Wednesday, 31 July 2013

Die kraai en die poue

bron
Esopus bied ons ‘n baie leersame storie om nie met andermansgoed rond te loop nie, maar om ons lewens tussen ons eie en met ons eie te lei.

‘n Verwaande kraai, nie net skoon geswolle nie, maar sommer lekker opgeblase ook van al die waan, ydelheid en trots, kom toe af op ‘n klompie pouvere wat op die grond laat val en net so laat lê is. Hy pik dit op, steek dit tussen sy eie vaal vere in en probeer inderdaad, nadat hy sy eie swerm spottend en neerhalend vaarwel geroep het, om by die groep poue aan te sluit. Die poue, wat hy geensins met die aangelapte vere kon fnuik nie, het hierdie uiters voorbarige en aanmatigende aanstellerigheid met niks anders nie as opregte aggressie begroet:  hulle het die vere daar en dan uitgepluk en die stomme kraai so vervaard begin pik dat hy niks anders kon doen as om homself so gou as moontlik uit die vlerke te probeer maak nie. Na hy sy moses so sleg onder die poue teëgekom het, is hy toe maar stertvere tussen die bene terug na sy eie soort toe. Daar aangekom is hy ook summier verdryf en vir ‘n tweede keer aan fisiese pyn en openbare vernedering uitgelewer. Een van die kraaie, hoeka een van die wat hy ten tye van sy afskeid so lekker gespot het, sê toe vir hom:  “As jy tog maar net daarmee tevrede was om tussen ons te bly, met dit waarmee die natuur jou toebedeel het, sou jy sowel die poue se vernedering, as ons verwerping en afwysing gespaar gewees het."

Tuesday, 30 July 2013

Die skoonheidskompetisie van die geveerdes


Fotobron
Die storie van ‘n kraai wat ons wil aanspoor om arrogansie te verfoei.

‘n Skoonheidskompetisie is onder ons geveerde vriende gehou en al wat voël is wat kan vlieg, ook die wat minder goed of selfs glad nie kan vlieg nie, het opgeruk en saamgetrek om beoordeel te word. Op die vooraand van die groot dag het al die voëls afgesit damme en riviere toe om hulself te poets en van hul ou vere ontslae te raak sodat die nuwe fynste veertjies glad gestryk kan kom. Die stomme kraai het op sy beurt egter geen spoggerige vertoonvere gehad wat hy in plek kon kry nie. Hy besluit toe naar om hom te tooi in die afvalvere wat die ander voëls op die oewers en walle agtergelaat het. En op die ou einde alleen ook maar die wyse uil wat haar vere die volgende dag herken, die bedrogspul agtergekom en alles oopgevlek het. Sy het haar eie vere gaan terug eis en die ander voëls ‘n een en ‘n elk aangehits om dieselfde te doen. Teen die tyd dat die kraai van al die gesteelde vere kaal gestroop was, was daar van sy eie vere ook weinig oor, en het hy met sy kop in skaamte gesak bykans poedelkaal voor die paneel beoordelaars moes verskyn om uitgekyk en takseer te word.

Sierade wat nie aan jou behoort nie, kan jou groot verleentheid en vernedering besorg.

Tuesday, 23 July 2013

Die pou, sy vere en almal wat hom raakloop

fotobron


Teen ydelheid en so voort.

Die pou was voorwaar ‘n merkwaardige voël, nie net oor die skoonheid van sy vere met hul lieflike kleure en patrone nie, maar ook omdat hy tog so betaamlik opgevoed en ‘n weleerwaarde edele heer was. Op pad na ‘n vergadering van die voëls, kruis sy weg met die van ‘n raaf. Die raaf vra hom toe of hy dan nie tog maar net twee sy vere kan kry nie. Die pou is heel inskiklik, maar wil dadelik weet:  “En wat gee jy vir my in ruil vir my twee vere?” “Waar ek my in die geselskap van ander voëls bevind, onderneem ek om altyd jou lof te besing.” Hierop gee die pou toe sommer dadelik twee van sy vere prys. So is dit dieselfde storie met die kraai wat verby gekom het en weg is met twee vere. Eweso so met die koekoek, die loerie en nog talle ander voëls... tot die pou op die ou einde nie ‘n enkele veer meer oor had nie en rot en kaal gepluk daar gestaan het. Die pou, wat veronderstel was om sy kuikens te help voed en warm te hou, was sonder enige vere meer oor, daartoe geensins meer in staat nie. Toe die winter kom, toe sterf hy af. Sy kuikens is vort om na die beste van hul gebrekkige vermoë vir hulle ‘n beter heenkome te vind.

Friday, 19 July 2013

Die kraai, die arend en die vere

‘n Fabel wat die mense wat roem dat hulle iets het, maar nie regtig daaroor beskik nie, aankla.

Daar was hierdie kraai wat vroeg in haar lewe reeds tot die slotsom gekom het dat sy eintlik niks anders as net verbeeldingloos swart en eintlik sommer net doodeenvoudig skreeulelik is nie. Sy loop bekla toe in ‘n stadium haar lot  by ‘n arend. Dié stel voor dat sy vir haarself ‘n spul spoggerige vertoonvere by haar ander geveerde vriende gaan afbedel. Die kraai het begeester daad by die arend se woord gevoeg en so gou soos nou twee stertvere by die pou geleen gekry, iets uit ‘n ander vriendin se kleurvolle vlerk, ook by duif en papegaai, ‘n donsie hier, ‘n borsveertjie daar. En so aan en so voort, tot op die punt dat die kraai vir haarself sommer eksieperfeksie en jollie seksie daaruit begin sien het. Vol van eiewaan het sy die ander voëls een na die ander eers begin uitlag en toe glads links en regs onder hulle begin uitskel. Hulle sit toe skoon opgeklits op hul beurt af na arend om aanklag teen die grootpraterige kraai en haar  ongepoetste gedrag in te bring. Arend se wyse voorstel was dat elkeen sy vere maar terug moes neem om die kraai gestroop en verneder te laat. Dis ook presies wat hulle toe gedoen het, en ook waarom die kraai vandag nog kaal, verbeeldingloos vaal en eintlik sommer net gewoonweg lelik is.

Thursday, 18 July 2013

Die boere, die boerbok en die leeu se vel

Die storie van ‘n boerbok, wat ons wil aanspoor om nie na meer te wil smag as wat ons toekom nie.
 
Hierdie boerbok het groot en ongeskikte drome gedroom oor wat hy alles in die plaaslike gemeenskap se landerye, boorde en wingerde wil uitrig. Maar omdat die ou spul takhare wat sy omgewing besmet het sommer gou korte mette gemaak het met enige bok wat so min as net ‘n enkele onregmatige grassprietjie gevreet het, besef hy al te gou dat hy sy wilde drome om verwoesting onder die vrug van die boere se arbeid te saai, aan die hand van die een of ander slim vermomming sal moet verwesenlik. En dis presies wat hy toe ook onder die dekmantel van ‘n leeuvel gedoen het. Terwyl die gemeenskap verskrik in hul hutte gaan skuiling soek het, het bok-se-kind rustig die landerye en boorde gestroop. ‘n Rukwind het egter opgesteek, korte mette met die kostuum gemaak en die leeu se ware boerbokkleure gewys. Die oomblik toe die domonnosel appeldammers onder wie se oes die leeu so rojaal te kere gegaan het, sien dat dit al die tyd maar net ‘n simpel boerbok is, het hulle onmiddedadelik opgeruk en hom summier met stokke en pangas doodgeslaan.

Versierings en tooisels, van watter aard ook al, wat nie aan jou behoort nie, kan gevaarlik wees.

Wednesday, 17 July 2013

Die jakkals, die donkie en die leeu se vel

‘n Donkie het vir homself die vel van ‘n leeu aangetrek en tot groot vermaak van homself rondgeloop en talle niksvermoedende diere ‘n groot skrik op die lyf gejaag. Toe die donkie se holderstebolder pad die van ‘n jakkals kruis, het hy haar natuurlik ook sommer op die plek skrik probeer maak. Die jakkals het die donkie egter gehoor nog lank voor sy hom in die vreemde gewaad gesien het. Gevolglik sê sy dan ook droogweg nadat die donkie sy naam lelik met ‘n plank geslaan het:  “Jy kan daarvan verseker wees, Asjas, dat ek myself beslis des disnis sou geskrik het, as dit nie was dat ek jou gebalk in die verte gehoor het nie.”

Netso is daar sekere veergewig outjies onder ons wat danksy hul voorkoms soos swaargewigte lyk; en dan kom hul ware identiteit na vore, die oomblik wat hulle hul monde oopmaak en iets probeer sê.

Tuesday, 16 July 2013

Die twee reisigers en die leeuwyfie langs die pad


‘n Man was saam met ‘n goeie vriend van hom te voet op reis deur die wildernis. Hy het veilig gevoel in die geselskap van sy reisgenoot omdat hy geweet het dat die twee van hulle, saam, enige gevaar wat oor hul pad kon kom, baas sal kan raak.Terwyl hulle nog so stap en dik stukke oor diep dinge gesels, staan ‘n leeuwyfie skielik, helder oordag, vlak voor hulle in die middel van die pad. Die vriend sny ‘n lyn na die naaste boom toe, gryp ‘n tak en sorg dat hy so gou moontlik bo kom, en bo bly. Die man bly op sy beurt stokstyf en skoon versteen van die skrik, in sy twee spore staan. Met die leeu reeds so naby aan hom dat hy haar asem kan ruik, slaan hy toe maar soos ‘n paal grondwaarts neer en maak of hy dood is. Die leeu kom, effe oorbluf deur dié ongewone gedrag, nog nader, steeds ywerig om haar tande en kloue in dié gerieflike prooi, wat homself so op ‘n skinkbord aanbied, te slaan. Met haar krom kloue draai sy die man om op sy rug. Hy is doodsbleek en yskoud – hy het inderdaad die laaste bietjie warmte wat daar in sy lyf was, skoon weggeskrik. Die leeu ruk en pluk en stamp en stoot aan die man, maar hy bly leweloos lê. Die enigste gevolgtrekking waartoe sy kan kom, is dat die man ‘n verrottende karkas is. Vir vrot ou aas sien sy wraggies nie kans nie - die hiënas kan dit maar kry, só desperaat of honger is sy nie. Ten spyte van so ‘n maklike porsie sagte vleiskos laat sy die man toe net so en stap rustig weg.  Stadig maar seker begin die man tekens van nuwe lewe toon, sy vriend kry homself so waar as wraggies ook losgeskeur van die boomstam waaraan hy ‘n rukkie gelede binne enkele oomblikke so stewig vasgegroei het. Met die skrik wat nog vlak in hulle sit, begin hulle gesels en kortvoorlank vra die een wat van effe so vol vrees die takke in is: “En watse gesprek het die dierasie met jou aangeknoop terwyl sy so al in jou gesig en om jou rittelende lyf was? Sy moes tog sekerlik nogal heelwat kwyt geraak het in die lang gesels wat sy daar op die grond met jou gehad het.” Die man antwoord toe:  “Sy het my inderdaad van belangrike advies voorsien, in dieselfde asem helaas ook van ‘n waardevolle opdrag wat ek nou maar een maal net nie kan vergeet nie: ‘moet tog nie haastig wees om jou vriendskap met daardie ander een daar bo in die boom te hervat nie, want netnou beland julle weer in die kloue van die een of ander wilder ongedierte nog as ek, en hoe dán gemaak as hy jou wéér ‘n keer net so op jou eie los?’”


Monday, 15 July 2013

Die jakkals en die kraai


‘n Storie van ‘n jakkals en ‘n kraai wat ons aanspoor om nie enige iemand wat ons straks net wil bedrieg, te vertrou nie.

Die kraai het van iewers vir hom ‘n wiggie kaas opgepik gekry en sit toe met sy buit af na ‘n tak in ‘n hoë boom. ‘n Jakkals kom toe op hom af en loop al om en om die boom terwyl hy ‘n plan probeer beraam om die kraai daarin ‘n streep te trek. “En wat op deeske aarde het ons hier,” kom dit toe van die jakkals. “O, skone kraai,” deklameer hy, “die elegante estetika van jou gebeente is voorwaar voortreflik, terwyl jou gelaat jou kwalifiseer vir koning van die geveerdes. Had jy tog maar net ‘n stem om daarmee saam te gaan, was jy die voorste van al die gevleueldes.” Jakkals het hierdie dinge natuurlik net kwyt geraak om kraai in ‘n lokval in te lei. En kraai trap nie net daarin nie, hy storm sommer in:  hy trek los met die allervreeslikste kras kreet... en daar val die kaas uit sy bek uit. Van die gespog met sy stem, is hy toe sy buit kwyt. Jakkals het die kaas summier gegryp en voet in die wind geslaan met die volgende afskeidswoorde: “O, jou stomme kraai, jy het ‘n voorwaar ‘n stem, maar daarmee saam allermins nie enige breins wat daarteen op kan weeg nie.”


Wie hom steur aan die mening van sy vyande sal seerkry.

Friday, 5 July 2013

Die veewagtertjie en sy alewige leeus


Daar was hierdie veewagtertjie wat die onhebbelike gewoonte gehad het om van tyd tot tyd in die rigting van die stat te hol en histeries uit te roep: “Leeu, leeu! Kom help, die leeus is op ons!” Tot groot vermaak van niemand anders behalwe homself nie, het hy dan dopgehou hoe almal, tot die tande toe met stokke en skilde en spiese bewapen, nader gehardloop kom, net op te hoor – nes hulle uitasem by hom en die trop kom – dat dit nie regtig die geval is nie. Toe was daar eendag regtig 'n leeu, en ook nie net een nie, sommer drie wyfies wat onder die stam se vee kom jag het. Hierdie keer maak  dit egter nie saak hóé die knapie skree en roep en waai en te kere gaan nie – almal het lankal geleer om hulle nie meer aan hom te steur nie en gaan bloot ongehinderd met hul dagtake aan.  So het die hele gemeenskap toe groot en ernstige skade gelei. 


Wat maar net wil wys hoe leuenaars beloon word – selfs al praat hulle ook nou miskien eendag die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie, het almal teen daardie tyd lankal geleer om nie ‘n enkele woord te glo wat hulle kwyt raak nie.

Thursday, 4 July 2013

Die skilpad en die arend


Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie span ‘n skilpad sy stem skril en klaend in om ‘n swerm seevoëls naby hom op die rotse te verwyt vir die feit dat nie een van hulle in al hierdie jare dat hulle naaste bure is, nog ooit bereid was om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar bo in die lug rondgehang het op soek na iets om te gebeur, hoor die skilpad se gekerm en kom vind uit wat skeel. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend oomblikke nadat hy die skilpad se treurmare uitgeluister het, weet, “as ék jou help om die wonder van vrye vlug te ervaar?” Hy bied dan ook aan om Skilpad saam met hom die bloue lug in op te neem en daar in die hoogtes met hom te sweef, maar teen ‘n prys natuurlik. Skilpad, skoon opgerui oor die vergesigte wat hy in sy geestesoog oproep, is ook nie links nie en beloof die arend, lekker wild en wyd, sommer al die skatte van die see. “Nou maar in daardie geval dan, laat my toe, nie net om jou te laat voel hoe dit is om te vlieg nie, maar om jou te wys hoe om die kuns op jou eie te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad, wat intussen van al die opwinding al skoon aan die bewe gegaan het, versigtig in sy skerp kloue. Hy neem hom tot amper in die wolke voor hy hom eensklaps net so laat laat los en met arendsoog dophou om te sien presies waar die onnosel skilpad hom binne enkele tellings teen die ruwe rotse morsdood te pletter gaan val. Wel wetend dat hy sopas die volgende dis op Arend se spyskaart geword het, roep die skilpad uit: “Wat nou besig is om met my te gebeur, is niks minder nie as my welverdiende loën . Wat het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die wolke moes kom soek!"


As mens altyd dit waarvoor hy wens, moet kry, sal hy meer dikwels as nié, juis daardeur ruïneer word.

Wednesday, 3 July 2013

Die slang en die arend, en die boer daarby



'n Storie met 'n arend en 'n slang in, wat ons wil aanspoor om gou te wees om aan ander 'n guns te bewys.

Die slang en die arend was in dodelike stryd gewikkel. Die slang had die oorhand en was op die punt om die arend te verwurg toe 'n boer op hulle afkom en die arend bevry. Die slang, hoogs gefrustreerd oor die verlies van sy prooi, ledig toe sy gifsakke in watersak aan die boer se sy. Die boer, salig onbewus van wat gebeur het, was op die punt om sy dors te les toe die arend skielik vanuit die lug afgeduik kom, die leersak in sy kloue neem en daarmee die verte in wegvlieg.

As jy ander goed behandel, word jy dikwels met heelwat stof tot dankbaarheid beloon.