Friday, 22 February 2013

Die donkie en sy skaduwee

fotobron

‘n Man huur toe op die ou einde maar ‘n donkie en sy aandrywer om hom en sy goed van iewers tussen nêrens en êrens al die pad op die dorp te kry. Op die warmste van die dag en onder ‘n skroeiende son roep hy egter eers ‘n wyle halt. Hy klim van die donkie af en gaan maak homself tuis in die enigste stukkie skaduwee wat daar is – die lekseltjie skadu wat die esel en sy vrag kan bied as die son homself lynreg bo ‘n man se kop bevind. Oor hierdie flentertjie skaars genoeg is vir een mens, en die aandrywer toe op die koop toe ook daarop aanspraak maak, ontstaan daar spoedig ‘n hewige rusie tussen die twee oor wie nou eintlik gebruikreg op die donkie se skadu het. Die huurder is van mening dat hy vir die dienste van die esel betaal het en dat die gebruik van sy skaduwee daarom by die diens ingesluit is. Die eienaar redeneer weer hy het die donkie te huur aangebied, maar beslis nie sy skaduwee nie. Dis ook nie lank nie of die twee verruil hul tonge vir vier appels wat wild en wakker rondgeswaai word. Oomblikke later klim hulle lelik onder mekaar in. Dis ook net toe hulle in die stof begin rol, dat die esel so by homself van dit alles ook net mooi genoeg had, die twee net so gestrand in die kale son daar los en met ‘n vinnige kapoete-kapoete-kapat, die verte in weg galop .

Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons iets kwyt is, dit eintlik op ‘n skinkbord prysgee, en dit terwyl ons pieker oor iets kleinliks soos die besitreg van ‘n donkie se skaduwee nie.

Hierdie fabel, afgerond aangebied soos hier, is nie 'n klassieke fabel nie. Dis wel 'n fabel binne 'n klassieke fabel wat 'n heel ander boodskap en strekking het. Ek plaas dit weer en wonder of mens dit sou kon verafrikaans met iets soos koeitjies en kalfies, juis omdat die Grieke idiomaties van “die esel se skaduwee” gepraat het, as hulle na koeitjies en kalfies en ander beuselagtighede verwys het.

Hulle sê dat Demosthenes tydens 'n groot samekoms in Athene nie die geleentheid gegun is om sy toespraak te lewer nie Hy kry egter die gehoor se aandag met die boodskap dat hy slegs 'n paar woorde wou spreek. Toe die skare stil geword het, begin Demosthenes sy vertelling:  “Dit was hoogsomer en 'n jong man het die dienste van 'n donkie gehuur om hom van Athene na Megara te neem. Op die middaguur, die hitte van die dag toe die son op sy felste skyn, wou sowel die jong man as die donkie se aandrywer hulself in die skadu van die donkie tuismaak. Uit die woordewisseling wat ontstaan het, het 'n gestamp en stoei gevloei, en kort voor lank toe baklei die twee vir 'n plekkie in die skaduwee. Die donkie se eienaar hou vol dat die man die donkie gehuur het, maar nie sy skaduwee nie; die jong man is egter van mening dat hy die donkie en alle regte daaruit voortspruitend gehuur het.” En toe hy tot hier gekom het met sy storie, het Demosthenes sy rug op die gehoor gekeer en weggestap. Hierop roep die skare toe uit dat hy moet stop en vra of hy dan nie lus het om sy storie klaar te vertel nie. “Inderdaad,” kom dit van Demosthenes, “maar julle wil van die donkie se skaduwee hoor, terwyl julle weier om aandag te gee as iemand oor belangrike sake met julle wil praat.”