‘n Groepie vakansiegangers wat rustig strandlangs stap, roep halt toe hulle hulself, na ‘n stewige stukkie klim en klouter teen ‘n steilerige rotswand op, skielik by ‘n lieflike uitsig oor die see bevind. Van daar bo vang ‘n dobberende stuk dryfhout in die verte die een se oog. Gou is almal onder die wanindruk dat dit ‘n groot skip moet wees wat op die horison oppad hawe toe is. Lank het hulle daar gestaan om die skip se vordering dop te hou, want dit lyk dan toe nou ook of die skip reg op hulle afstuur en nie verby vaar hawe toe nie. Soos wat die wind en die seestrome die dryfhout egter al hoe nader bring, verander hul verwagting ook gaandeweg; dit moet die een of ander kleiner tipe boot wees. Op die ou einde dan eerder ‘n skuit, of self iets nóg kleiner – ‘n vlot miskien. Toe dit so naby is dat ‘n mens sou kon uitswem soheentoe, en die son ook al sterk begin water terk, snap hulle skielik dat dit al die tyd niks anders as ‘n verrotte stuk dryfhout is nie. “Hoe dom van ons,” het die een man insig genoeg om op te merk, “hier koester ons al die tyd hierdie wonderlike verwagting van iets wat op die ou einde blyk om niks te wees nie.”
Dieselfde is waar van mense. Hoe dikwels is ons nie in vervoering oor iemand wat ons nog net van gehoor en gesien het, maar nie ontmoet het nie. Doen die geleentheid hom dan wel voor, en ons leer ken die persoon eers van nader, besef ons dan dat daar van al die wonderlikheid eintlik niks is nie.