‘n Skaap wat eenkant van haar kudde afgedwaal het, word genadiglik uit die hoek van haar oog van ‘n rooikat bewus, en slaan summier voet in die wind plaaswerf toe. Daar is alles met die oog op die naweek se kerkbasaar in ‘n redelike harwar. Die rooikat wil dit natuurlik nie so naby die werf en sy bedrywighede waag nie en probeer om die skaap se vertroue van anderkant die doringdraad te wen: “Sien jy nie gewoel en gewerskaf, ook daar oorkant by die bloederige slagplek, nie? Kom uit daar, netnou word jy ook offerdier vir Boer-hulle se lawwe basaar.” Maar die skaap antwoord: “Moenie jou oor my skuilplek bekommer nie, Meneertjie, ek is dooddollies hier waar ek is. En selfs al draai dinge uit soos jy voorspel, sterf ek eerder in diens van Boer en sy kerk as om die morsige maaltyd van ‘n rooikat se slagtande en kloue te word.”
Babrius se oorspronklike vertelling is hier in Engels beskikbaar.
Omdat dit meer as 2000 jaar later is, is dit moeilik om die fabel in ons huidige tyd in te vertaal:
'n Alleenloperskaap sien 'n wolf raak en vlug na die skaapkraal wat per toeval oopgelos is omdat 'n offerlam in gereedheid gebring is met die oog op die godsdienstige vakansiedag. Die wolf wou dit nie waag tot binne die kraal nie, maar het van buite probeer om die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die bloedbevlekte altaar daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou en offer jou kort voor lank ook.” “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die gode as slagoffer en prooi van 'n wolf se honger maag, tande en kloue.”
Daar is eintlik nie eens sprake van 'n kraal nie, maar 'n stal – iets wat net in die koudste dele van die land aan ons bekend is.
'n Altaar op die werf het ook verval.
Ek het die storie aanvanklik huis toe probeer bring aan die hand van ‘n tierwolf.
En dit klink lieflik, tot jy besef dat ‘n tierwolf niks anders as ‘n hiëna is nie.
En waar kry jy in vandag se dae nog tierwolwe, wat amper soos NP van Wyk Louw se strandjutwolf, buite om die werf snuif.
'n Skaap wat van die trop afgedwaal het sien 'n tierwolf raak en vlug na die plaaswerf waar die hek oop laat lê is omdat alles en almal in rep en roer is vir die jaarlikse kerkbazaar. Die ongedierte wil dit nie waag tot binne die werf nie, maar probeer om van anderkant die draad die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die gewerskaf in die vleiskamer daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou ook en beland jy kort voor lank op een van die kerk se kreunende bazaartafels. “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die kerkbazaar as slagoffer en prooi van jou honger maag, tande en kloue.”
Ek het redelik onlangs nog 'n groot kerkbasaar in die Kalahari raakgeloop, een waarvoor daar beslis nog op plaaswerwe gewoel en gewerskaf word. Hoe lank dit nog met ons gaan weet ek nie. Ek is klaar van vermoede dat die basaar-verwysing buite talle jonger lesers se verwysingsraamwerk sal val.