Tuesday, 28 February 2012

Die ou man, die donkie en die stel saalsakke


Behalwe dat die baas nou ‘n ander naam het, hou ‘n regeringsverandering vir die armes geen verandering in nie.

‘n Lafhartige ou man is met sy donkie ‘n weiveld in. Met die eerste tekens van ‘n vyandelike mag se opmars, het die ou man hom uit sy geloof geskrik en die donkie probeer aanspoor om vinnig weg te hardloop sodat hulle nie gevange geneem word nie. Die donkie wil toe heel koppig weet:  “Sê bietjie vir my – dink jy miskien vir een oomblik die veroweraar gaan my nou skielik met twee stelle saalsakke in plaas van een opsaal?” Die ou man antwoord natuurlik toe ontkennend, waarop die donkie afhaak:  “So watter verskil gaan dit nou aan my maak wie my meester is – ek sal altyd ‘n enkele sware stel saalsakke moet dra, ongeag die naam van my baas.”

Die donkie en sy meesters


Daar was hierdie donkie wat onder ‘n tuinier diens gedoen het. Omdat hierdie tuinier die donkie baie hard laat werk het, en dit met min kos, het die donkie hom tot die gode gewend om hom tog van ‘n ander meester te voorsien. So beland die donkie toe in die hande van ‘n ambagsman – maar hierdie toedrag van sake was vir die donkie nog minder aanvaarbaar; nou moes hy nóg groter en swaarder vragte as van te vore dra. Weer wend hy hom tot die gode. Die gode slaan weer eens ag en die donkie bevind hom ‘n enkele saketransaksie verder in diens van ‘n leerlooier. Maar o, liewe aarde, toe die donkie eers sien waaruit hierdie nuwe baas van hom sy brood en botter verdien, roep hy uit: “O, wee, ek sou, oorwerk en uitgehonger, beter daar aan toe gewees het in die koue van enige een van my vorige meesters! Hier waar ek nou is, gaan hulle my nog afslag ook as ek die dag eers dood is. En ek gaan beslis geen ordentlike begrafnis op die koop toe ook hê nie!”

Die storie wys maar net dat ons ons vorige base die meeste mis, sodra ons die nuwes beter en van nader leer ken het.

Monday, 27 February 2012

Die donkie, die wildedonkie en die leeu


‘n Wildedonkie sien ‘n pakdonkie gebukkend onder sware vrag en begin die spot met hom dryf: “Hoe gelukkig is ek nie – ek is vry van gevangeskap. Ek hoef my nie aan ‘n ander af te sloof vir oorlewing nie – ek het die grasvlaktes en die groen heuwels. Jy, aan die ander kant is iemand, is op iemand anders aangewese om jou te voer; dit terwyl jy uitgelewer is aan slawerny en houe wat op jou reën.” Op hierdie punt sluit ‘n leeu op dien toneel aan. Maar, met die pakdonkie se eienaar wat vlak langs hom staan, het hy niks aan hom gedoen nie. Die wildedonkie, op sy beurt, het vingeralleen gestaan – hy is aangeval, gedood en verorber.

Die storie wil maar net wys dat die koppige en hardnekkige halsstarriges onder ons, die boumeesters van hul eie ondergang is – hulle word so meegevoer deur hul eie hardkoppigheid dat hulle later weier om bystand te ontvang, of te vra.

Die sprong tussen die storie en die boodskap is vir my wyd, maar dis nie 'n sprong wat later jare gemaak is nie, dit was so daar toe Syntipas dit teen ongeveer 100 c.C. aangeteken het.

Sunday, 26 February 2012

Die pou verkies tot koning


Op ‘n saamtrek van ‘n groot groep voëls is eendag lank vergadering gehou en hewig gedebatteer oor wie onder hulle die beste leier sou uitmaak. Pou is toe van mening dat hy die beste uitgeknip is vir die rol van die koning:  “Ek is nie net in die fleur van my lewe nie, ek is op die koop toe daarby nog uitermate pragtig ook.” Terwyl die ander voëls heel inskiklik is met Pou se voorstel, kom daar van iewers tussen hulle ‘n raaf te voorskyn en konfronteer die pou: “Sê my bietjie, as jy sou koning sou word, wat gaan gebeur as ‘n arend ons sou aanval? Is jy sterk genoeg om sy aanval af te weer?”

Die fabel wys maar net dat leierskap nie in glans- en luisterrykheid sit nie, maar bedoel is vir diegene met uitstaande fisiese en geestelike eienskappe en trekke.


Saturday, 25 February 2012

Die skilpad en die arend


Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie verwyt ou Skilpad ‘n swerm seevoëls naby hom op die rotse vir die feit dat nie een van hulle bereid is om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar bo in die lug rondgehang het, hoor Skilpad se gekerm en kom vind uit wat fout is. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend weet, “as ek jou help om die wonder van vlieg te ervaar?” Hy bied aan om Skilpad saam met hom die lug in op te neem en en daar met hom te sweef, maar teen ‘n prys. Skilpad is ook nie links nie en beloof sommer al die skatte van die see. “In daardie geval dan, sal ek jou nie net laat voel hoe dit is om te vlieg nie, sal ek jou daarna selfs leer om die kuns van vlug te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad in sy skerp kloue. Hy neem hom tot amper in die wolke voor hy hom laat los en wag dat Skilpad hom morsdood te pletter teen die rotse val. Wel wetend dat hy die volgende dis op Arend se spyskaart gaan wees, roep Skilpad uit: “Dis my verdiende loën wat nou besig is om met my te gebeur. Wat het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die wolke moes kom soek!


As mens altyd moet kry waarna hy wens, sal hy meer dikwels as nie, juis daardeur ruïneer word.




In die Oosterse fabeltradisie word hierdie storie ook vertel, maar met 'n skilpad en sy twee geveerde vriende. Hulle neem gesamentelik 'n stok aan twee punte in die bek, skilpad moet in die middel vasbyt, en hulle neem hom vir 'n vlug. Skilpad kan sy groot mond dan natuurlik nie gesluit hou nie en val hom dood. In party weergawes het sy ydelheid tot gevolg dat hy verlei word om te wil praat, val hom dood en word opgevreet.

Die eerste drie illustrasies is van Oosterse oorsprong en vir my baie mooi. Die laaste een uit die 1400's is Westers van oorsprong.









Ook in die Westerse Esopus-tradisie is daar verskillende invalshoeke, klemverskuiwings en selfs nuwe en ander rolspelers.

Die vertelling hier bo was Babrius se optekening van die gebeure (iewers tussen 300 v.C. en 300 n.C.).



Uit ongeveer 100 n.C. dateer die volgende weergawe:

Die arend het eendag strandlangs gedrentel met die oog daarop om vis te vang. Op die ou einde het sy nie vis gevang nie, maar op ‘n skulp afgekom – en binne in die skulp was ‘n skilpad. Toe sy egter wil weglê aan ‘n feesmaal, het die skulp sowel haar bek as haar kloue daarvan verhoed om by die skilpad uit te kom. Dit maak nie saak hoe hard en hoe lank sy gestoei het nie, sy kon maar net nie by die skilpad uitkom nie. Sy was op die punt om haar vangs eenkant te gooi, toe ‘n kraai op haar afstap en sê: “Maar dis mos koningskos daardie – jy kan dit onder geen omstandighede sommer net weggooi nie.” “Helaas,” kom dit van die arend, “die verpakking van hierdie dis maak dit ‘n onbegonne taak om daarby uit te kom – dis hopeloos te glad, al my moeite ten spyt, soos jy self kan sien, kry ek steeds niks uitgerig nie.” Hierop antwoord die kraai: “As jy beloof om die vangs met my te deel, sal ek jou wys hoe om daarby uit te kom.” “Nou vertel my dadelik,” kom dit onmiddellik van die arend, “dan sit ons saam vir die feesmaal aan.” Die skelm kraai kom toe met ‘n oplossing vorendag:  “Wat jy moet doen is om hoog in die lug in op te vlieg. Laat los dan die vangs hoog bo ‘n spul rotse – die skulp sal met die slag teen die rotse oopbreek, jy sal by die skilpad kan uitkom en jou honger bevredig.” Die arend het dadelik ingestem en die skilpad getrou aan kraai se voorstel hoog bo ‘n spul rotse uit haar kloue laat los. Die kraai, wat onder bly wag het, het die skilpad, die oomblik toe dié homself teen die rotse te pletter spat, gegryp, opgevreet en so die arend lelik uitoorlê.

Die storie agter die storie:  Op soortgelyke wyse kan skelms die niksvermoedendes om die bos lei en met hul slinkse planne uitrig wat harde werk en brute krag nie eers reg kon kry nie.





 
‘n Sedelessie wat latere vertellers hieruit haal is:  Liefdadigheid dien dikwels eers jou eie huis – mense is net gaaf en vriendelik met ander as hulle iets daaruit kan wen.

Uit ongeveer dieselfde tyd  (100 n.C.) dateer Phaedrus se vertelling – en hy val weg met die storie agter storie:

Niemand is weerbaar teen die magtige hooggeplaastes nie, en as daar boonop nog kwaadwillige raadgewers ook bykom, sal enige iemand wat hulle ten prooi val, vernietig word.

‘n Arend het ‘n skilpad hoog saam met haar die lug in opgeneem, maar omdat die die skilpad se vleis veilig in sy dop opgesluit sit, het dit vir die skilpad geen gevaar ingehou nie; vir die arend ook geen voordeel nie. ‘n Kraai het in tussentyd by twee aangesluit en noem in die verbyvlieg aan die arend:  “Wel kyk dan nou net daar – wat ‘n lieflike vangs het jy nie in kloue opgesluit nie! Net jammer dat die gewig daarvan jou op die lange duur net uit sal put – behalwe nou as jy my toelaat om jou te wys wat om daarmee te doen.” En toe die arend eers beloof het om sy vangs met die kraai te deel, kom die kraai met die voorstel om die skilpad hoog bo die rotse te los sodat hy homself te pletter kan val. Met stukkende dop, sal die sagte vleis maklik verorber kan word. Die arend het hom laat oorhaal deur hierdie voorstel van die kraai, hy het die opbrengs ruimskoots met sy leermeester gedeel. So het dit gebeur dat iets wat selfs so lieflik deur ‘n gawe van die natuur beskerm word, teen hierdie twee se boosheid nie opgewasse was nie en ‘n jammerlike dood gesterf het.


Die interessantste, en presies teenoorgestelde, weergawe van die gebeure sal ons tien teen een nooit weet nie.

In 'n dramateks uit die vyfde eeu v.C. deur Achaeus, is egter die volgende verwysing na 'n fabel waarvan die Weste nog nooit weer die teks kon opspoor nie:

En so het die swakkere die flinke ore aangesit - net soos die skilpad die arend ore aangesit het.

Friday, 24 February 2012

Die arend en die vos


Arend en Vos het dik vriende geword. Dit het ongelukkig ook net gehou tot Arend onder Vos se welpies ingevaar het om sy honger tot ‘n end te bring. Met die dat Vos onder die son niks soortgelyks aan Arend kon aanrig om hom terug te kry nie, het sy haar maar tot die gode gewend om reg en geregtigheid te laat geskied. En toe, op ‘n mooi dag, terwyl die brandoffer op die altaar brand, vlieg Arend daarop af, gryp ‘n porsie van die gloeiende vleis en sit daarmee af na haar nes vol kuikens. Daar by die honger bekkies aangekom was die vleis egter nog so warm dat die swakke kuikens, die oomblik toe hulle dit vreet, summier gevrek het.

Hierdie fabel het vir die mense gewys dat selfs al kan swak en nietige mense op hul eie niks aan die magtige en die bose doen nie, sal die gode ingryp en  in reaksie op die slagoffers se gebede straf uitdeel.

As die bietjie wat ons van Syntipas, die man wat hierdie weergawe van die fabel aangeteken het, weet, waar is, dan was hy ‘n Indiese filosoof en skrywer wat om en by 100 v.C. geleef het. Die mensdom weet vandag nog van die man op grond van ‘n Griekse vertaling van die fabels wat hy aangeteken het.


‘n Ander bekende variasie, nader na ons eie tyd, wil dit nie hê dat die kuikens van die te warm kos gesterf het nie, maar dat hulle en hul nes in ligte laaie gelaat is deur ‘n brandende kooltjie wat saam met die porsie offervleis daar aangekom het.

100 n.C., uit die Latynse pen van Phaedrus, sien die storie, wat hierna volg,  anders daar uit.

Die oudste fragmente van die teks dateer egter uit so vroeg as 650 v.C. Die Griekse dramaturg, Aristophanes, het ook in 414 v.C. ‘n verwysing na hierdie fabel in een van sy komedies ingewerk:

Selfs die onder ons met alle mag in pag moet ligloop vir hul ondergeskiktes; die onderdane se vindingrykheid kan weerwraak dikwels moontlik maak.

Daar was mos een keer hierdie arend wat ‘n vos se welpies opgeraap het en met hulle afgesit het na haar nes toe – juis om hulle vir haar eie kuikens te voer. Die vos-ma het vervaard grondlangs probeer byhou en al die pad gesmeek dat die arend tog haar kinders moes los. Die arend, baie selfversekerd en voldaan, het haar net uit die hoogte afgelag. Met die gryp die vos ‘n gloeiende kooltjie van die brandstapel waar ‘n altaar voorberei was, en omring die boom waarin die arend se kuikens op haar wag met vuur. Sy bring nie net die arendkuikens se lewe in gevaar nie, maar is ook bereid om haar eie lewe in die sirkel van vlamme op te offer. Ten einde haar eie kinders egter te kon red, moes die arend maar bes gee en het sy eers die vos se welpies ongedeerd gelaat voor sy opgevlieg het om haar broeisel uit die kake van die dood te bevry.


Hier het die arendmoeder die nes in ligte laaie gehad


Nie net die vos se vindingrykheid nie, maar ook sy vaardigheid om boom te klim, wat my hier verbaas.


Hier dreig die ma vos om brand te stig. Die welpies agter in die grot is opvallend,


Hierdie is en bly seker die ergste oomblikke in enige ma of pa se lewe.

Thursday, 23 February 2012

Perdeby en slang



Die perdeby kry toe sy sit op die slang se kop en spring vir 'n vale met sy angel onder om in. Die slang, in onuithoudbare pyn tot die dood toe gewond en nie meer in staat om sy aanvaller af te skud nie, sien 'n aankomende wa en seil in die pad in. Hier kry hy sy kop onder die aankomende wiele met die woorde:  “Ten minste gaan ek nie alleen nie, en is dit saam met my vyand dat ek gaan.”

'n Fabel dan vir diegene wat hul probleme met hul vyande deel.

Monday, 13 February 2012

Die donkie en die padda

fotobron
Vleilangs oppad met 'n drag hout op sy rug, gly die donkie en beland in die water. Oor hy met die sware vrag op sy rug nie sommerso net kan opkom nie, sit die donkie die allervreeslikste keel op. Sy luide weeklaag, en amperse treurmare oor die gebeure toe hy eers weer op sy voete is, noop een van die paddas in die vlei om op te merk:  “Liewe ouers! As dit is hoe jy te kere gaan oor nie eers in minuut in die water nie, wat sal jy doen as jy soveel van jou tyd in die water moet deurbring soos ons!

Iemand wat hom nie sommer laat onderkry deur swaarkry of die een of ander klip in sy pad nie, kan hierdie fabel vertel aan 'n lui persoon wat hom laat onderkry deur die geringste klippertjie onder sy voet.