‘n Leeu was tot oor sy ore toe verlief op die veldwagter
se dogter en het daarop aangedring om met haar te trou. Natuurlik wou die
veldwagter nie veel hiervan weer nie, maar was aan die anderkant tog ook skrikkerig
vir wat die baardmannetjie hulle nie alles sou kon aandoen as hy nie sy sin kry
nie. Gevolglik willig hy in, op een voorwaarde egter, dat die leeu sy tande en
naels laat uittrek – sy dogter was skynbaar daarvoor baie bang. Die liefde word
nie verniet blind genoem nie; Leeu is maar al te inskiklik en skiet summier
daar weg om die uittrekery oor en verby en agter die rug te kry sodat sy huweliksbootjie se nooiensvaart
kan begin. Toe hy ‘n ruk later met pappe bek en sawwe kloue kloue daar
aangestap kom om sy bruid te kom haal, toe gryp die veldwagter sommer ‘n
dikkerige knoets van ‘n stok en jaag vir Leeu terug die bos in, ver teen die
berg op en anderkant weer af ook.