Sunday, 10 February 2013

Die boer en die slang


fotobron


Een bitterkoue wintersoggend vermurwe ‘n boer by die aanskoue van ‘n slang wat hy in ‘n bedenklike toestand langs die pad raakloop. Die dier lyk vir hom half dood van die koue en hy kan dit nie oor sy hart kry om die slang net so  aan homself uitgelewer te los om verder te verkluim nie. Hy ontferm hom toe ook oor die dierasie, maar sy reddingsaksie loop lelik skeef as die adder hom ‘n dodelike byt aan die hand toedien. Omdat dit doodnatuurlik vir die slang is om die boer te wil byt en die hartseer nadraai daarvan alles eintlik die toedoen van Boer se eie domonnosel opgetrede is, is sy sterwenswoorde ‘n ruk of wat later na afloop van die hele gedoente nogal iets om ter harte te neem: “Die moeilikheid wat ek gesoek het om ‘n slang te wil gaan staan en help, is presies die moeilikheid wat ek gekry en myself op die hals gehaal het. Dit kom daarvan om ‘n mens met iets soos die addergeslag te wil bemoei.”
Die bedoeling is eenvoudig en vervat in ‘n spreekwoord wat al meer as 2000 jaar met die mensdom saamkom en ook in die Afrikaanse spreekwoordeskat opgeneem is:  Jy moenie ‘n adder aan die bors koester nie.