Die dames van die veld het ook maar hul onderlinge klein geskilletjies. Hierdie dag het ‘n klompie van hulle dit oor watter een onder hulle dan nou die meeste kleintjies op ‘n slag die lewe in bring; die een met die grootste werpsel is dan tog sekerlik die waardevolste van al die mammas. So maak hulle ook al geselsende en tellende by Leeuwyfie ‘n draai om te verneem hoe groot haar werpsel is. “O, nee,” lag sy met edel grasie, “ek kry maar net een troonopvolger op ‘n slag, maar dan moet julle onthou dat hy of sy, elke duim, van die kroontjie, al die pad af tot by die toontjie, ‘n opreggeteelde Leeu is.”
Die waarde lê nie in hoevéél nie, maar hoe góéd – dis soos ons dikwels sê: kwaliteit en nie kwantiteit nie.
In sy oudste vorm klink die storie effe anders en was dit in sommige gevalle 'n sog, in ander 'n jakkals, wat die leeuwyfie konfronteer het:
Die storie wil dit hê dat hierdie vlakvarksog wat sopas 'n moerawiese werpsel skreeuende maer klein varkies die lig laat sien het, die leeuwyfie vermakerig konfronteer: “En aan hoeveel kinders gee jy miskien geboorte?” “O, ek verwek net een op ‘n slag,” kom dit van die leeu, “maar dan moet jy onthou dat hy baie goed geteel is.”
‘n Enkeling wat bo ander uittroon op grond van uitsonderlike fisieke krag, waagmoed en wysheid, is magtiger en veel meer werd as ‘n hele handvol swak en ruggraatloses.