Thursday, 28 February 2013

Leeu en Bobbejaan


Leeu kom drink water by die rivier. Van hoog bo in ‘n groot ou Anaboom se een droë  mik hou ‘n bobbejaan hom dop terwyl hy rustig en afgemete suip. En daar trek Kees vanuit die bloute los met allerhande van die allervreeslikste en –ongeskikste op- en aanmerkings denkbaar. Die leeu wat onder omstandighede nie veel meer kan doen as om bloot maar net op sy tande te byt nie, laat, toe hy eers klaar gesuip het, wél binnensmonds van hom hoor:  “Laat ons tweetjies mekaar nou mooi verstaan, mannetjie - dis suiwer omstandighede wat jou beledigings moontlik maak. Jy, jouself, het onder hierdie son net mooi niks om op te roem nie."

Ook goed om in ons eie alledaagse handel en wandel te onthou dat slegs tydelike omstandighede, miskien iets soos die regte tyd of plek, dit somtyds, maar ook net vir ‘n baie kort rukkie, vir die swakke moontlik maak om voordeel bo die sterkere te geniet.

Die berg in barendsnood


Die berg daar anderkant was eens op ‘n tyd hoogs omgekrap. Talle harde kreun- en steun- en ander onaangename, miskien selfs ongeskikte, geluide is ‘n hele geruime ruk, al om die ander dag, gehoor. Toe raak die intervalle korter. Van heinde en verre het mense gekom om te kyk wat met die berg skort; gerugte het selfs die ronde gedoen dat die berg in kraam is en die ongewone gedrag niks anders as uitinge van ekstreme barendsnood is nie. Terwyl die nugterder denkendes solank in afwagting gereed staan om getuie te wees van ‘n rotsstorting, ‘n natuurramp soos ‘n aardbewing, of self ‘n vulkaniese uitbarsting, kom daar, sonder ‘n boe of ‘n ba van enige aard hoegenaamd, op die ou einde toe mooitjies niks anders nie as ‘n muis deur ‘n gleufie in ‘n rots uitgekruip. Niks meer nie. Tot vandag toe selfs, het die berg nog nie weer so veel as gepiep nie. En dis hoe dit gekom het dat die berg ‘n muis gebaar het.

Ons gebruik hierdie uitdrukking ongeveer 2000 jaar later steeds as ons na mense met groot dreigemente, waarvan daar op die ou einde niks gekom het nie, wil verwys.

Vaaljas grawe sy eie gat

FOTOBRON
Vaaljas was rustig in sy kampie aan’t weie toe ‘n uitgehongerde rondloper leeu hom saggies vanuit die nabye ruigte bekruip. Hy was dan ook mooitjies op die punt om hom te bespring en plat te trek, toe ‘n haan, skielik, helder oordag, daar van eenkant op ‘n hoekpaal, allervreeslik aan die kraai gaan. Nou waarom dit so is kan ons vandag met al ons kennis steeds nie sê nie, maar dit staan soos ‘n paal bo water, donkiesjare al:  as daar nou een ding is wat enige leeu sommer ‘n groot ongeskikte skrik op die lyf jaag, dan is dit ‘n haan, enige haan, se gekraai. En daar spring ons Leeu, getrou aan sy aard, onmiddellik om en slaan al skarrelend voet in die wind – jy sien net stof en bossies trek. Toe Vaaljas eers besef hoe min dit gevat het om die Leeu te laat rieme neerlê, is hy skoon oorstelp en skep hy sommer oorgenoeg moed bymekaar om die dierasie op eie houtjie aan te val; hy begin hom agterna jae met net een doel voor oë en dit is om hom te verskeur. Hy het egter nie juis danig lank of alte vreeslik ver gehardloop nie (eintlik net tot Leeu buite hoorafstand van die haan se luidrugtige gekraai was), toe die Leeu skielik in sy vier spore vassteek, om ruk, hom aan die nek gryp en so gou soos nou aan flarde skeur.
Dit is mos nou maar een maal soos dit is: valse vertroue lei dikwels tot veel groot gevaar.
Dieselfde gebeur ook met ons mense: sodra die een sy vyand verleë sien, matig hy homself aan – en juis daardie houding en gedrag van hom maak dit dan vir sy vyand moontlik om hom te vernietig – selfs nog voor hy tyd had om self die kloutjie mooi by die oor te kon bring.

Dis nie net in die Klassiek Griekse kultuur dat ons by herhaling ‘n leeu se vrees vir hanegekraai raakloop nie. Ook uit Persië en die Moslemgeskrifte, in talle Middeleeuse diereboeke duik dit op. Moontlik sluit dit aan by die basiliske, hekse en ander nagtelike gedaantes en gediertes wat ook almal vir hanegekraai bang is, juis miskien omdat die haan die koms van die dag, en daarom die einde van hul nagtelike eskapades, aankondig.

 

Die driemanskap van die veld

fotobron
Leeu, Jakkals en Streepdonkie gaan ewe plegtig ‘n samewerkingsooreenkoms aan: voortaan, as dit by jag kom, sal hulle drietjies mekaar bystaan. Na ‘n eerste hoogsuksesvolle vangs versoek Leeu vir Streeponkie om die vangs regverdig tussen die drie jaggenote te verdeel. Streepdonkie doen wat van hom verwag word – hy verdeel die vleis mooi versigtig en presies in drie ewe groot porsies en bied nogals beskeie aan dat die ander twee eerste ‘n keuse kan uitoefen. Leeu bars egter in ‘n verwoede tirade uit, dood die stomme sebra summier en verorber hom op die plek. Terwyl hy sy lippe selfgenoegsaam aflek, vra hy Broer Jakkals oomblikke later om die prooi op sy beurt tussen hulle oorblywende twee te verdeel. Hierop sleep Jakkals alles wat hulle gevang het oorhaastig op ‘n slordige hoop en laat vir homself enkele seninkies, in wese niks meer as ‘ n taai ou draderige peuselhappie nie, eenkant na. Leeu wil hierop in ‘n seremoniële stem weet wie dit dan nou was wat hom die fynere kuns van verdeling so mooi aangeleer het, want dis duidelik dat hy ‘n meester op die gebied is. Waarop die Jakkals ewe serieus antwoord: “Streepdonkie het my dit geleer, bloot deur toe te laat dat ek hom dophou.”

Bevoorreg is die man wat homself toelaat om uit die slegte lotgevalle van ander te leer.

Leeu en Boer saam op een werf

fotobron
Daar stap Leeu toe een mooiweersdag die plaaswerf binne en Boer, wat hoeka manier soek om die ou baardmannetjie te vang, loop sluit onmiddellik die hek agter hom toe. En wat ‘n fout was dít nie gewees nie – toe die vasgevange Leeu agter die kap van die byl kom, saai hy eers verwoesting onder die pluimvee, toe maai hy onder die skape en bokke voor hy uiteindelik onder die beeste in die kraal ook inklim. Op hierdie punt, die bietjie vee wat hy had bykans almal daarmee heen, begin Boer selfs vir sy eie lewe, én die van die res van sy gesin, te vrees, en hy gaan gooi die hek veiligheidshalwe maar liewerster weer wawyd oop. Eers toe Leeu lankal met ‘n kwispel in sy stert in die stofpad af verdwyn het, waag Boervrou dit uit die kombuis se besemkas uit en kom sy af op haar bedroefde eggenoot waar dié sit en sanik en sy lot soos ‘n Job van ouds bekla. “Maar dis mos jou verdiende loon, jou skuld en g’n iemand anders s’n nie, my man!” berispe sy hom, “Vir wat het jy onsself wou loop opsluit met 'n gedierte waarvan enige mens met gesonde verstand, selfs oor 'n groot afstand heen, eerder weg moet hardloop? Jy, van alle mense, wie se broek beginne beef as jy leeu se kind nog net van dóérie anderkant af hóór brul?”
Op dieselfde wyse moet diegene wat hulle sterkere meerderes lelik opklits of verkeerd opvryf, bereid wees om die gevolge van hul dade te dra. Wie met vuur speel, moet immers nie kla as hulle hul vingers verbrand nie.

Monday, 25 February 2013

Leeu en hiëna

fotobron

'n Verhongerde ou leeu en ewe verrinneweerde amper haasbek hiëna was  aan’t baklei om besit van ‘n platgetrekte rooiboklammetjie. Die woeste geveg na die jag en jaag had beide oues van dae egter redelik uitgeput, om dit sagkens te stel. Net mooi net toe die een maar handdoek ingooi, hys die ander die wit vlag; hulle kom ooreen om maar eerder eers asem te skep. Tussen dit alles deur was daar hierdie hongerige jakkals wat met begerige oë die hele geveg lank al om hulle gesirkel het. Toe dié sien dat die twee afgeleefde jagters uitgeput met die stukkie prooi  tussen hulle neergeval het, storm sy in, gryp die karkas en slaan daarmee voet in die wind. Die leeu en die hiëna kon hulself helaas nie eers so ver kry om op te staan nie, laat staan nog die dier probeer keer; toe sit hulle maar net daar en hou die jakkals dop terwyl hy met sy buit tussen die bossies in verdwyn. “Watter sotte was ons nie,” kom dit van die twee, “ons gaan deur al die moeite en dit op die ou einde al die tyd dan nou net ter wille van jakkals-se-kind.”

Dit is nou maar eenmaal so dat die een wat met die wins wegkom, nie die een is wat die sweet ingesit het nie.

Sunday, 24 February 2013

Die baba-skoonheidskompetisie onder die diere

fotobron
So trek die nuus toe mos soos ‘n veldbrand deur die bos: daar gaan ‘n propperse kom-ons-kyk-wie-het-die-mooiste-baba kompetisie onder die diere van die bos en veld gehou word. Daar is allerhande groot pryse en goeterstes om na uit te sien op die spel  alles voorspel trouens om sommer ‘n heerlik gesellige gedoente te wees. Die oggend van die groot dag het ‘n bobbejaanmoeder met al die liefde en deernis eie aan enige ma tussen al die ander mammas daar aangestap gekom. Vreesbevange, verbete vasklouend, dán onder haar maag, dán bo op haar rug, het om vir die kompetisie aan te bied ‘n tingerige stukkie lelik; die onaansienlikste plooierige wit gevreetjie met die bakste van bakore – haar bykans haarlose verskoninkie vir ‘n kind. ‘n Luide gelag klink op toe sy naderstaan om te wil registreer. Maar ‘n moeder se liefde is nie iets wat gou van stryk gebring word nie en met ‘n hart wat oorloop merk sy baie beslis en met die wêreld se volste selfversekerdheid op: “Ek weet nie of my liefste ‘n toekenning van enige aard sal ontvang nie, maar een ding weet ek wel, en dit is dat hy, in die oë van sy moeder, by verre die mooiste, slimste en dierbaarste kleinding van almal vandag hier is.”

Saturday, 23 February 2013

Die neushoring en sy water

Fotobron

'n Neushoringvoël, skoon swak al van die dors, vlieg flouerig verby ‘n advertensiebord van die een of ander plaaslik gebottelde mineralewater; dis vrolik en verfrissend langs die pad in dorp toe by ‘n spoggerige padstal staangemaak. Hy is so bly om uiteindelik by so ‘n aanbod water uit te kom, daar pêrel glads waterdruppels teen die wande van die plastiekbottel en drinkglas af, dat hy nie vir een oomblik dink dis bloot maar net ‘n vyftig-keer-lewensgrootte foto op plaatmetaal aangebring nie; hy pyl met hernude energie reg op die waterglas af. Oomblikke later vlieg hy homself des disnis teen sy koue water, breek een van sy vlerke, slaat katswink neer grond toe en word kort voor lank deur ‘n rondloper kat opgemerk wat hom vang en opvreet.

‘n Insident wat maar net weer bewys dat ‘n mens se geesdrif en ywer nie jou gesonde oordeel moet aantas nie. Versigtigheid is altyd strate beter is as roekelose ondeurdagte haas.

Die twee hawelose paddas

fotobron

Teen hoogsomer, een wat daardie jaar besonder droog – die droogste in jare – was, droog die poel wat die twee paddas deel naderhand heeltemal op; noodgedwonge val hulle toe maar in die pad op soek na ‘n nuwe, natter blyplek. Dit was ook nie lank nie of hulle kom naby die ou vervalle murasie van ‘n plaasopstal af op die allerlieflikste, én –diepste, waterput. “Nou maar waarvoor wag ons dan, kom ons duik sommer dadelik in,” kom dit van die een padda wat solank in die gereedheidshouding kom om te spring, “hier is nie net weer meer as genoeg water nie, maar ook hope kos en selfs skuiling sou die nood dreig. Die tweede een openbaar gelukkig egter meer omsigtigheid: “En hoe gemaak as die put nou een mooi dag, soos ons ou poel vaneffe, sou opdroog? Hoe kom ons dán weer van daar onder waar die watervlak so mooi aanlokkend blink tot hier bo waar ons redding dan sal wink?”

Dink daarom voor jy doen, besin eer jy begin.

Friday, 22 February 2013

Die donkie en sy skaduwee

fotobron

‘n Man huur toe op die ou einde maar ‘n donkie en sy aandrywer om hom en sy goed van iewers tussen nêrens en êrens al die pad op die dorp te kry. Op die warmste van die dag en onder ‘n skroeiende son roep hy egter eers ‘n wyle halt. Hy klim van die donkie af en gaan maak homself tuis in die enigste stukkie skaduwee wat daar is – die lekseltjie skadu wat die esel en sy vrag kan bied as die son homself lynreg bo ‘n man se kop bevind. Oor hierdie flentertjie skaars genoeg is vir een mens, en die aandrywer toe op die koop toe ook daarop aanspraak maak, ontstaan daar spoedig ‘n hewige rusie tussen die twee oor wie nou eintlik gebruikreg op die donkie se skadu het. Die huurder is van mening dat hy vir die dienste van die esel betaal het en dat die gebruik van sy skaduwee daarom by die diens ingesluit is. Die eienaar redeneer weer hy het die donkie te huur aangebied, maar beslis nie sy skaduwee nie. Dis ook nie lank nie of die twee verruil hul tonge vir vier appels wat wild en wakker rondgeswaai word. Oomblikke later klim hulle lelik onder mekaar in. Dis ook net toe hulle in die stof begin rol, dat die esel so by homself van dit alles ook net mooi genoeg had, die twee net so gestrand in die kale son daar los en met ‘n vinnige kapoete-kapoete-kapat, die verte in weg galop .

Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons iets kwyt is, dit eintlik op ‘n skinkbord prysgee, en dit terwyl ons pieker oor iets kleinliks soos die besitreg van ‘n donkie se skaduwee nie.

Hierdie fabel, afgerond aangebied soos hier, is nie 'n klassieke fabel nie. Dis wel 'n fabel binne 'n klassieke fabel wat 'n heel ander boodskap en strekking het. Ek plaas dit weer en wonder of mens dit sou kon verafrikaans met iets soos koeitjies en kalfies, juis omdat die Grieke idiomaties van “die esel se skaduwee” gepraat het, as hulle na koeitjies en kalfies en ander beuselagtighede verwys het.

Hulle sê dat Demosthenes tydens 'n groot samekoms in Athene nie die geleentheid gegun is om sy toespraak te lewer nie Hy kry egter die gehoor se aandag met die boodskap dat hy slegs 'n paar woorde wou spreek. Toe die skare stil geword het, begin Demosthenes sy vertelling:  “Dit was hoogsomer en 'n jong man het die dienste van 'n donkie gehuur om hom van Athene na Megara te neem. Op die middaguur, die hitte van die dag toe die son op sy felste skyn, wou sowel die jong man as die donkie se aandrywer hulself in die skadu van die donkie tuismaak. Uit die woordewisseling wat ontstaan het, het 'n gestamp en stoei gevloei, en kort voor lank toe baklei die twee vir 'n plekkie in die skaduwee. Die donkie se eienaar hou vol dat die man die donkie gehuur het, maar nie sy skaduwee nie; die jong man is egter van mening dat hy die donkie en alle regte daaruit voortspruitend gehuur het.” En toe hy tot hier gekom het met sy storie, het Demosthenes sy rug op die gehoor gekeer en weggestap. Hierop roep die skare toe uit dat hy moet stop en vra of hy dan nie lus het om sy storie klaar te vertel nie. “Inderdaad,” kom dit van Demosthenes, “maar julle wil van die donkie se skaduwee hoor, terwyl julle weier om aandag te gee as iemand oor belangrike sake met julle wil praat.”

Thursday, 21 February 2013

Die den en die wag-'n-bietjie aan haar voet

fotobron

‘n Uitheemse denneboom met ‘n effense meerderwaardigheidskompleks merk op ‘n mooi dag uit die hoogte teenoor die wag-‘n-bietjie op:  “Jy is eintlik darem maar regtig ‘n nuttelose ou bosgasietjie; in jou diepste siel en wese niks anders as net ‘n oorlas vir mens en dier nie. Ek, aan die ander kant, is nie net pragtig nie, maar lieflik lank en slank daarby. Ek groei kiertsregop, hemelhoog; die wolke tree met my in gesprek – hulle noem my selfs vriendin. Ek word tot groot voordeel en stigting aangewend in byvoorbeeld die dakkappe van huise, ook die meubels in daardie einste huise. Ek verskaf die stadsaal sy dak, die skip sy kiel.” “O, jou stomme boom,” antwoord die Braambos, “laat my toe om jou vir net ‘n oomblik te herinner aan die etlike soorte sae en tientalle byle wat geslyp gereed staan om jou, jou geslag én ganse nageslag, tot op die grond toe af te maai – dit behoort jou rede genoeg te gee om te hoop dat jy destyds eerder maar as ‘n simpel ou wag-‘n-bietjie-bos, en nie as ‘n hoogedel denneboom nie, jou stammetjie deur die grond se kors gestoot het.”

En dit ís so:  ‘n vername man het inderdaad meer roem en glorie as die gepeupel, maar hy word ook aan veel meer en groter gevare blootgestel.

Eweso daarom ook eerder gebrek, sonder enige kommer en sorge, as rykdom en welvaart, maar met ‘n oorvloed slapelose nagte en probleme daarmee saam.

fotobron

Wednesday, 20 February 2013

Die bokwagter en die bababokkie


Die bokwagtertjie het die ganse agtermiddag na ‘n moedswillige boklam wat van die res van die trop afgedwaal het, gesoek. Hy spoor die dingetjie uiteindelik, net-net buite sy bereik, op ‘n hoë, smal rotslysie op, maar dit maak nie saak hoe hy ook al roep en fluit en skree nie, die parmantige bok ignoreer hom en knibbel rustig voort. Uit pure radeloosheid tel hy toe maar uiteindelik ‘n klip op en gooi dit na die bok – dis raak, maar ongelukkig só raak dat dit die bok se een horing morsaf breek. Die wagtertjie smeek by hom om tog nie vir die boer daarvan te vertel nie. “O, jou lawwe ventjie,” antwoord die bok vermakerig, “selfs al bly ek ook hóé stil hieroor, die stukkende horing gaan mos dadelik, sonder dat hy kan praat, al die praatwerk vanself doen!”

Net so moet ons moet nie soos die bokwagter wees wat dinge wil wegsteek wat nie weggesteek kan word nie.

Tuesday, 19 February 2013

Die leeuin en haar welpie


Die dames van die veld het ook maar hul onderlinge klein geskilletjies. Hierdie dag het ‘n klompie van hulle dit oor watter een onder hulle dan nou die meeste kleintjies op ‘n slag die lewe in bring; die een met die grootste werpsel is dan tog sekerlik die waardevolste van al die mammas. So maak hulle ook al geselsende en tellende by Leeuwyfie ‘n draai om te verneem hoe groot haar werpsel is. “O, nee,” lag sy met edel grasie, “ek kry maar net een troonopvolger op ‘n slag, maar dan moet julle onthou dat hy of sy, elke duim, van die kroontjie, al die pad af tot by die toontjie, ‘n opreggeteelde Leeu is.”

Die waarde lê nie in hoevéél nie, maar hoe góéd – dis soos ons dikwels sê: kwaliteit en nie kwantiteit nie.

In sy oudste vorm klink die storie effe anders en was dit in sommige gevalle 'n sog, in ander 'n jakkals, wat die leeuwyfie konfronteer het:

Die storie wil dit hê dat hierdie vlakvarksog wat sopas 'n moerawiese werpsel skreeuende maer klein varkies die lig laat sien het, die leeuwyfie vermakerig konfronteer: “En aan hoeveel kinders gee jy miskien geboorte?” “O, ek verwek net een op ‘n slag,” kom dit van die leeu, “maar dan moet jy onthou dat hy baie goed geteel is.”

 ‘n Enkeling wat bo ander uittroon op grond van uitsonderlike fisieke krag, waagmoed en wysheid, is magtiger en veel meer werd as ‘n hele handvol swak en ruggraatloses.

Monday, 18 February 2013

Die storie van die nyalaooi en haar jong bulletjie


Fotobron
 “Ek weet nie wat dit met jou is nie, my seun,” kom dit van die njalaooi aan haar seun, “jy is mooi stewig soos die res van ons gebou, geseën met ‘n lieflike stel horings wat self ook al goed aan die aankom is. Vir wat jy daarom by die geringste teken van die een of ander ongedierte so skoon verskrik versteen, weet nugter. En slaan jy nie in jou vier spore vas nie, gaan jy so verbouereerd aan’t weghol dat dit eintlik ‘n aardigheid is.” Dis wat die ma gesê het, ja, inderdaad. En toe die tweetjies van hulle, nie lank daarna nie, bewus word van mense, of dit kon iets anders ook gewees het, in die verte, het sy hom ‘n tweede keer gepor om aan te gaan asof niks gebeur of voorgeval het nie. Dis nou voor sy self oomblikke lank skielik doodstil, stokstyf gevries het; en voor sy knap daarna so vervaard tussen die takke deur voet in die wind geslaan het, dat haar eie seun nie eers mooi kon uitmaak wát nou van sy ma geword het nie.

Net so moet die raad wat ons kop toe vat, kom van iemand wat self daad by die woord kan voeg. Dis immers maklik om met die mooiste raad te koop te loop wat jy self nie kan uitvoer nie.

Hierdie storie het 'n eietydse en plaaslike stertjie. Ek knoop gesels met een van die gebiedswildbewaarders in die Kruger Wildtuin aan, om seker te maak dat die gedrag wat hier beskryf word, wel aan 'n nyalaooi toegedig kan word. Na ek reeds versekering ontvang het dat ek die regte keuse uitgeoefen het, kry ek 'n dag of wat later, nadat ek mooi dankie gesê het die volgende in die pos:

"Regso Hans.

Ek kan byvoeg dat ek weet van ‘n geval destyds toe ek gestasioneer was by Punda Maria, dat ‘n njalabul teruggeval het om hulle te beskerm toe sy troppie deur poacher-honde aangeval is. Hy het met sy lewe geboet.

En wilde diere kry nie toekennings vir dapperheid nie."
 

Friday, 15 February 2013

Die osse en hul slagters


Fotobron

Vanweë die vyandiggesinde aard van slagters se beroep, besluit ‘n spul slagosse op ‘n dag om van elke enkele slagter onder die son waarop hulle hul horings kan lê, ontslae te raak. Die moppie groei gou aan tot ‘n groot groep wat opgerui saambondel en –maal terwyl die horings in voorbereiding van die verwagte veldslag op die nag van die skerp lang horings, vlymskerp gemaak word. Onder hulle was egter ook ‘n ouerige ou os wat op sy dag baie lang en moeilike myle, selfs op plekke waar daar destyds nog nie paaie was nie, as trekos onder die juk deurgebring het. Hierdie os maan toe onder die oproerige ander:  “Onthou net, kêrels, die slagters doen hul werk met geoefende hande sonder enige onnodige uitgerekte marteling, pyn of lyding. Dink net wat nie alles gaan gebeur, en die allervreeslike dood wat ons nie gaan sterf nie, beland ons nou hierna in die hande van nuwe onervare vakleerlinge nie! Een ding staan mos nou soos ‘n paal bo water – selfs sonder ‘n enkele slagter op die aardbodem oor, sal die mensdom se behoefte aan beesvleis nog lank nie daarmee saam verdwyn het nie. Daar sal altyd iemand wees om onder ons af te maai, al raak ons ook nou van die ganse huidige geslag slagters ontslae, dis nou maar wors.
Net so moet ons onthou dat iemand wat wil weghol van ‘n huidige gevaar mooi moet dink of hy homself nie straks later vanuit die vet, reguit in die vuur, waar sake nóg warmer is, gaan bevind nie.

Thursday, 14 February 2013

Die kat en die siek hennetjie


Op die werf was daar hierdie hen wat so effe olik, en glad nie haar goeie ou selwers nie, gevoel het. Die kat kom verby, buk gemaak belangstellend na haar kant toe oor en vra:  "En hoe gaan dit vandag met die lieflikste hennetjie in die hele kontrei? Hoe lyk dit my daar is strakkies iets waarmee ek kan help, iets wat jy nodig het? Onthou, wat jy ook al vra, hanteer ek as ‘n bevel. Pas jouself asseblief tog net mooi op en sorg dat jy nie nog sieker word nie, want ‘n...” “Ek sal vasbyt dankie,” knip sy hom kort. “Hoe verder jy trouens van my af weggaan, én bly, hoe groter word my kanse op oorlewing, hoe langer my en my ganse nageslag se lewensverwagting.”

Wednesday, 13 February 2013

Die storie van die skaap en die kraai

Fotobron
'n Propperse ou maaifoedie van ‘n kraai het homself op 'n stomme skaap se rug loop tuismaak sodat dié nie anders kon nie as om hom heeldag teen haar sin op haar rug rond te karwei nie. Maar na 'n ruk het die skaap ook nou net mooitjies genoeg van die vermetelheid gehad en merk sy op:  “Het jy dit wat jy vandag hier aan my doen, aan 'n hond gedoen, het jy so seker as ek leef nie daarmee weggekom nie – honde het slagtande, jy weet!” Waarop die astrante kraai toe afhaak met: “O, maar ons kraaie sien neer op skepsels soos jy wat hulself nie kan verdedig nie; aan die anderkant buig ons maar al te graag agteroor vir dié wat kan. Ons nasie weet goed wie om te misbruik en wie met vleitaal en leuens om die bos gelei moet word. Dis hoeka al waaraan ons luilekker lewens en die rype ouderdom wat ons almal haal, toegeskryf kan word.”

Die verwysing na die kraai se hoë ouderdom hou verband met die Grieke wat 'n volksgeloof gehad het dat kraaie baie oud, tot so lank as nege menselewens, kan word. Phaedrus noem trouens 1000 jaar in sy vertelling,die oudste wat ons het, van die fabel; iets wat vir die Grieke nie vreemd sou wees nie.

Tuesday, 12 February 2013

Vaaljas kyk noord en foeter voort


Fotobron
Vaaljas kry skielik lewe op daardie hoë, gevaarlike stukkie bergpad tussen doeriekant en hier, om die waarheid te sê, hy storm sommer as’t ware lynreg op die bloomin’ afgrond af. Met die dat hy toe nou met volle oorgawe op die punt is om homself van die krans af te werp, kry sy getroue touleier hom darem nog genadiglik aan die stertkwas beet en beginne klou en keer vir al wat hy werd is.  Esel-se-kind wil egter van niks weet as om reguit die afgrond in, af te wil neuk nie.  Die touleier laat los toe maar (wat anders kon hy doen?) en wel met die woorde: “Foeter dan nou maar voort, ás jy dan nou so graag as wenner uit hierdie simpel toutrekkery wat jy van stapel gestuur het, wil tree."
 

Hierdie fabel kritiseer diegene wat hulself deur hul eie onnosel toedoen vernietig.

Monday, 11 February 2013

Die haantjie en die verlore pêrel


fotobron
‘n Jong haantjie was in die werf se komposhoop aan’t skroppe agter kos aan, toe hy, van alle dinge, op ‘n verlore pêrel, afkom. Hy bestudeer dit aandagtig, vanuit alle rigtings, sy kop dan hierdie kant, dan daardiekant, soos net ‘n hoender wat op iets vreemds of verdag afkom, kan, en sê:  “Wat ‘n lieflike ding is jy nie!” roep die haantjie uit, “maar helaas ongelukkig op die verkeerde plek en tyd en in die verkeerde omstandighede. As iemand opsoek na iets van veel waarde jou tog nou net op kon gespoor het, dan sou jy in jou eertydse glorie herstel kon word; maar nou is dit ek, ‘n jong kapokhaan, wat veel meer waardering vir selfs net ‘n krieseltjie afvalkoring as ‘n hele snoer pêrels het. Hierdie oomblik hou daarom vir jou niks goed in nie; vir my, duidelik, nog minder.”

Die storie bêre ons liefs vir diegene wat nie weet hoe om ons te waardeer nie. Dit herinner ook aan ‘n sêding van Aristoteles:  “’n Esel verkies kaf ver bo goud, want esels put meer genot uit kos as uit goud.” Kosbare dinge is immers net kosbaar vir diegene wat dit ten behore na waarde kan ag.

fotobron

Ja, die heelboonste foto is alles behalwe die van 'n kapokhaan, soos die haantjie na homself verwys. Hy lyk vir my net meer na 'n plaashoender as die een hier bo.

Ek het die woord kapokhaan trouens net gebruik ter wille van die idiomatiese drakrag wat dit in Afrikaans het.

In die Phaedrus se bronteks (iewers uit die eerste 50 jaar na Christus se geboorte) is dit nie in die komposhoop nie, maar tussen plaasmis wat die haan skrop agter sy kos aan.

Sunday, 10 February 2013

Die boer en die slang


fotobron


Een bitterkoue wintersoggend vermurwe ‘n boer by die aanskoue van ‘n slang wat hy in ‘n bedenklike toestand langs die pad raakloop. Die dier lyk vir hom half dood van die koue en hy kan dit nie oor sy hart kry om die slang net so  aan homself uitgelewer te los om verder te verkluim nie. Hy ontferm hom toe ook oor die dierasie, maar sy reddingsaksie loop lelik skeef as die adder hom ‘n dodelike byt aan die hand toedien. Omdat dit doodnatuurlik vir die slang is om die boer te wil byt en die hartseer nadraai daarvan alles eintlik die toedoen van Boer se eie domonnosel opgetrede is, is sy sterwenswoorde ‘n ruk of wat later na afloop van die hele gedoente nogal iets om ter harte te neem: “Die moeilikheid wat ek gesoek het om ‘n slang te wil gaan staan en help, is presies die moeilikheid wat ek gekry en myself op die hals gehaal het. Dit kom daarvan om ‘n mens met iets soos die addergeslag te wil bemoei.”
Die bedoeling is eenvoudig en vervat in ‘n spreekwoord wat al meer as 2000 jaar met die mensdom saamkom en ook in die Afrikaanse spreekwoordeskat opgeneem is:  Jy moenie ‘n adder aan die bors koester nie.

Saturday, 9 February 2013

Die boer en sy hond

fotobron
Na ‘n tweede koppie boeretroos, meer as net ‘n lekseltjie beskuit, en die pyp ook al  weer ‘n keer gestop is, kom Boer uiteindelik gestewel en gespoor aan op die agterstoep waar sy getroue rifrugteef behaaglik uitgestrek lê en wag. “Nou vir wat, oudste, lê jy nes ‘n vrot vel net daar en ginnegaap met jou bek vol tande? Jy hou vir ons op, en die werk raak ook nie minder nie, nè?” sê-vra die boer terwyl hy sy pyp eers gou weer neersit om sy sakke deur te gaan en oulaas net weer van die regte sleutels en dinge seker te maak . “Lig jou gat, sussa, dat ons ons ry kan kry. Kyk waar staan die son al; jy weet goed hy wag vir g’n niks en niemand nie!” skerts hy een strook voort, sy aandag nou weer by die weermeter teen die een muur. En al wat sy doen is om haar stert net nóg sterker en vinniger te swaai terwyl sy swyend, die kake glimlaggend, dink: “O, nee, jou ou draaikous, beslis nie jy wat vanmore, soos elke ander more, vir my moes wag nie – ek is al douvoordag slaggereed vir aksie gewees en bly om uiteindelik te sien dat ek nie nóg ‘n minuut langer op jou hoef te wag nie.”

Maar dan is dit mos maar soos dit is: die een wat laat is, is almelewe die een wat maar al te geneig is om enige vorm van vertraging voor die deur van ‘n ander te loop lê.


http://animalphotos.info/a/
En oor dit 'n rifrug is wat ek wil hê, terwyl ons drie lief en dierbare patryshonde het, kan ek nie anders as om hierdie prentjie ook te wil plaas nie. So wag my stadsussa ook soggens op die eerste teken dat ek nog in die lewe is en die dinge nou uiteindelik kan begin.

Friday, 8 February 2013

Die kat en haar man, die Boerseun



Deur Project Gutenburg in die openbare
domein geplaas, deur Laura Gibbs
toeganklik gemaak.

‘n Kat het tot oor haar ore toe verlief geraak op ‘n hubare jong boer van die omgewing en smeek en bid toe om tog net in ‘n mooi jong meisie te kan verander sodat sy met hom kan trou. Dié klein katjie word toe in so ‘n pragtige dame omskep dat die kapabele Boerseun nie anders kan nie as om haar bykans dadelik te vra om te trou nie. Knap ná die wittebrood, weliswaar nog lank voodat daar gesê kan word dat die wittebrood verby is, toe die tweetjies een aand kooi se kant toe staan, word die jong bruid egter aan ‘n toets onderwerp: het sy slegs van gedaante verwissel, en haar streke laat staan, of het haar hele natuur saam verander toe sy die dag ‘n vrou geword het. Dié toets kruis haar pad in die vorm van ‘n groot en uitgevrete huismuis wat teen die een slaapkamermuur spatlys verby skarrel. Die katvrou, wat op daardie oomblik heeltemal vergeet dat sy eintlik ‘n boervrou is, bespring summier die dier en slaan oudergewoonte haar tande in sy nek in. En na sy dié toets jammerlik gefaal het, verander sy toe ook sommer dadelik terug in dieselfde plaaskat op die stoep agter by die kombuis, wat sy was toe sy op die boer verlief geraak het.
Wat aangebore is, is veel sterker as dit wat aangeleer is.
Of soos ek ook al gehoor het:  jy kan ’n aap uit die bos haal, maar jy kan nie die bos uit ‘n aap haal nie.
Die Grieke het wel ‘n spreekwoord na aanleiding van hierdie fabel gehad – ‘n muishond dra nie ‘n trourok nie.
Hier is dan nou sprake van ‘n muishond en nie ‘n kat nie, juis omdat die Grieke nie katte aangehou het om die huis en werf muisvry te hou nie, maar muishonde. Dis nie muishonde gewees soos die muishonde wat ons in Suid-Afrika ken nie, maar familieverwante diere wat die Europeërs wesels noem. Muishonde en wesels is egter uit dieselfde genus, mustela, en mustela is dan ook die Latynse naam vir beide diere.
Hoekom die Griekse muishonde spreekwoordelik nie trourokke dra nie, hou verband met Babrius se vertelling van die fabel in ongeveer 300 voor Christus. Hý vertel die hartseer ontmoeting tussen die bruid en die muis op die huweliksfees waar die bruid die huweliksgaste afskrik deur op die muis af te storm en dit ten aanskoue van almal te verslind.
Die slotsom waartoe Babrius kom is dat die mens se ingebore natuur bewys het dat dit sterker as die sterkste liefdesband is; iets wat die fabel se interpretasievlakke en toepassingsveld natuurlik aansienlik verbreed.
Die Afrikaanse spreekwoord rondom ‘n jakkals wat van haar verander, maar nie van streke nie (oorgeërf vanaf die Nederlandse “Een vos verliest zijn haren, niet zijn streken”) herinner sterk aan hierdie fabel, maar het sy oorsprong in ‘n ander soortgelyke fabel.
Hierdie fabel wat  ene Romulus aangeteken en aan Esopus toegedig het, dateer uit 1000 na Christus. Dit is egter so nou met die klassieke Grieke se gode verweef dat dit onmoontlik is om dit in die een en twintigste eeu daarsonder bosveld toe te bring. Ek vertel dit interessantsheidshalwe dan maar bloot net oor:
Selfs die grootste gelukskoot kan 'n swak agtergrond nie versteek nie:
Jupiter het 'n jakkals in 'n vrou verander en op die troon reg langs hom vir haar plek gemaak as sy koningin. Maar toe die jakkals 'n klein kewertjie uit sy gat sien kruip, kon sy nie anders as om die bekende prooi van haar agterna te sit en te verorber nie. Die ander gode het die jakkals uitgelag en Jupiter kon nie anders as om te bloos en sy verbintenis met haar tot 'n einde te bring nie. Toe hy haar uit die troonkamer jaag, roep hy haar agterna:  “Gaan lei die lewe wat jy gewoond is, die een wat jy verdien – jy is my gunste en gawes duidelik nie werd nie!”

Thursday, 7 February 2013

Leeu se koninkryk

Leeu was destyds tydlank die koning van al die diere. Hy was ook glad nie wat ‘n mens ‘n slegte koning sou kon noem nie – hy was nie haatdraend, wraakgierig en wreed, of ‘n boelie nie; eerder sagmoedig en in alle opsigte eerbiedwaardig soos dit ‘n koning van statuur betaam. Tydens sy heerskappy belê hy toe ‘n groot ryksvergadering van al die diere, al die voëls, en eintlik sommer ‘n ieder en ‘n elk wat so min as asemhaal in en om die bos. Hy lê ‘n stel piksplinternuwe reëls en regulasies voor vir ‘n nuwe vredesryk wat op die horison wink, ‘n vredesryk waarin Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis, tot in aller lengte van dae in liefde en vrede neffens mekaar saam sal kan leef. Meegevoer deur die man se mooi en roerende woorde roep Haas toe met veel blydskap uit: “O, hoe lank het ons hase nie rykhalsend gewag vir die dag waarop ons, die swakke grasvreters, sonder vrees en bewing uiteindelik op gelyke voet met die vleisvretende sterkes sal kan verkeer nie. En dit selfs nog sonder enige vrees vir vervolging daarby!” Nadat Haas toe nou al hierdie onverdunde kale twak kwyt geraak het, moes hy vir sy lewe hol. En dis maar wat hy, en al die ander soos hy, vandag nog, al hierdie baie jare later, die ganse dag lank, steeds doen.

Decisions, decisions, decisions... Ek kan nogal op loop gaan met 'n tong-in-die-kies een soos hierdie:

Daar was eenkeer ‘n leeukoning wat regtig ver uit sy pad uit gegaan het om te sorg dat elkeen van sy onderdane doodgelukkig en –tevrede is. So belê hy toe ook in ‘n stadium hierdie omvangryke volksvergadering van al die lopende, kruipende, hoppende, én galoppende diere, ook al wat voël is, die reptiele daarby, geleedpotiges en ongeleedpotiges; trouens elke ding wat asemhaal, of sommer net wil-wil lyk of hy kan asemhaal. Dit gaan vir hom op dié vergadering oor ‘n piksplinternuwe stel reëls en regulasies wat hy wil voorhou vir die daarstelling van ‘n nuwe, ongekende, vredesryk, ónder die diere en tússen elke dier onderling. Op die tafel was, ononderhandelbaar, die fondamente van ‘n nuwe tydvak wat hy homself al ‘n geruime rukkie in die vooruitsig gestel het. Te slim vir woorde! Op papier was dit duidelik dat Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis (moet ook nie van Meneer en Mevrou Bidsprinkaan, wie se wittebroodhuweliksbootjie telkens langs ‘n oop graf eindig, vergeet nie) tot in lengte van dae in vrede neffens mekaar saam sal kan leef. Om op die regte noot af te kon skop, sou elkeen eers rondom die sondes van die verlede moes kom bely en getuig; die tierwolf vir wat hy met boklam aangevang het, luiperd vir wat hy op sy beurt aan die rooibok gedoen het, ook die visarend en die jarelange onafgehandelde geskil met die ganse kurpernasie. En so aan, en so aan, en af met die ketting tot by die mierleeu en die mier. Na die waarheid dan nou eers uit is, ook die gevolglike groot versoening en verootmoediging met kommissies en dinge wat sou omsien dat alles in plek val en bly. En só, op die ou einde, sal elke dier dan nou vrede met al wat ander dier om hom is, hê. Skoon opgerui deur die wonderlike vooruitsigte, roep die haas toe meegevoer uit:  “Uiteindelik het die dag waarvoor ek so lank gebid het, aangebreek, die dag waarop selfs die swakstes onder ons deur die sterkes gelyk geag sal word!” Sy woorde was natuurlik nog nie koud nie, toe moet hy hol vir sy lewe. En dis maar wat hy, en almal soos hy, vandag nog steeds doen.

Wednesday, 6 February 2013

Vlermuis ontduik muishond se wind van voor


Illustrasie deur Project Gutenburg in die openbare domein geplaas.
Laura Gibbs het dit vir my toeganklik gemaak.

‘n Vlermuis bevind homself in die doodsgreep van ‘n muishond wat hom onverhoeds oorval het. Hy pleit piepend om sy lewe, maar die muishond ken geen genade nie; dié herinner hom eerder daaraan dat hy wat muishond is, die geswore aartsvyand van de aller leste klein voëltjie onder die son is. En net daar, op daardie punt, kry vlermuis sy eie bas gered en val daarmee in die botter:  Hy oortuig die muishond so gou soos nou dat hy glad g’n gevogelte is nie, maar ‘n muis.  Vir al wat hy trouens weet, was sy eie oeroumagrootjie en die lank vergete muis in muishond se naam, nog een en dieselfde muis gewees. Dit was ongelukkig ook nie lank gewees nie, of hy word weer vas aan die slaap deur ‘n ander vernuftige muishond oorval. Nog voor hy veel van ‘n geveg kan opsit, bevind hy hom opnuut, pens en pootjies in die baie benouende kloue en kake van die dood. Hy pleit, hy smeek, maar ook hierdie muishond ken net sy eie natuur en geen genade nie. Trouens, hoe meer hy pleit en smeek, hoe meer hamer die muishond op die feit dat hy geen, maar geen, tyd of ontsag vir al wat muis is, het nie. En dadelik spring die vlermuis se brein in hoogste versnelling in; hy oortuig die muishond, sy vlerke vreeslik overdadig klappend, dat hy geen muis is nie, maar ‘n voël. Só het die vlermuis op twee geleenthede sy eie lewe gered deur bloot sy mantel (of is dit seile, en nie miskien dalk liewer vlerke nie?) na die wind te keer en van naam te verander.

Die fabel wys dat jy jou omstandighede, hoe benard ook al, tot jou eie voordeel moet benut.

Dit herinner my ook aan wie dit ook al was wat gesê het dat daar nie ‘n spreekwoord of uitdrukking is wat nie deur ‘n ander weerspreek word nie.

Iemand wat sy spreekwoordelike mantel na die wind draai word ongunstig ‘n manteldraaier genoem; aan die ander kant word ons in skeepsterme weer daaraan herinner om wél ons seile na die wind te draai.

As ek hierdie muishond was, sou dit my nie gepla het, as ander my ‘n manteldraaier genoem het nie – dit het immers my lewe gered.

Tuesday, 5 February 2013

Die veewagter, sy ooi en sy gebede

Laat agtermiddag stuur ‘n veewagter sy oë oor die trop en na hy ‘n tweede, derde en selfs vierde keer getel het om doodseker te maak, wéét hy – hy het, terwyl hy ‘n uiltjie geknip het, een van sy kudde iewers deur die loop van die middag verloor. Na hy hier en daar, en nog ‘n keer daar en hier, gesoek het, heuwels op- en afgehol, en selfs boomtoppe uitgeklim en -klouter het, bly daar vir hom niks anders oor as om maar met die Here in ‘n diep en ernstige gesprek te tree nie. En ook nie in ‘n gesprek tree nie, maar eerder ‘n pleitooreenkoms aangaan, om die onderhandelingstafel aansit. Hy belowe plegtig, sou die Here met hom handevat en hom help om die booswig wat onder sy goed kom steel het, aan te keer, hy een van die komende lamseisoen se lammers aan die kerk sal afstaan. Daar is die man se amen nog nie mooi koud nie, of hy loop hom vas, tromp-op vas, in ‘n groot uitgevrete vuilbaard wat sopas lelik met die karkas tussen sy kloue afgereken het. Dadelik, nog voor jy kan sê “més”,  staan daar twee seker wetes en heldertes in die veewagter op:  dis niks anders as sý verlore ooitjie daai nie, maar gewigter nog – die stomme ooitjie is vir daardie dierasie niks meer as ‘n ligte versnapering, ‘n ou peuselhappie gewees nie. Hoor hoe grom die ding se maag nog van nog pure honger wees! En skielik weeg hy nie meer sy woorde nie, meet hy nie sy sinne mooi af nie:  “Vaneffe was ek nog bereid om van my eie lamgoed te offer solank ek net die satan wat met my ooi hier weg is, op kan spoor. Hy kan die ooitjie nou maar hou, en die kerk passerende lamtyd se vetste. Maar hiermee, Here, hoor vir my mooi, gooi ek ook sommer op die koop en verkoop toe vir Kasper, die teelram, by ons deal óók in, solank U my net help om in een stuk, met mý lewe veilig in U hand, van hierdie dief, wat ek met so ‘n seer hart en soveel oorgawe gesoek het, se kake kan ontsnap.”

Ja, aan die eenkant moet ons mooi dink voor ons iets vra, netnou net krý ons dit straks, en hoe dan gemaak! Aan die anderkant wil die fabel ook wys dat ‘n mens se eie lewe vir jou baie kosbaarder is as jou eie lammers en ooie en ramme, en enige iets wat met geld gekoop kan word, sáám.

Die Engelse vertaling van die bronteks is hier en een van my eerste pogings volg:

Hierdie illustrasie deur Milo Winter (1919) is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel.

‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een van sy kudde iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse soektog maak hy plegtig en biddend belofte dat hy een van die lammers aan die gode sal offer as hy tog net die dief van sy stuks vee kan vastrek. En ook nie lank nie, terwyl hy in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van die heuwel besig om aan sy verlore skaap te vreet. Onmiddellik stuur hy weer sy oë en hande hemelwaarts in smekende gebed: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank ek net die dief van my ooi kan opspoor. Na my ontdekking, sopas, offer ek selfs saam met die dier wat ek reeds verloor het sommer nog ‘n teelram ook daarby, enige iets solank ek net met my lewe van hierdie dief kan wegkom kom.

Hierdie fabel wil wys dat ‘n mens se eie lewe vir jou baie kosbaarder is as enige vorm van rykdom of gewin.