Saturday, 31 December 2011

Die wolf en die jakkals


In 'n stadium is gebore 'n baie groot en sterk wolfwelpie wat sommer gou die ander van sy soort verbygesteek het in krag, grootte en flinkheid; ook nie lank nie, of die lede van die trop besluit eenparig om van hom as die “Leeu” te praat. Die stomme wolf wat nie sy eie grootte in verhouding tot die ander roofdiere kon takseer nie, het gemeen hulle was ernstig met hierdie aanspreekvorm; hy het sy ras verlaat en voortaan slegs met die leeus gemeng. 'n Jakkals wat die gebeure van naby gevolg het, maak toe hierdie opmerking: “Mag ek tog nooit eendag so 'n spektakel van myself maak soos jy met jou geswolle hoof, oordrewe trots en grootheidswaan nie – tussen die wolwe mag jy wel 'n leeu wees, maar glo my, tussen die leeus is jy niks anders as 'n wolfie nie.

Ons sê partykeer van iemand dat hy “'n man onder die seuns maar 'n seun tussen die manne” is.

Hierdie fabel het my aan diegene van wie ons dit sê, herinner.

Fabels bestaan in verskillende vorme voort. Hoewel steeds geensins 'n letterlike vertaling nie, sien die oudste vorm wat ons van hierdie fabel het, soos wat Babrius dit opgeteken het, in Afrikaans nader aan die volgende daar uit:



Daar was hierdie wolf wat soveel stewiger as die res van die trop opgeëindig het, dat hulle na hom as die Leeu onder hulle begin verwys het. Hierdie besonderse eer wat hom te beurt geval het, kon ons wolf se grootheidswaan egter nie bevredig nie – hy het sy trop verlaat en 'n plek onder die leeus ingeneem. 'n Jakkals het hom gespot en gesê: “Mag ek tog nooit so geswolle prentjie van myself kry, soos jy nie: jy mag op die oog af, tussen die wolwe, aan 'n leeu herinner, maar as die leeus hul eendag aan jou moet meet, sal jy sommer gou-gou terug gaan om niks anders as net 'n ou wolfie te wees nie.”

Tuesday, 20 December 2011

Die Wolf en die Skaap

‘n Wolf, erg verrinneweer en verniel deur ‘n trop van die boer se honde, lê op die rand van die dood in sy lêplek. Uitgehonger en dors roep hy ‘n Skaap wat daar verby gaan nader met die versoek om vir hom ‘n lekseltjie water in die spruit daar naby te gaan haal. “Want,” gaan hy voort, “as jy my eers van ‘n bietjie water voorsien het, sal ek self vir my eie vleiskos kan sorg.” “Ja, nè,” kom dit van die Skaap, omdat ‘n mens vinnig deur skynheilige praatjies sien, “en as ek eers jou dors geles het, sal jy seker op my vleis reken om jou honger ook te stil.”


Friday, 16 December 2011

Die vegtende Hane en die Arend


Twee Hane veg allervreeslik en verskriklik om die baas op die plaaswerf én onder die henne te kan wees. Uiteindelik slaag die een daarin om as oorwinnaar uit die stryd te tree. Die verslane Haan word oorwonne van die werf verdryf, sluip daar weg en gaan kruip in ‘n stil hoekie weg. Die oorwinnaar, aan die ander kant, vlieg met sy flappende veelkleurige vlerke tot op ‘n baie hoë muur daar naby en verkondig met ‘n luidkeelse gekraai aan al wat leef en beef sy heerskappy op die plaaswerf . Met dié kom ‘n arend hoog bo die werf verby gevlieg, hy hoor die gedoente, duik af, gryp die Haan in sy kloue en is met hom daar weg. Die verslane Haan het onmidellik uit sy stil hoekie gekom en onbestrede tot in lengte van dae op die plaaswerf en oor die henne geheers.

As ons na die woordoortolligheid, die woord-overdadigheid, hier bo kyk, is dit duidelik dat ek die oorvertel van hierdie fabel baie geniet het. In sy suiwerste, en oorspronklike Griekse vorm, word die boodskap egter net so goed en met aansienlik minder omhaal van woorde tuisgebring:

Twee hane het 'n groot baklei gekry. Die verloorder het in 'n hoekie gaan wegkruip; terwyl die oorwinnaar homself met flappende vlerke op die nok van die dak gaan tuismaak het en sy oorwinning luidkeels uitgekraai het. 'n Arend swiep toe neer en is met hierdie haan daar weg.

Die fabel wys dat jy nie grootkop moet rondloop as jy skielik 'n bietjie sukses gesmaak het nie.

Ek hou baie van die boonste inleidende illustrasie, miskien suiwer omdat dit so oud is. Fabelillustrasies soos die eerste een hier onder staan my glad nie aan nie.


Selfs ek wat min van 'n plaaswerf, of ornitologie, weet, weet dat wat hier onder uitgebeeld word, darem baie dik vir 'n daalder is:



Die volgende foto het die vertaling wat ek in die eerste, overdadige oorvertel van die fabel gebruik het, vergesel. Dis duidelik dat hierdie vertaling nie gehou het by die verwysing na die dak se nok nie.


Dat sommige vertalers wel die oorspronklike Grieks onder oog had, is duidelik:


Die wyse waarop die arend in die volgende illustrasie onderspeel word, die spanning wat daardeur opgebou word, is vir my amper meer effektief as die oorbeklemtoning van die naderende gevaar in die daaropvolgende illustrasie:




Ek weet nie of ek my dit verbeel nie, maar dit wil tog vir my voorkom asof die donker kolletjie in die hoogste agterste boomtop die vae buitelyne van die arend kan wees:


Of miskien is dit net toevallig.

Die illustrasies is hier deur Laura G Gibbs toeganklik gemaak.






Thursday, 15 December 2011

Krap en Jakkals



Krap trek toe skielik sy neus op vir dit wat die see hom bied en gaan soek sy kos op land. Maar voor hý kos kan kry, kry Jakkals hóm, en vreet hom op. Net voor hy sterf besef Krap egter dat dit sy verdiende loën is, as hy sê:“Ek is tog ‘n seedier! Wat het ek nou op land verloor; wat anders as my dood, het ek op land loop soek?

Die fabel wil maar net sê dat jy gedoem is om te faal as jy jou eie bekende en gebaande weë verlaat en ‘n besigheid volg waarvan jy niks onder die son weet nie.

Monday, 5 December 2011

Die Sprinkaan en die Uil




‘n Uil, gewoond daaraan om snags te jag en bedags te slaap, word helder oordag deur ‘n kriek se getjirp uit sy slaap gehou en hy vra hom mooi asseblief tog stil te bly. Die Sprinkaan weier om toe te gee, of selfs net ‘n bietjie eenkant toe te skuif, trouens, hy tjirp gevul met eiewaan net al hoe vinniger en harder, hoe meer die Uil hom smeek om stil te raak. Dit is toe dat die Uil van strategie verander: “Met die dat ek vanweë die skone klanke wat jou bene voorbring, en glo my dis mooier as die mooiste vioolmusiek, nie kan slaap nie, gaan ek my daarmee saam verlustig in die soete nektar wat een van die gode my onlangs geskenk het. Voel vry om jou by my aan te sluit, dis nou as jy van nektar hou, en dan geniet ons dit saam.” Die kriek, nie net dors nie, maar ook daartoe verlei deur die Uil se aanprysing van sy mooi musiek, vlieg met groot entoesiasme die lug in om by die Uil aan te sluit. Dis toe ook mooi op hierdie punt dat die Uil uit haar skuilplek kom, afduik, die kriek doodmaak en verder gaan slaap sonder om hom eers te eet, want Uile jag snags.


Dit was 'n Victoriaanse oorvertel van die fabel. Die klassieke brondokument klink effe anders as ons dit vertaal:


Diegene wat nie die nodige respek en agting toon waar dit toekom nie, word gewoonlik lelik in die bek geruk oor hul verwaandheid.


Die kriek was helder oordag besig om die allervreeslikste geraas aan te jaag. Dit was tot groot ergenis van die uil wat daaraan gewoond was om in die donkerte van die nag op jag te gaan en bedags iewers in 'n hol boomstam te slaap. Daarom dan ook dat die uil die kriek vriendelik versoek om stil te bly, Dit het die kriek egter net aangespoor om 'n nog groter geraas op te sit. 'n Tweede keer rig die uil 'n vriendelike versoek, en 'n tweede keer draai die kriek die desibels aan. Toe die uil besef dat mooipraatjies niks aan die saak gaan doen nie, juis omdat die kriek hom so aflag, besluit hy om die bron van ergernis dan maar ‘n lelike streep te trek. “Met die dat ek van al jou gesingery, wat natuurlik aan engelegesang herinner,  nie eers 'n uiltjie kan knip nie – wat nog te sê 'n oog kan toemaak,” kom dit van die uil, “het ek besluit om my te verlekker in die soete ambrosia  wat een van die gode my as present gegee het. As dit jou welgeval, sal dit vir my 'n voorreg wees as jy dit saam met my geniet." Die kriek willig toe dadelik in, nie net was hy vreeslik dors nie, maar ook besonders gevlei deur die heuningkwas wat uil hom om die mond gesmeer het. Hy vlieg dan toe ook dadelik op na waar die uil hom bevind. Die uil maak hom toe summier tuis voor die ingang na die gat in die boom – dis om te keer dat die kriek nie uitkom nie – en bring 'n einde, nie net aan die kriek se geraas nie, maar aan die kriek se lewe. Dit waartoe die kriek nie in hierdie lewe kon instem nie, het hy op die ou einde toe wel in sy dood bemeester.








Thursday, 1 December 2011

Die skaapwagter en sy wolf


Die skaapwagter het toe die klein wolfwelpie wat hy in die veld teëgekom het, hans grootgemaak; en toe die dingetjie bietjie ouer was, selfs geleer om van die bure se lammers te gaan vang. Toe die wolf hierdie kuns egter die dag eers vervolmaak het, noem hy aan die skaapwagter: “Noudat jy my geleer het om te steel, pas tog net op dat baie van jou eie skape nie ook op soortgelyke wyse verdwyn nie.

En dit is hoe dit is met ingebore booswigte is – hulle draai selfs teen hul eie leermeesters sodra hulle touwys gemaak is in steel en lieg en bedrieg.

fotobron

Wednesday, 23 November 2011

Die Sperwer, die Valkie en die Duiwe




Die Duiwe, bykans lam van vrees vir ‘n Sperwer wat hul in die omgewing opgemerk het, neem ‘n Valkie in diens om hulle beskerm. Maar na hulle hom eers in die duiwehok toegelaat het, kom hulle agter dat hy in eendag meer skade aanrig en onder hulle afmaai, as wat die Sperwer in ‘n hele jaar kan vermag.

Pasop vir ‘n oplossing wat maklik ‘n groter probleem as die aanvanklike probleem kan wees.

Wees ook op die uitkyk vir geneesmiddels wat groter gevaar inhou as die siekte self.


Hierdie vertelling is inderdaad 'n afwyking van die oorspronklike klassieke vertelling. Maar volg 'n mens die oorspronklike bron, is dit tog asof die tweede storielyn makliker met die werklikheid versoenbaar is.

Oordeel maar self:


Diegene wat hul in tyd van nood op oneerlikes beroep, sal nie gered nie, maar geruïneer  word.

Die duiwe het met net maar die vlugheid van hul vlerke daarin kon slaag om 'n valk aldag en heeldag te ontduik. Die roofsugtige valk besluit toe om 'n meer verleidelike strategie te volg deur die andersins weerlose duiwe in 'n lokval in te kierang. “Waarom kies julle hierdie stersvolle manier van oorlewing,” vra hy, “terwyl julle bloot 'n ooreenkoms met my kan aangaan om jul koning te word, juis sodat ek julle teen enige moontlike gevaar kan beskerm?” Die duiwe is natuurlik deur hierdie mooi woorde omgehaal en het hulself in die sorg van die valk oorgegee. Sy skerp en kragtige kloue het hom natuurlik alleenheerser gemaak en die oomblik toe die valk hul koning word, het hy begin om sy onderdane een vir een te verorber. Dis toe dat een van die oorlewendes uitroep: “Hierdie is ons verdiende loon. Dis ons wat ons eie lewens in hierdie gewetenlose booswig se kloue gesit het.”

Monday, 21 November 2011

Die wolf en die hond


'n Perdfris en lekker ronde en gesonde hond loop eendag 'n wolf raak. Die wolf wil toe weet waar die hond al die kos vandaan gekry het om so spekvet daar uit te  laat sien. “Dis niemand anders as die mens nie,” sê die hond, “wat my al die kos gee om te eet.” “En wat van daardie kaal kol om jou nek?” “Dis maar net die ysterhalsband aan die punt van die ketting wat my baas soms om my sit, wat my pels en vel daar so deurgeskaaf het.” Die wolf het die hond toe uitgelag en gesê: “Hou jou luuksheid dan maar vir jouself! Ek wil daarmee niks te doen hê nie, nie as ek my nek daardeur moet laat deurskaaf deur kettings van yster nie!”



Dis ook nie die Grieke wat die epimythium aangelas het nie, maar Caxton wat rondom 1448 met sy eerste vertaling van die fabels in Engels daarmee vorendag kom:   'Therfore there is no rychesse gretter than lyberte / For lyberte is better than alle the gold of the world.'


Die neiging om die fabels se karakters as mense uit te beeld, het al vir die belaglikste illustrasies gesorg, soos hier onder duidelik gesien kan word.



Die illustrasies is hier deur Laura G Gibbs toeganklik gemaak.

Thursday, 17 November 2011

Die Wolf en die Skaap


‘n Wolf, erg verrinneweer en verniel deur ‘n trop van die boer se honde, lê op die rand van die dood in sy lêplek. Uitgehonger en dors roep hy ‘n Skaap wat daar verby gaan nader met die versoek om vir hom ‘n lekseltjie water in die spruit daar naby te gaan haal. “Want,” gaan hy voort, “as jy my eers van ‘n bietjie water voorsien het, sal ek self vir my eie vleiskos kan sorg.” “Ja, nè,” kom dit van die Skaap, omdat ‘n mens vinnig deur wolf se skynheilige praatjies sien, “en as ek eers jou dors geles het, sal jy seker op my vleis reken om jou honger ook te stil.”


Wat my pla van baie van hierdie illustrasies is die feit dat dit nie chronologies van links na regs lees nie. Was die tradisie toe nog nie so sterk gevestig nie? Wanneer het dit dan vanselfsprekend geword?

Illustrasies deur Laura G Gibbs toeganklik gemaak.

Thursday, 10 November 2011

Die Wolf en die Skaapherders


‘n Wolf sluip verby ‘n hut vol Skaapherders en sy skerp reuksintuig kan nie anders as om die heerlike geur van ‘n pot gestoofde lamsvleis op te tel nie. Hy loer toe maar by die deur in met die woorde: “Ek sou darem maar graag wou hoor wat julle klompie herders te sê sou had as dit stomme ou ek was, en nie een van julle spul nie, wat so lekkerbekkig weg gelê het aan ‘n lammetjie se sagste van sagte binnevleisies.”

Ek het lieflik aangedik in hierdie fabel - juis omdat ek so van die fyn humor, saam met lessie, daarin opgesluit, hou. In sy oudste vorm, deur Plutarch opgeteken, is dit heelwat skraler, maar steeds treffend en lieflik:

Hierdie is een van Esopus se fabels. 'n Wolf kom op 'n spul skaapwagter af wat in hul tent weglê aan 'n lam. Hy stap toe op die herders af met die woorde:  "Aarde, wat 'n kommosie sou dit nou nie gewees het as dit ek was wat dieselfde gedoen het nie!"

Die volgende prentjie spreek tot my omdat ek in die herders iets van Jan Rabe se Drie kaalkoppe eet tesame - 'n verwysing wat die wolf dadelik sou oproep, het hy net die storie geken - herken.


In hierdie prentjie is dit weer die hond, wat beslis aan die onvangkant van die krummels staan, wat vir my 'n verdere messteek in die wolf se gemoed is:


So van messteek gepraat, let bietjie op die boodskap in wolfie se lyftaal:


Hier raak ek weer bewus van 'n hoogsgeromantiseerde, letterlik pastorale, siening van skaapwagter se bestaan in daardie jare:


Al die illustrasies is deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

Monday, 17 October 2011

Die ystersmid en sy hond



Daar was hierdie hond wat sy dae in die ystersmid en sy vakleerlinge se werkswinkel deurgebring het. Terwyl hulle gewerk het, het hy rustig geslaap, maar die oomblik as hulle sit om te eet, het hy wakker geword en vriendelik gebedel vir kos. “Hoe is dit moontlik, “ kom dit van die smid, “dat jy dwars deur die gekap van ons hamers op die yster kan slaap, maar die oomblik dat jy ons tande hoor kou, dan is jy so wakker soos 'n akker!”

As iets ons nie raak nie, kan dit saam met die hele wêreld maar verbygaan, maar op die geringste dingetjie wat ons raak, slaan ons summier die hoogste ag.

Sunday, 9 October 2011

Die siek ou leeu, die wolf en die jakkals

Leeu het oud en siek geword; hy lê sterwend in sy grot. Al die diere, met uitsondering van Jakkals, kom lê besoek af om hulde te betoon. Wolf maak van die geleentheid gebruik om jakkals lelik swart te smeer by die moeilike ou leeu – jakkals is dan nou kwansuis sús disrespekvol en só oneerbiedig teenoor die diere se heer en meester... waarop jakkals, wat inderdaad siekebesoek kom doen, instap – net betyds om so die stertkant van wolf se vertelling te hoor. Leeu brul woedend maar jakkals vra dadelik toestemming om sy gedrag te mag verduidelik. “Na alles,” vra die jakkals, “wie van al die diere wat al besoek kom aflê het, het soos ek, jakkals, al om die wêreld gereis en hom deurkruis opsoek na 'n middel om u wonderbaarlik te genees – én een gekry? Natuurlik wil leeu dadelik weet wat dit is en jakkals verduidelik graag: “Jy moet 'n wolf lewend afslag en sy warm vel om jou gooi...” Maar voor jakkals nog verder kon uitwei, was wolf reeds dood en jakkals merk laggend op: “Jy moenie jou meester slegter laat voel as wat hy reeds voel nie, jy moet hom opbeur en rede gee om beter te voel”


Die storie wys dat ons maklik in slagysters trap wat ons vir ander stel.

Tuesday, 4 October 2011

Die donkie en die skoothond



Die donkie sien sy baas se skoothondjie aldag en heeldag al op en oor die man, dan in sy hande, dan in sy skoot, dan sommer op sy bors. Intussen geniet die keffer-gevreetjie ook net die beste kos, reguit van die baas se eie tafel af, dis nou benewens al die bederfies waarmee al wat bediende is, hom deur die loop van die dag volstop. Die donkie vertel homself toe: “As my meester en sy bediendes so gek is oor 'n verskoninkie vir 'n hond soos daardie een, hoeveel te meer sal hulle nie wees as ek my soos een gedra nie. Ek is immers na alles veel beter as enige hond, intelligenter, talentvoller, en, o, so veelsydig! Heilige fonteinwater en net die beste snitte en porsies sal vir my voorgesit word omdat ek in alle opsigte die hond se meerdere is. Dit het lankal tyd geword dat ek die respek wat my toekom begin afdwing.” Met dié laat los hy 'n harde, balkende hiéé-hô, en sit op 'n galoppie af na sy meester toe. Hy spring op en slaan sy twee voorpote oor die niksvermoedende man se skouers, met sy stink asem in die man se gesig begin hy hom met sy groot grys tong al op die wang en in die nek te lek – dit, terwyl sy hoewe van die man se skouers begin gly en sy klere aan flarde skeur. Gelukkig, vir die stomme plaasboer, begin hy ingee onder die donkie se gewig en kom die eerste plaasarbeiders, in antwoord op sy gille en krete, ook met stokke en pikke en grawe en byle aangehardloop. Tesame met die klippe wat hardop saamgesels, is dit ook nie lank nie of die arme donkie sien sy ma vir 'n eendvoël aan. Hulle is toe met hom, kwalik nog in die lewe, af stalle toe waar hy lank, baie lank, opgesluit gehou is.

Ondergeskiktes wat dit nie waardig is nie moenie wederregtelik probeer om die posisie van hul meerderes oor te neem nie.

Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

Sunday, 2 October 2011

Die wolwe en die beesvelle


Die trop honger wolwe spoor 'n spul beesvelle op wat in die rivier dryf. Hulle sal enige iets vir die velle gee, maar die diepte en vloei van die rivier maak dit vir hulle onmoontlik. Toe besluit hulle om maar die rivier leeg te suip en so by die velle uit te kom. Gelukkig sê 'n man vir hulle: “As julle al daardie water suip, sal julle verseker aan stukke bars en vrek neerslaan.”

Hierdie fabel kla diegene aan wat roekelose mal perde opsaal.

Selfs die antieke skrywers het nie uit een Aesopiese mond gepraat nie: Phaedrus en Plutarch vertel bv. van domonnosel honde wat dit op hulle neem om die rivier leeg te suip, en dan drink hulle hulle wel tot letterlike barstens toe. Vandaar ook die honde, in plaas van wolwe, in die boonste illustrasie.



Iewers langs die pad het die beesvelle ook 'n donkiekarkas geword, soos duidelik uit sommige visuele tekste spreek.


Die illustrasies is deur Laura G Gibbs op die internet in die openbare domein beskikbaar gestel.

Friday, 30 September 2011

Die bababokkie, die wolf en die fluit


Hierdie bababokkie dwaal toe af van sy trop en toe hy hom weer kry, toe is daar 'n wolf op sy spoor. Met geen kans op ontvlugting is hy sommer gou in wolf se kloue en noem hy bewend: “Ek weet dat ek op die punt staan om jou aandete te word, oom Wolf. Maar laat asseblief net toe om my afsterwe met waardigheid in te gaan – speel asseblief vir my die fluit dat ek 'n klein afskeidsdansie kan doen.” Wolf stem toe in en die bokkie dans. Die vrolike musiek het natuurlik die aandag van die bokwagters se honde getrek en hulle was gou op die toneel om wolf te verjaag. So in die weghol, dink wolf in sy enigheid: “Dit het ek nou daarvan om my lyf musikant, in plaas van slagter, te wil hou.”

Deur met ander in gesprek te tree, selfs by diegene wat van nature boos is, kan jy jouself uit die moeilikheid praat.

Ek wonder skielik waar kom ons aan die uitdrukking “om na iemand se pype te dans” – vir die bokkie het dit tot sy voordeel gestrek om na wolf se pype te dans.

(Miskien kom die uitdrukking van die "Rottevanger van Hameln" af. Die illustrasies, soos altyd, kom van Laura G Gibbs se versameling op Flickr.)

Monday, 19 September 2011

Die wolf en sy skaduwee



Teen laat skemer aan het draf deur die woestyn, merk wolf die buitensporige grootte van sy skaduwee op. “Hoe is dit moontlik,” wonder hy by homself, “dat iemand so groot en sterk soos ek moet terugstaan vir 'n leeu? Kyk hoe lank is ek! Tog sekerlik ék wat bestem is om koning oor al die diere te wees.” En terwyl hy homself so loop en opblaas in sy gedagtes en al sy waaksaamheid verloor, gryp 'n groot ou leeu hom en verslind hom – maar nie voordat wolf eers tot die besef kom dat sy ondergang die gevolg van sy eie grootheidswaan is nie, trouens sy selfbedrog wat tot sy dood lei.

Hier is 'n skakel na 'n lieflike illustrasie van hierdie fabel. Die kunstenaar laat egter nie toe dat mense dit gebruik soos hulle wil nie.

Die boonste illustrasie is deur Laura G Gibbs op die internet toeganklik gemaak by Flickr.

Sunday, 18 September 2011

Die steekvlieg en die muil


'n Lastige ou steekvlieg wat haarself op die juk tuisgemaak het begin die muil toe lastig val: “Nee maggies man, jy stap gans te stadig,” sê sy, “kan jy nie bietjie vinniger nie as hierdie slakkepas nie! As jy nie spoed optel nie piets ek jou nou in die nek om bietjie lewe in jou te blaas!” Die donkie gee die vlieg een rustige kyk en sê: “Dit pla my net mooi niks wat jy te sê het nie – die enigste ding waaraan ek my steur is die man op die bankie hier agter met sy sweep – hy bepaal die pas, hy jaag my aan en trek my weer in as dit moet. En wat meer is – daarom ook dat ek nie tyd vir jou grootpraatjies het nie – ek weet lankal wanneer ek veronderstel is om te hardloop en wanneer nie."

Hierdie fabel kan gebruik word om te verwys na iemand wat dreigemente rondgooi sonder dat dat hy of sy enigsins die krag of die mag het om dit tot uitvoer te bring.


In die boonste illustrasie sal ek altyd wonder of die man die doek onder sy hoed en om sy nek het, om aan te sluit by 'n las aan steekvlieë in 'n bepaalde landstreek en seisoen, of nie.

Die onderste twee is deur dieselfde uitgewer (Steinhowel) wat rondom 1500, drie uitgawes, elk in 'n ander taal, die lig laat sien het.

Wie ook al verantwoordelik was vir die tweede en derde uitgawes se illustrasies het allermins nie met nuwe gedagtes en idees gekom nie.

Hier wonder ek weer of die oorspronklike kunstenaar die drywer doelbewus laat omkyk het, sodat hy nie die groteske, monsteragtige steekvlieg by die muil se kop kan raaksien nie.



Dit is ook duidelik dat Steinhowel se uitgawes die standaard geword het waarby talle ander illustreerders ingeval het. Dit is bv. duidelik dat die heel eerste skets (jare jonger as die laaste twee) net 'n oor teken van die oertekste is.

Die illustrasies is deur Laura G Gibbs op Flickr in die openbare domein beskikbaar gestel.


Die twee paddas

Die twee paddas was bure; maar oor 'n redelike entjie want die een het in 'n vlak klein modderige poeletjie teenaan die pad, en die ander in 'n helder diep poel verder die veld in, gebly. Die een van die diep poel in die veld nooi toe sy maat om saam met hom te kom bly, daar is oor as genoeg plek vir beide en dan het sy maat aansienlik minder stres as wat tans so teen en eintlik op die verkeer die geval is. Hierdie aanbod van die veldpoel-padda word egter vriendelik van die hand gewys aangesien die padpoeletjie-padda dan voel dat hy nou al so gewoond en geheg aan sy beskeie bietjie modderwater is, dat hy homself daarvan net nie los kan skeur nie. En dit was ook nie lank nie, toe is dit met die padda soos met onse doringboompie langs die pad – toe kom daar 'n wa met osse langs en trap die padda plat.

Net so is dit met mense wat hulle ophou met die een of ander nuttelose aktiwiteit, voor hulle weet, dan sit hulle met niks.

Die boek waaruit illustrasie hier bo kom, het, wat my betref 'n interessante geskiedenis. Volg gerus hierdie skakel na die boek wat in die New York Openbare Biblioteek opgeneem is.

Hier is ook 'n skakel deur na 'n faksimilee-heruitgawe van die boek. Daar is natuurlik meer heruitgawes beskikbaar, maar hierdie uitgewers bemark hulself as die enigstes wat egte goud in hul reduplikasies gebruik.

Ek sien die prys van hul boek is slegs op aanvraag beskikbaar - so ek kan my net voorstel!

Laat ek dan maar 'n skakel na 'n meer bekostigbare edisie ook aanbied. Kliek hier om na Amazon geneem te word. Hulle laat jou, soos die ander twee, ook toe om in die boek rond te kan blaai.

Saturday, 17 September 2011

Die wolf en die perd




Soos hy deur die veldjie stap, kom wolf agter die hawer staan lieflik geil. Maar oor wolwe mos nou nie eintlik juis vreeslike groot hawervreters is nie, is sy gewaarwording nie veel meer as 'n blote terloopse kennisname en toe verder aanstap nie. Toe hy egter kort hierna vir perd raakloop, lei hy hom summier heel vriendelik na die betrokke veldjie toe en probeer hom daarvan oortuig dat hy wat wolf is, nie terstond al die hawer verorber het nie, maar dit vir hom wat perd is gelos het, juis oor dit vir hom wat wolf is sulke wonderlike musiek in sy ore sal wees om te hoor hoe lekker sy vriend daaraan eet. Die perd gee hom net een lang kyk en sê: “Nee, kyk, as julle wolwe julle bekke aan hawer geslaan het, dan het jy beslis nie vandag jou ore, en dit nogal ten koste van jou maag, trakteer nie.”

En is dit nie jammer nie – as jy eers 'n slegte naam of reputasie het, glo niemand jou nie, selfs al is jou intensies hóé edel en opreg.

Die wolf en die bok teen die krans




Die bok was hoog op 'n rotslysie tussen kranse aan het wei toe wolf, tot die dood toe honger, hom gewaar. Onmoontlik vir hom om by haar uit te kom, probeer hy toe maar met woorde: “Jou stomme skepsel! Vir wat het jy die lieflike kweekgras hier onder vaarwel geroep om jou lewe daar bo in die hoogtes in gevaar te stel agter 'n paar bossies aan? Jy soek mos nou vir moeilikheid so vreeslik hoog daar bo – dis sommer baie veiliger hier onder.” Nee,” antwoord die bok, “dis nie in belang van my veiligheid, my eetlus of my smaak dat jy my afroep nie, maar suiwer in belang van jou maag en sy volgende maaltyd.”

Wees op die uitkyk vir raad en advies van ander wat net tot hul voordeel is en jou tot nadeel strek.

Laura G Gibbs se illustrasiebron op Flickr