Saturday, 29 June 2013

Die sperwer, die valkie en die duiwe


Die duiwe, bykans lam van vrees vir ‘n sperwer wat een of twee van hulle nou al ‘n paar keer in die omgewing opgemerk het, neem ‘n hulpvaardige valkie in diens om hulle te beskerm. Maar na hulle hom eers in die swerm toegelaat het, kom hulle agter dat hy in een dag meer skade aanrig en onder hulle afmaai, as wat die sperwer in ‘n volle jaar kan vermag.


Pasop vir ‘n oplossing wat maklik ‘n groter probleem as die aanvanklike probleem kan wees. Wees ook op die uitkyk vir geneesmiddels wat groter gevaar inhou as die siekte self.

Thursday, 27 June 2013

Die sperwers en sangvoëls


fotobron
'n Storie oor sperwers en sangvoëls wat ons wil aanspoor om nie dinge te wil doen wat nie by ons tuishoort nie.

Moeder Natuur het alle sperwers oorspronklik met dieselfde mooi stemme geseën as die van enige van al die ander sangvoëls in die land wat soggens die dagbreek met hul skone klanke begroet. Maar toe ‘n spul sperwers eers een maal gehoor het hoe mooi ‘n trop wilde perde kan runnik as hulle daartoe opgerui word, is dit neusie verby – hulle is daardeur totaal betower en wil die perde dit ten alle koste na kan doen. Al die oefen om soos 'n perd te kan runnik, het egter soveel spanning op hul stembande gesit, dat die stomme sperwers laterhand letterlik stom was en tot vandag toe nog, nie 'n geluid kan uitkry nie.



Om iets of iemand na te boots wat nie by ons pas nie en bo ons vuurmaakplek is, kan tot gevolg hê dat ons die bietjie wat ons het, later ook kwyt is. 

Thursday, 20 June 2013

Die sprinkaan en die uil

fotobron

Diegene wat nie die nodige respek en agting toon waar dit toekom nie, word gewoonlik lelik in die bek geruk oor hul verwaandheid.


Die kriek was helder oordag besig om die allervreeslikste geraas aan te jaag. Dit was tot groot ergenis van die uil wat daaraan gewoond was om in die donkerte van die nag op jag te gaan en bedags iewers in 'n hol boomstam te slaap. Daarom dan ook dat die uil die kriek vriendelik versoek om stil te bly, Dit het die kriek egter net aangespoor om 'n nog groter geraas op te sit. 'n Tweede keer rig die uil 'n vriendelike versoek, en 'n tweede keer draai die kriek die desibels aan. Toe die uil besef dat mooipraatjies niks aan die saak gaan doen nie, juis omdat die kriek hom so aflag, besluit hy om die bron van ergernis dan maar ‘n lelike streep te trek. “Met die dat ek van al jou gesingery, wat natuurlik aan engelegesang herinner,  nie eers 'n uiltjie kan knip nie – wat nog te sê 'n oog kan toemaak,” kom dit van die uil, “het ek besluit om my te verlekker in die soete ambrosia  wat een van die gode my as present gegee het. As dit jou welgeval, sal dit vir my 'n voorreg wees as jy dit saam met my geniet." Die kriek willig toe dadelik in, nie net was hy vreeslik dors nie, maar ook besonders gevlei deur die heuningkwas wat uil hom om die mond gesmeer het. Hy vlieg dan toe ook dadelik op na waar die uil hom bevind. Die uil maak hom toe summier tuis voor die ingang na die gat in die boom – dis om te keer dat die kriek nie uitkom nie – en bring 'n einde, nie net aan die kriek se geraas nie, maar aan die kriek se lewe. Dit waartoe die kriek nie in hierdie lewe kon instem nie, het hy op die ou einde toe wel in sy dood bemeester.

'n Meer onlangse variasie:

‘n Uil, gewoond daaraan om snags te jag en bedags te slaap, word helder oordag deur ‘n sprinkaan se getjirp uit sy slaap gehou en hy vra hom mooi asseblief tog stil te bly. Die sprinkaan weier om toe te gee, of selfs net ‘n bietjie eenkant toe te skuif. Gevul met eiewaan tjirp hy trouens al hoe vinniger en harder, hoe meer die uil hom smeek om stil te raak. Dit is toe dat die uil genoop word om sy strategie te verander:  “Met die dat ek onder die skone klanke wat jy voortbring, en glo my dis mooier as die mooiste vioolmusiek, beslis nie sal kan slaap nie, gaan ek hierdie musikale interlude afrond en vervolmaak met ‘n kelkie van die soetste nektar wat Moeder Natuur my onlangs geskenk het. Voel vry om jou by my aan te sluit, dis nou as jy van sulke soete nektar hou, en dan geniet ons dit saam.” Die Sprinkaan, nie net dors nie, maar ook daartoe verlei deur die uil se aanprysing van sy mooi musiek, vlieg met groot entoesiasme die lug in om hom by die voël aan te sluit.  Dis toe ook mooi op hierdie punt dat die uil uit haar donker skuilplek tussen die blare kom, afduik, die sprinkaan doodmaak en verder gaan slaap sonder om hom eers te eet, want uile jag snags.

Wednesday, 19 June 2013

Die steekvlieg en die trekdonkie


'n Lastige ou steekvlieg wat haarself op die juk tuisgemaak het, begin die trekdonkie toe lastig val:  “Nee maggies man, jy stap gans te stadig,” sê sy, “kan jy nie net ‘n bietjie vinniger nie as dié ou slakkepassie nie! As jy nie pasop nie steek ek jou sommer nou, al in die rondte om die nek, net om bietjie lewe in jou en jou gevrekte stram kuite te blaas!” Die donkie gee die vlieg een lang rustige kyk en sê: “Dit pla my net mooi niks wat jy te sê het nie – die enigste ding waaraan ek my steur is die man met sy sweep hier agter op die bankie – hy bepaal die pas, hy jaag my aan as dit nodig is en trek my weer in as dit moet. Hy bepaal die inval en die uitspan. En wat meer is – daarom ook dat ek nie tyd vir jou en jou grootpraatjies het nie – ek weet lankal vanself wanneer ek veronderstel is om te hardloop en wanneer nie."


Hierdie fabel kan gebruik word om te verwys na iemand wat dreigemente rondgooi sonder dat hy of sy enigsins die krag of die mag het om dit tot uitvoer te bring.

Tuesday, 18 June 2013

Die swael en die kraai

fotobron
Die swael en die kraai het stry gekry oor wie van die twee die mooiste was. Sê die kraai toe vir die swael: “Jou skoonheid sien ons ook net in die lente, en kom winter, dan is dit nie daarteen opgewasse nie. My uiterlike, aan die ander kant, weerstaan sowel die koue van die winter as die hitte van die somer.”

Die fabel wys dat die liggaam se krag en gesondheid veel meer werd is as fisieke skoonheid of die aanvalligheid van die jeug.

'n Minder klassieke variasie:

Die swael en die kraai het stry gekry oor hul vere. Talle gedagtes en argumente is heen en weer gegooi, maar kraai het spoedig ‘n einde aan die gesprek gebring: “Jou lieflike vere is alles goed en wel in die lente en somer, maar kom die herfs, is dit nie meer goed genoeg nie en moet jy na ‘n warmder land vertrek, dan, op daardie punt, én dwars deur die hele winter, beskerm my vaal en vervelige veredos my deeglik teen die koue.



Mooiweersvriende, soos die swael se vere, is op die lange duur nie veel werd nie.

Monday, 17 June 2013

Die impala in die beeste se stal


‘n Impala, moeg gejaag deur ‘n trop jaghonde, en van pure vrees heeltemal blind vir die gevaar wat hy nader, gaan soek op die plaaswerf skuiling tussen ‘n spul beeste in die stal. ‘n Os staan nader en waarsku hom vriendelik: “O, jou stomme dier, hoe kan jy so op eie houtjie dobbel met die dood deur skuilplek te kom soek op die werf van jou grootste vyand?” “Laat my net toe,” antwoord die impala, “om hier tussen julle strooi weg te kruip, tot ek kans kry om te ontsnap.” Agtermiddag toe kom die beeswagter verby om die beeste te voer, maar hy sien nie die bok raak nie; ook nie die melkman, staljonge en ‘n hele aantal ander plaasarbeiders wat daar inkom, kry enigsins selfs net ‘n snuf in die neus nie. Die impala wens homself geluk met die veilige hawe wat hy vir homself gevind het en begin die beeste een-een bedank vir die hulp en bystand wat hulle hom in die uur van sy hoogste nood gebied het. Een staan egter nader met dié woorde:  “Ons beste wense vergesel jou, maar die gevaar is lank nog nie verby nie – daar is nog één wat deur die stal moet beweeg, een met ‘n honderd oë, by wyse van spreke. En voor hy nie gekom, en eers weer gegaan het nie, hang jou lewe nog in die weegskaal. Met dié kom die Boer hoeka daar ingestap en oor hy al vantevore rede had om te kla dat die beeste nie genoeg gevoer word nie, inspekteer hy dadelik hulle krippe. “Het ons dan nou ‘n tekort aan hooi? Hier is nie eers die helfte genoeg strooi vir die diere om op te slaap nie! Vir wat lê hierdie melkemmers die wêreld vol? Die niksnuts van ‘n staljonge het nie eers die spinnerakke weggevee nie.” So gaan hy alles in die stal sorgvuldig deur en bespeur, bykans binne enkele oomblikke reeds, die bok se een hoef waar dit tussen die strooi uitsteek. Dis dan ook hy wat die arbeiders ontbied met die bevel dat hulle die dier van kant moet maak en tot die volgende oggend kan laat hang voor hulle hom verder afslag en opsny vir die pot.


Friday, 14 June 2013

Die koedoekoei in die mopanieveld



Die voortvlugtende koedoekoei het inderdaad daarin kon slaag om tussen die digte blare van 'n ruie mopaniebos skuiling van die jagters gevind. Die oomblik toe die jagters verby is, het sy egter aan die jong blare en lote begin vreet. Een van die jagters het 'n geritsel gehoor, omgekyk, die bok gewaar en onmiddellik platgetrek. Sterwend prewel die bok:  “Dis my verdiende loën – waarom moes ek die mopanie wat my goedgesind was en my lewe gered het, soveel skade berokken om daarvan te wil staan en vreet?"


Hierdie fabel wil waarsku om die wat jou goed aandoen, nie te na te kom nie.

Thursday, 13 June 2013

Die koedoe, die hiëna en die skaap


As 'n leuenaar, in ewe guur oneerlike geselskap, met jou wil besigheid doen, is dit nie net om 'n goeie slag te slaan nie maar om vuil en gemene spel te pleeg daarby:


'n Koedoe stap toe mos getrou aan sy aard steeds lugtig en versigtig nader plaaswerf toe, reguit af op die skaap om 'n proeseltjie of wat van dié se wintervoer te leen. Hy verseker haar sy kan maar houtgerus wees, sy goeie vriend die hiëna sal self borg staan vir die lening. Die skaap is egter nie so veel van ‘n skaapkop soos waarop die koedoe gereken het nie, sy kon die moeilikheid op 'n afstand sien aankom en antwoord: “Jou vriend hiëna het ek leer ken as een wat sommer net vat wat hy wil hê en dan koers kry, jy, op jou beurt, is 'n kalant wat met die geringste windjie van verandering vinnig voet in die einste wind slaan. Wat is die kans dat ek, hier agter heinings ingeperk, enige een van julle twee opspoor as ek dit wat my toekom, terug wil vra?”

Wednesday, 12 June 2013

Die ander twee paddas



Die twee paddas was bure, en hoewel naaste bure, weliswaar steeds ook oor 'n redelike entjie heen want die een het in 'n verspotte klein opslagpoeletjie teenaan die pad, en die ander in standhoudende diep poel verder die veld in, gebly. Die een met die veel beter blyplek nooi toe sy versukkelde maat teenaan die pad om saam met hom te kom bly. Daar is immers meer as genoeg plek en kos en water vir hul beide, maar meer nog, weg van die pad en diep in die veld in, is ‘n padda nie aan naastenby soveel spanning uitgelewer as teen die verkeer nie – wie wil na alles ook nou dag in en dag uit in vrees en bewing lewe dat ‘n verbykomende wa jou straks kan trap. Hierdie gunstige aanbod word egter vriendelik van die hand gewys aangesien die padpoeletjie-padda dan nou kwansuis al so gewoond en geheg aan sy lekseltjie water is, dat hy homself daarvan net nie los sal kan skeur nie. En dit was ook nie lank nie, toe is dit met die padda soos met die doringboompie langs die pad – toe kom daar 'n wa met osse langs en trap die padda plat.

Net so is dit ook met mense wat hulle ophou met die een of ander nuttelose aktiwiteit, voor hulle weet, dan sit hulle met niks.



Tuesday, 11 June 2013

Die twee paddas


Toe die droogte kom en die versengende son droog die twee paddas se poeletjie op, sit hulle af op soek na ‘n nuwe, beter blyplek. Dit was ook nie lank nie of hulle kom af op ‘n diep waterput met duidelik meer as genoeg water wat van ver onder aanloklik wink en blink. “Nou maar waarom wag ons dan, kom laat ons spring,” kom dit van die een padda, “hier is nie net oorvloed water nie, maar ook genoeg kos, en selfs skuiling, sou die nood dreig. Die tweede een openbaar meer omsigtigheid:  “Hoe miskien gemaak as dié blink put óók opdroog? Hoe kom ons dan weer van daar onder tot hier bo?”


Nou kan ons allitereer, dink voor jy doen, of assoneer, dink en besin voor jy begin.

Monday, 10 June 2013

Die veewagter en die verlore bulkalf

fotobron
‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een van sy bulkalwers iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse soektog maak hy plegtig belofte dat hy, sodra hulle voltallig tuis kom, een van sy boklammers aan die voorvaders sal offer, ás hy dan tog net eers die veedief wat met sy bulkalf daar weg is, kan vastrek. Dis ook nie lank nie, terwyl hy steeds soekend en biddend in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van die heuwel besig om aan sy verlore bulkalf te vreet. Onmiddellik rig hy hom weer hemelwaarts: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank ek net die dief van my kalf kan opspoor. Na wat ek nou hier voor my sien, staan ek die bulkalf met liefde af, die beloofde lam ook, én sommer nog die teelbul daarby, solank ek self tog net heelhuids en met my lewe van hierdie dief af kan kom."

Friday, 7 June 2013

Die verliefde leeu

‘n Leeu was tot oor sy ore toe verlief op die veldwagter se dogter en het daarop aangedring om met haar te trou. Natuurlik wou die veldwagter nie veel hiervan weer nie, maar was aan die anderkant tog ook skrikkerig vir wat die baardmannetjie hulle nie alles sou kon aandoen as hy nie sy sin kry nie. Gevolglik willig hy in, op een voorwaarde egter, dat die leeu sy tande en naels laat uittrek – sy dogter was skynbaar daarvoor baie bang. Die liefde word nie verniet blind genoem nie; Leeu is maar al te inskiklik en skiet summier daar weg om die uittrekery oor en verby en agter die rug te kry sodat sy huweliksbootjie se nooiensvaart kan begin. Toe hy ‘n ruk later met pappe bek en sawwe kloue kloue daar aangestap kom om sy bruid te kom haal, toe gryp die veldwagter sommer ‘n dikkerige knoets van ‘n stok en jaag vir Leeu terug die bos in, ver teen die berg op en anderkant weer af ook. 

Thursday, 6 June 2013

Die tollie en die os


‘n Opgeskote jong tollie sien oor ‘n afstand hoe hard ‘n ou os onder die juk en voor ‘n ploeg in die boer se saailandjie werk. Daardie aand spot hy die os oor sy noodlot om sulke sware arbeid te verrig, terwyl hy wat tollie is, ‘n lui-lekker lewe in ‘n groen kampie kan geniet. Maar kort hier na toe die hele stat en kraal in gereedheid gebring word vir ‘n bruilofsfees, word die os ‘n tydlank van sy dagtaak onder die juk verlos, maar die tollie aan die anderkant met rieme platgebind en die seremoniële spies deurboor om sy lewe as offer aan die voorvadergeeste te gee. Die os sien wat besig is om te gebeur en sê glimlaggend vir homself:  “So dís hoekom jy ‘n luilekker lewe van niksdoen in die kampie gegun is – jy is mooi vet gevoer omdat jy toe al die tyd op die punt gestaan het om geoffer te word.”



Wednesday, 5 June 2013

Die visser en sy nette



fotobron

Dis baie keer soos met die visserman wat daagliks die wonderlikste vangstes in sy net boot toe intrek. Met jare se ervaring en vaardigheid slaag hy daarin om net die heel grootste en beste visse op die boot te laai, maar in al hierdie tyd en dae kon hy nog nooit iets daaraan doen om te keer dat tientalle van die kleiner vissies deur die oë van sy netwerk glip en terug swem veilige waters toe nie.

Tuesday, 4 June 2013

Die vlakvark en die jakkals


‘n Vlakvark staan onder ‘n groot ou bosveldboom en poets sy lieflike stel tande teen die stam wat op ‘n kol, oor baie jare se poets heen, sommer al blink geskuur is. ‘n Jakkals draf verby en vra hom waarom op deeske aarde hy dan juis nou sy tande in die gereedheid staan en kry, en dit terwyl daar so duidelik soos daglig, onder die son hoegenaamd geen gevaar van óf ‘n jagter, óf ‘n leeu in sig is nie. “Ek doen dit doelbewus nou,” kom dit kortaf van die Vlakvark, “wat baat dit my ek het nodig om die goed te slyp op ‘n tydstip in my lewe wanneer ek dit meer nodig het om hulle vir my eie verdediging in te span?"

Monday, 3 June 2013

Die klipspringer en die hiëna


fotobron

Die klipspringer was hoog op 'n rotslysie tussen kranse aan het wei toe ‘n hiëna, tot die dood toe honger, hom van onder gewaar. Onmoontlik vir hom om met sy bene by haar uit te kom, probeer hy toe maar met woorde:  “Jou stomme skepsel! Vir wat het jy die lieflik ruie, groene grasveld hier onder vaarwel geroep om jou lewe daar bo in die hoogtes in gevaar te stel agter 'n paar ou vaal en verdroë bossies aan? Jy soek mos nou vir niks anders nie moeilikheid daar bo – dis ook nie net baie veiliger hier onder nie, hier is sommer hope kos daarby ook!.” Nee, dankie” antwoord die klipspringertjie, “dis nie in belang van my veiligheid, my eetlus, my smaaksin óf my kosvoorkeur dat jy my afroep ondertoe nie, maar suiwer in belang van joune, jou maag en sy volgende maaltyd daarby ingereken.”

Wees altyd op die uitkyk vir raad en advies van ander wat dikwels net tot hul eie voordeel is en jou op die lange duur tot nadeel strek.