fotobron |
Daar stap Leeu toe een mooiweersdag die plaaswerf binne en Boer, wat hoeka manier soek om die ou baardmannetjie te vang, loop sluit onmiddellik die hek agter hom toe. En wat ‘n fout was dít nie gewees nie – toe die vasgevange Leeu agter die kap van die byl kom, saai hy eers verwoesting onder die pluimvee, toe maai hy onder die skape en bokke voor hy uiteindelik onder die beeste in die kraal ook inklim. Op hierdie punt, die bietjie vee wat hy had bykans almal daarmee heen, begin Boer selfs vir sy eie lewe, én die van die res van sy gesin, te vrees, en hy gaan gooi die hek veiligheidshalwe maar liewerster weer wawyd oop. Eers toe Leeu lankal met ‘n kwispel in sy stert in die stofpad af verdwyn het, waag Boervrou dit uit die kombuis se besemkas uit en kom sy af op haar bedroefde eggenoot waar dié sit en sanik en sy lot soos ‘n Job van ouds bekla. “Maar dis mos jou verdiende loon, jou skuld en g’n iemand anders s’n nie, my man!” berispe sy hom, “Vir wat het jy onsself wou loop opsluit met 'n gedierte waarvan enige mens met gesonde verstand, selfs oor 'n groot afstand heen, eerder weg moet hardloop? Jy, van alle mense, wie se broek beginne beef as jy leeu se kind nog net van dóérie anderkant af hóór brul?”
Op dieselfde wyse moet diegene wat hulle sterkere meerderes lelik opklits of verkeerd opvryf, bereid wees om die gevolge van hul dade te dra. Wie met vuur speel, moet immers nie kla as hulle hul vingers verbrand nie.