Die volgende fabel herinner sterk aan ‘n soortgelyke een wat baie meer bekend is in ons eie tyd.
Die mier en die miskruier
Om proviand vir die winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye agter allerhande soorte graan aan geskarrel. ‘n Miskruier wat hom heeltyd dopgehou het, het tot die gevolgtrekking gekom dat die mier ‘n hoogs ongelukkige stomme drommel moet wees oor hy die ganske dag om moes werk en homself nie eers een keer, soos al die ander diere, ‘n oomblik van rus gegun het nie. Maar op die miskruier se snedige opmerkings en gevolgtrekkings het die mier geen ag geslaan nie. Kom die winter egter, en die eerste reënbuie spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is: “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd terwyl ek besig was met my die spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by te kom bedel nie!”
Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.
Ek kan my nie die Britse platteland met miskruiers voorstel nie, maar daar sal wees. Ek kan my egter nog minder Victoriaanse kinderboeke met prentjies van miskruiers daarin voorstel. Daarom miskien dat die storie met ‘n sprinkaan as hoofrolspeler bekendheid verwerf, terwyl die stomme miskruier in die vergetelheid versink het:
Die mier en die sprinkaan
Gedurende die wintermaande het ‘n mier oorleef op die graan wat hy gedurende die somermaande vir homself vir later opsy gesit het. ‘n Sprinkaan kom klop toe bakhand aan met die versoek dat die mier van sy kos moet deel. Die mier wil toe weet: “En wat het jy die hele somer lank gedoen – aangesien jy duidelik nie besig was om kos op te gaar vir later se eet nie?” Die sprinkaan antwoord toe: “Omdat ek so lekker gesing het, het ek nie nog tyd gehad om aan oes ook te dink nie.” Die mier kon maar net vir die sprinkaan se antwoord lag en haar voedselvoorraad nog verder onder die grond gaan wegsteek. “Omdat jy die hele somer soos ‘n sot om gesing het, moet jy nou maar self sien-kom-klaar om die ganske winter op eie beentjie om te dans.”
Hierdie fabel beeld lui, sorgelose mense uit wat hul tyd en energie op beuselagtighede verkwis en sodoende later gebrek lei en op baie uit mis.
Aan die ander kant het ons ook ‘n fabel wat die miere se gedrag kritiseer, en is ‘n mens nie verbaas as jy agterkom dis ‘n dertiende-eeuse Rooms-Katolieke monnik wat dit aangeteken het nie – vir al wat ons weet het hy nog aan ‘n Franciskaanse orde behoort. Ek verwys na Odo van Cheriton wat in die 1300’s nie gehuiwer het om die klassieke fabels ‘n Christelike kleed aan te trek nie:
Die miere en die varke
‘n Fabel teen die ydel opgaar en bymekaar maak van materiële besittings.
Miere gaar vir hulself ‘n groot hoop graan op om gedurende die winter van te kan leef, maar op ‘n sekere punt kom die varke, krap alles deurmekaar n vreet die kos alles self op.
Dieselfde ding gebeur baie met mense: Hulle gaar gereeld en op groot skaal op, maar dan kom die diewe, die belastinggaarders, selfs bloedfamilielede – en alles is daarmee heen, so nie gebeur dit dikwels dat al die rykdom aan vreemdelinge nagelaat word.
Die mier se gedrag is egter honderde jare van te vore al in ‘n baie negatiewer lig gesien as die een waarin Odo dit hier bo sien:
Die gode en die miere
Lank gelede was die dier wat nou se dae as ‘n mier bekend staan, ‘n man wat immer vreeslik besig was om te boer. En tog was hy steeds nie tevrede met die vrug van sy eie harde handewerk nie – hy het onder sy bure se oeste ook gesteel en vir homself geneem. Die gode het kwaad geword vir hierdie gulsige gedrag en die man toe verander in dit wat ons vandag as “mier” ken. Die man het wel van gedaante verander, maar kon sy eertydse gewoontes na al hierdie jare nog steeds nie afskud nie – daarom dat die mier vandag nog steeds deur die landerye trek en vir homself die vrugte op ander se arbeid pluk, juis sodat hy vir sy eie gebruik op kan gaar.
Hierdie fabel wys ons dat iemand met ‘n slegte karaktereienskap of bose natuur, wel van voorkoms mag verander, maar dat sy optrede ten spyte daarvan altyd steeds dieselfde sal bly.
Ek het die illustrasies hier gekry.