Die twee paddas was bure, en hoewel naaste bure, weliswaar
steeds ook oor 'n redelike entjie heen want die een het in 'n verspotte klein opslagpoeletjie
teenaan die pad, en die ander in standhoudende diep poel verder die veld in,
gebly. Die een met die veel beter blyplek nooi toe sy versukkelde maat teenaan
die pad om saam met hom te kom bly. Daar is immers meer as genoeg plek en kos
en water vir hul beide, maar meer nog, weg van die pad en diep in die veld in, is
‘n padda nie aan naastenby soveel spanning uitgelewer as teen die verkeer nie – wie wil na alles ook nou dag
in en dag uit in vrees en bewing lewe dat ‘n verbykomende wa jou straks kan
trap. Hierdie gunstige aanbod word egter vriendelik van die hand gewys
aangesien die padpoeletjie-padda dan nou kwansuis al so gewoond en geheg aan sy
lekseltjie water is, dat hy homself daarvan net nie los sal kan skeur nie. En
dit was ook nie lank nie, toe is dit met die padda soos met die doringboompie
langs die pad – toe kom daar 'n wa met osse langs en trap die padda plat.
Net so is dit ook met mense wat hulle ophou met die een of ander
nuttelose aktiwiteit, voor hulle weet, dan sit hulle met niks.