Die veewagter en die verlore bulkalf
‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een
van sy bulkalwers iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse
soektog maak hy plegtig belofte dat hy, sodra hulle voltallig tuis kom, een van
sy boklammers aan die voorvaders sal offer, ás hy dan tog net eers die veedief wat
met sy bulkalf daar weg is, kan vastrek. Dis ook nie lank nie, terwyl hy steeds
soekend en biddend in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van
die heuwel besig om aan sy verlore bulkalf te vreet. Onmiddellik rig hy hom
weer hemelwaarts: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank
ek net die dief van my kalf kan opspoor. Na wat ek nou hier voor my sien, staan
ek die bulkalf met liefde af, die beloofde lam ook, én sommer nog die teelbul
daarby, solank ek self tog net heelhuids en met my lewe van
hierdie dief af kan kom."