'n Lastige ou steekvlieg wat haarself op die juk
tuisgemaak het, begin die trekdonkie toe lastig val: “Nee maggies man, jy stap gans te stadig,” sê
sy, “kan jy nie net ‘n bietjie vinniger nie as dié ou slakkepassie nie! As jy
nie pasop nie steek ek jou sommer nou, al in die rondte om die nek, net om
bietjie lewe in jou en jou gevrekte stram kuite te blaas!” Die donkie gee die vlieg
een lang rustige kyk en sê: “Dit pla my net mooi niks wat jy te sê het nie –
die enigste ding waaraan ek my steur is die man met sy sweep hier agter op die
bankie – hy bepaal die pas, hy jaag my aan as dit nodig is en trek my weer in
as dit moet. Hy bepaal die inval en die uitspan. En wat meer is – daarom ook
dat ek nie tyd vir jou en jou grootpraatjies het nie – ek weet lankal vanself wanneer
ek veronderstel is om te hardloop en wanneer nie."
Hierdie fabel kan gebruik word om te verwys na iemand wat dreigemente
rondgooi sonder dat hy of sy enigsins die krag of die mag het om dit tot
uitvoer te bring.