy op die ou einde toe wel in sy dood bemeester.