Thursday, 28 February 2013

Vaaljas grawe sy eie gat

FOTOBRON
Vaaljas was rustig in sy kampie aan’t weie toe ‘n uitgehongerde rondloper leeu hom saggies vanuit die nabye ruigte bekruip. Hy was dan ook mooitjies op die punt om hom te bespring en plat te trek, toe ‘n haan, skielik, helder oordag, daar van eenkant op ‘n hoekpaal, allervreeslik aan die kraai gaan. Nou waarom dit so is kan ons vandag met al ons kennis steeds nie sê nie, maar dit staan soos ‘n paal bo water, donkiesjare al:  as daar nou een ding is wat enige leeu sommer ‘n groot ongeskikte skrik op die lyf jaag, dan is dit ‘n haan, enige haan, se gekraai. En daar spring ons Leeu, getrou aan sy aard, onmiddellik om en slaan al skarrelend voet in die wind – jy sien net stof en bossies trek. Toe Vaaljas eers besef hoe min dit gevat het om die Leeu te laat rieme neerlê, is hy skoon oorstelp en skep hy sommer oorgenoeg moed bymekaar om die dierasie op eie houtjie aan te val; hy begin hom agterna jae met net een doel voor oë en dit is om hom te verskeur. Hy het egter nie juis danig lank of alte vreeslik ver gehardloop nie (eintlik net tot Leeu buite hoorafstand van die haan se luidrugtige gekraai was), toe die Leeu skielik in sy vier spore vassteek, om ruk, hom aan die nek gryp en so gou soos nou aan flarde skeur.
Dit is mos nou maar een maal soos dit is: valse vertroue lei dikwels tot veel groot gevaar.
Dieselfde gebeur ook met ons mense: sodra die een sy vyand verleë sien, matig hy homself aan – en juis daardie houding en gedrag van hom maak dit dan vir sy vyand moontlik om hom te vernietig – selfs nog voor hy tyd had om self die kloutjie mooi by die oor te kon bring.

Dis nie net in die Klassiek Griekse kultuur dat ons by herhaling ‘n leeu se vrees vir hanegekraai raakloop nie. Ook uit Persië en die Moslemgeskrifte, in talle Middeleeuse diereboeke duik dit op. Moontlik sluit dit aan by die basiliske, hekse en ander nagtelike gedaantes en gediertes wat ook almal vir hanegekraai bang is, juis miskien omdat die haan die koms van die dag, en daarom die einde van hul nagtelike eskapades, aankondig.