fotobron |
So trek die nuus toe mos soos ‘n veldbrand deur die bos: daar gaan ‘n propperse kom-ons-kyk-wie-het-die-mooiste-baba kompetisie onder die diere van die bos en veld gehou word. Daar is allerhande groot pryse en goeterstes om na uit te sien op die spel – alles voorspel trouens om sommer ‘n heerlik gesellige gedoente te wees. Die oggend van die groot dag het ‘n bobbejaanmoeder met al die liefde en deernis eie aan enige ma tussen al die ander mammas daar aangestap gekom. Vreesbevange, verbete vasklouend, dán onder haar maag, dán bo op haar rug, het sý om vir die kompetisie aan te bied ‘n tingerige stukkie lelik; die onaansienlikste plooierige wit gevreetjie met die bakste van bakore – haar bykans haarlose verskoninkie vir ‘n kind. ‘n Luide gelag klink op toe sy naderstaan om te wil registreer. Maar ‘n moeder se liefde is nie iets wat gou van stryk gebring word nie en met ‘n hart wat oorloop merk sy baie beslis en met die wêreld se volste selfversekerdheid op: “Ek weet nie of my liefste ‘n toekenning van enige aard sal ontvang nie, maar een ding weet ek wel, en dit is dat hy, in die oë van sy moeder, by verre die mooiste, slimste en dierbaarste kleinding van almal vandag hier is.”