‘n Kat het tot oor haar ore toe verlief geraak op ‘n hubare jong boer van die omgewing en smeek en bid toe om tog net in ‘n mooi jong meisie te kan verander sodat sy met hom kan trou. Dié klein katjie word toe in so ‘n pragtige dame omskep dat die kapabele Boerseun nie anders kan nie as om haar bykans dadelik te vra om te trou nie. Knap ná die wittebrood, weliswaar nog lank voodat daar gesê kan word dat die wittebrood verby is, toe die tweetjies een aand kooi se kant toe staan, word die jong bruid egter aan ‘n toets onderwerp: het sy slegs van gedaante verwissel, en haar streke laat staan, of het haar hele natuur saam verander toe sy die dag ‘n vrou geword het. Dié toets kruis haar pad in die vorm van ‘n groot en uitgevrete huismuis wat teen die een slaapkamermuur spatlys verby skarrel. Die katvrou, wat op daardie oomblik heeltemal vergeet dat sy eintlik ‘n boervrou is, bespring summier die dier en slaan oudergewoonte haar tande in sy nek in. En na sy dié toets jammerlik gefaal het, verander sy toe ook sommer dadelik terug in dieselfde plaaskat op die stoep agter by die kombuis, wat sy was toe sy op die boer verlief geraak het.
Wat aangebore is, is veel sterker as dit wat aangeleer is.
Of soos ek ook al gehoor het: jy kan ’n aap uit die bos haal, maar jy kan nie die bos uit ‘n aap haal nie.
Die Grieke het wel ‘n spreekwoord na aanleiding van hierdie fabel gehad – ‘n muishond dra nie ‘n trourok nie.
Hier is dan nou sprake van ‘n muishond en nie ‘n kat nie, juis omdat die Grieke nie katte aangehou het om die huis en werf muisvry te hou nie, maar muishonde. Dis nie muishonde gewees soos die muishonde wat ons in Suid-Afrika ken nie, maar familieverwante diere wat die Europeërs wesels noem. Muishonde en wesels is egter uit dieselfde genus, mustela, en mustela is dan ook die Latynse naam vir beide diere.
Hoekom die Griekse muishonde spreekwoordelik nie trourokke dra nie, hou verband met Babrius se vertelling van die fabel in ongeveer 300 voor Christus. Hý vertel die hartseer ontmoeting tussen die bruid en die muis op die huweliksfees waar die bruid die huweliksgaste afskrik deur op die muis af te storm en dit ten aanskoue van almal te verslind.
Die slotsom waartoe Babrius kom is dat die mens se ingebore natuur bewys het dat dit sterker as die sterkste liefdesband is; iets wat die fabel se interpretasievlakke en toepassingsveld natuurlik aansienlik verbreed.
Die Afrikaanse spreekwoord rondom ‘n jakkals wat van haar verander, maar nie van streke nie (oorgeërf vanaf die Nederlandse “Een vos verliest zijn haren, niet zijn streken”) herinner sterk aan hierdie fabel, maar het sy oorsprong in ‘n ander soortgelyke fabel.
Hierdie fabel wat ene Romulus aangeteken en aan Esopus toegedig het, dateer uit 1000 na Christus. Dit is egter so nou met die klassieke Grieke se gode verweef dat dit onmoontlik is om dit in die een en twintigste eeu daarsonder bosveld toe te bring. Ek vertel dit interessantsheidshalwe dan maar bloot net oor:
Selfs die grootste gelukskoot kan 'n swak agtergrond nie versteek nie:
Jupiter het 'n jakkals in 'n vrou verander en op die troon reg langs hom vir haar plek gemaak as sy koningin. Maar toe die jakkals 'n klein kewertjie uit sy gat sien kruip, kon sy nie anders as om die bekende prooi van haar agterna te sit en te verorber nie. Die ander gode het die jakkals uitgelag en Jupiter kon nie anders as om te bloos en sy verbintenis met haar tot 'n einde te bring nie. Toe hy haar uit die troonkamer jaag, roep hy haar agterna: “Gaan lei die lewe wat jy gewoond is, die een wat jy verdien – jy is my gunste en gawes duidelik nie werd nie!”