Die berg daar anderkant was eens op ‘n tyd hoogs omgekrap. Talle harde kreun- en steun- en ander onaangename, miskien selfs ongeskikte, geluide is ‘n hele geruime ruk, al om die ander dag, gehoor. Toe raak die intervalle korter. Van heinde en verre het mense gekom om te kyk wat met die berg skort; gerugte het selfs die ronde gedoen dat die berg in kraam is en die ongewone gedrag niks anders as uitinge van ekstreme barendsnood is nie. Terwyl die nugterder denkendes solank in afwagting gereed staan om getuie te wees van ‘n rotsstorting, ‘n natuurramp soos ‘n aardbewing, of self ‘n vulkaniese uitbarsting, kom daar, sonder ‘n boe of ‘n ba van enige aard hoegenaamd, op die ou einde toe mooitjies niks anders nie as ‘n muis deur ‘n gleufie in ‘n rots uitgekruip. Niks meer nie. Tot vandag toe selfs, het die berg nog nie weer so veel as gepiep nie. En dis hoe dit gekom het dat die berg ‘n muis gebaar het.
Ons gebruik hierdie uitdrukking ongeveer 2000 jaar later steeds as ons na mense met groot dreigemente, waarvan daar op die ou einde niks gekom het nie, wil verwys.