Thursday 7 February 2013

Leeu se koninkryk

Leeu was destyds tydlank die koning van al die diere. Hy was ook glad nie wat ‘n mens ‘n slegte koning sou kon noem nie – hy was nie haatdraend, wraakgierig en wreed, of ‘n boelie nie; eerder sagmoedig en in alle opsigte eerbiedwaardig soos dit ‘n koning van statuur betaam. Tydens sy heerskappy belê hy toe ‘n groot ryksvergadering van al die diere, al die voëls, en eintlik sommer ‘n ieder en ‘n elk wat so min as asemhaal in en om die bos. Hy lê ‘n stel piksplinternuwe reëls en regulasies voor vir ‘n nuwe vredesryk wat op die horison wink, ‘n vredesryk waarin Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis, tot in aller lengte van dae in liefde en vrede neffens mekaar saam sal kan leef. Meegevoer deur die man se mooi en roerende woorde roep Haas toe met veel blydskap uit: “O, hoe lank het ons hase nie rykhalsend gewag vir die dag waarop ons, die swakke grasvreters, sonder vrees en bewing uiteindelik op gelyke voet met die vleisvretende sterkes sal kan verkeer nie. En dit selfs nog sonder enige vrees vir vervolging daarby!” Nadat Haas toe nou al hierdie onverdunde kale twak kwyt geraak het, moes hy vir sy lewe hol. En dis maar wat hy, en al die ander soos hy, vandag nog, al hierdie baie jare later, die ganse dag lank, steeds doen.

Decisions, decisions, decisions... Ek kan nogal op loop gaan met 'n tong-in-die-kies een soos hierdie:

Daar was eenkeer ‘n leeukoning wat regtig ver uit sy pad uit gegaan het om te sorg dat elkeen van sy onderdane doodgelukkig en –tevrede is. So belê hy toe ook in ‘n stadium hierdie omvangryke volksvergadering van al die lopende, kruipende, hoppende, én galoppende diere, ook al wat voël is, die reptiele daarby, geleedpotiges en ongeleedpotiges; trouens elke ding wat asemhaal, of sommer net wil-wil lyk of hy kan asemhaal. Dit gaan vir hom op dié vergadering oor ‘n piksplinternuwe stel reëls en regulasies wat hy wil voorhou vir die daarstelling van ‘n nuwe, ongekende, vredesryk, ónder die diere en tússen elke dier onderling. Op die tafel was, ononderhandelbaar, die fondamente van ‘n nuwe tydvak wat hy homself al ‘n geruime rukkie in die vooruitsig gestel het. Te slim vir woorde! Op papier was dit duidelik dat Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis (moet ook nie van Meneer en Mevrou Bidsprinkaan, wie se wittebroodhuweliksbootjie telkens langs ‘n oop graf eindig, vergeet nie) tot in lengte van dae in vrede neffens mekaar saam sal kan leef. Om op die regte noot af te kon skop, sou elkeen eers rondom die sondes van die verlede moes kom bely en getuig; die tierwolf vir wat hy met boklam aangevang het, luiperd vir wat hy op sy beurt aan die rooibok gedoen het, ook die visarend en die jarelange onafgehandelde geskil met die ganse kurpernasie. En so aan, en so aan, en af met die ketting tot by die mierleeu en die mier. Na die waarheid dan nou eers uit is, ook die gevolglike groot versoening en verootmoediging met kommissies en dinge wat sou omsien dat alles in plek val en bly. En só, op die ou einde, sal elke dier dan nou vrede met al wat ander dier om hom is, hê. Skoon opgerui deur die wonderlike vooruitsigte, roep die haas toe meegevoer uit:  “Uiteindelik het die dag waarvoor ek so lank gebid het, aangebreek, die dag waarop selfs die swakstes onder ons deur die sterkes gelyk geag sal word!” Sy woorde was natuurlik nog nie koud nie, toe moet hy hol vir sy lewe. En dis maar wat hy, en almal soos hy, vandag nog steeds doen.