Daar was hierdie donkie wat onder ‘n tuinier diens gedoen
het. Omdat hierdie tuinier die donkie baie hard laat werk het, en dit met min
kos, het die donkie hom tot die gode gewend om hom tog van ‘n ander meester te
voorsien. So beland die donkie toe in die hande van ‘n ambagsman – maar hierdie
toedrag van sake was vir die donkie nog minder aanvaarbaar; nou moes hy nóg
groter en swaarder vragte as van te vore dra. Weer wend hy hom tot die gode.
Die gode slaan weer eens ag en die donkie bevind hom ‘n enkele saketransaksie
verder in diens van ‘n leerlooier. Maar o, liewe aarde, toe die donkie eers
sien waaruit hierdie nuwe baas van hom sy brood en botter verdien, roep hy uit:
“O, wee, ek sou, oorwerk en uitgehonger, beter daar aan toe gewees het in die koue van enige een van my vorige meesters!
Hier waar ek nou is, gaan hulle my nog afslag ook as ek die dag eers dood is. En
ek gaan beslis geen ordentlike begrafnis op die koop toe ook hê nie!”
Die storie wys maar
net dat ons ons vorige base die meeste mis, sodra ons die nuwes beter en van
nader leer ken het.