Saturday 25 February 2012

Die skilpad en die arend


Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie verwyt ou Skilpad ‘n swerm seevoëls naby hom op die rotse vir die feit dat nie een van hulle bereid is om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar bo in die lug rondgehang het, hoor Skilpad se gekerm en kom vind uit wat fout is. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend weet, “as ek jou help om die wonder van vlieg te ervaar?” Hy bied aan om Skilpad saam met hom die lug in op te neem en en daar met hom te sweef, maar teen ‘n prys. Skilpad is ook nie links nie en beloof sommer al die skatte van die see. “In daardie geval dan, sal ek jou nie net laat voel hoe dit is om te vlieg nie, sal ek jou daarna selfs leer om die kuns van vlug te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad in sy skerp kloue. Hy neem hom tot amper in die wolke voor hy hom laat los en wag dat Skilpad hom morsdood te pletter teen die rotse val. Wel wetend dat hy die volgende dis op Arend se spyskaart gaan wees, roep Skilpad uit: “Dis my verdiende loën wat nou besig is om met my te gebeur. Wat het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die wolke moes kom soek!


As mens altyd moet kry waarna hy wens, sal hy meer dikwels as nie, juis daardeur ruïneer word.




In die Oosterse fabeltradisie word hierdie storie ook vertel, maar met 'n skilpad en sy twee geveerde vriende. Hulle neem gesamentelik 'n stok aan twee punte in die bek, skilpad moet in die middel vasbyt, en hulle neem hom vir 'n vlug. Skilpad kan sy groot mond dan natuurlik nie gesluit hou nie en val hom dood. In party weergawes het sy ydelheid tot gevolg dat hy verlei word om te wil praat, val hom dood en word opgevreet.

Die eerste drie illustrasies is van Oosterse oorsprong en vir my baie mooi. Die laaste een uit die 1400's is Westers van oorsprong.









Ook in die Westerse Esopus-tradisie is daar verskillende invalshoeke, klemverskuiwings en selfs nuwe en ander rolspelers.

Die vertelling hier bo was Babrius se optekening van die gebeure (iewers tussen 300 v.C. en 300 n.C.).



Uit ongeveer 100 n.C. dateer die volgende weergawe:

Die arend het eendag strandlangs gedrentel met die oog daarop om vis te vang. Op die ou einde het sy nie vis gevang nie, maar op ‘n skulp afgekom – en binne in die skulp was ‘n skilpad. Toe sy egter wil weglê aan ‘n feesmaal, het die skulp sowel haar bek as haar kloue daarvan verhoed om by die skilpad uit te kom. Dit maak nie saak hoe hard en hoe lank sy gestoei het nie, sy kon maar net nie by die skilpad uitkom nie. Sy was op die punt om haar vangs eenkant te gooi, toe ‘n kraai op haar afstap en sê: “Maar dis mos koningskos daardie – jy kan dit onder geen omstandighede sommer net weggooi nie.” “Helaas,” kom dit van die arend, “die verpakking van hierdie dis maak dit ‘n onbegonne taak om daarby uit te kom – dis hopeloos te glad, al my moeite ten spyt, soos jy self kan sien, kry ek steeds niks uitgerig nie.” Hierop antwoord die kraai: “As jy beloof om die vangs met my te deel, sal ek jou wys hoe om daarby uit te kom.” “Nou vertel my dadelik,” kom dit onmiddellik van die arend, “dan sit ons saam vir die feesmaal aan.” Die skelm kraai kom toe met ‘n oplossing vorendag:  “Wat jy moet doen is om hoog in die lug in op te vlieg. Laat los dan die vangs hoog bo ‘n spul rotse – die skulp sal met die slag teen die rotse oopbreek, jy sal by die skilpad kan uitkom en jou honger bevredig.” Die arend het dadelik ingestem en die skilpad getrou aan kraai se voorstel hoog bo ‘n spul rotse uit haar kloue laat los. Die kraai, wat onder bly wag het, het die skilpad, die oomblik toe dié homself teen die rotse te pletter spat, gegryp, opgevreet en so die arend lelik uitoorlê.

Die storie agter die storie:  Op soortgelyke wyse kan skelms die niksvermoedendes om die bos lei en met hul slinkse planne uitrig wat harde werk en brute krag nie eers reg kon kry nie.





 
‘n Sedelessie wat latere vertellers hieruit haal is:  Liefdadigheid dien dikwels eers jou eie huis – mense is net gaaf en vriendelik met ander as hulle iets daaruit kan wen.

Uit ongeveer dieselfde tyd  (100 n.C.) dateer Phaedrus se vertelling – en hy val weg met die storie agter storie:

Niemand is weerbaar teen die magtige hooggeplaastes nie, en as daar boonop nog kwaadwillige raadgewers ook bykom, sal enige iemand wat hulle ten prooi val, vernietig word.

‘n Arend het ‘n skilpad hoog saam met haar die lug in opgeneem, maar omdat die die skilpad se vleis veilig in sy dop opgesluit sit, het dit vir die skilpad geen gevaar ingehou nie; vir die arend ook geen voordeel nie. ‘n Kraai het in tussentyd by twee aangesluit en noem in die verbyvlieg aan die arend:  “Wel kyk dan nou net daar – wat ‘n lieflike vangs het jy nie in kloue opgesluit nie! Net jammer dat die gewig daarvan jou op die lange duur net uit sal put – behalwe nou as jy my toelaat om jou te wys wat om daarmee te doen.” En toe die arend eers beloof het om sy vangs met die kraai te deel, kom die kraai met die voorstel om die skilpad hoog bo die rotse te los sodat hy homself te pletter kan val. Met stukkende dop, sal die sagte vleis maklik verorber kan word. Die arend het hom laat oorhaal deur hierdie voorstel van die kraai, hy het die opbrengs ruimskoots met sy leermeester gedeel. So het dit gebeur dat iets wat selfs so lieflik deur ‘n gawe van die natuur beskerm word, teen hierdie twee se boosheid nie opgewasse was nie en ‘n jammerlike dood gesterf het.


Die interessantste, en presies teenoorgestelde, weergawe van die gebeure sal ons tien teen een nooit weet nie.

In 'n dramateks uit die vyfde eeu v.C. deur Achaeus, is egter die volgende verwysing na 'n fabel waarvan die Weste nog nooit weer die teks kon opspoor nie:

En so het die swakkere die flinke ore aangesit - net soos die skilpad die arend ore aangesit het.