Monday, 4 February 2013

Die hiëna, die been en die saalbekooievaar

As jy straks vir een enkele oomblik gedink het dat ‘n deugniet jou sal vergoed vir ‘n guns wat jy hom bewys het, maak jy nie net een fout nie, jy maak sommer twee. Eerstens help jy ‘n ploert wat geen hulp van enige aard verdien nie, en tweedens sal jy ook net gelukkig wees as jy ongedeerd en in een stuk daarvan afkom.

Gulsige ou hiëna sluk toe mos oorhaastig ‘n afvalbeen in, en die been loop nie die pad wat hy moet loop nie, nee,  hy gaan skop mooitjies hier iewers in die middel van die skarminkel se keel vas – en daar sit hy; hy wil nie ‘n steek vorentoe nie, en verseg om selfs net ‘n aks agtertoe te gaan. Die pyn was laterhand so erg dat die hiëna ten einde laaste maar rondloop op soek na iemand wat hy kan ompraat om hom te verlos van die lastige stukkie oorskietmiddagete wat sy sit so stewig in sy keel loop sit het. Maar die diere wat nie al klaar rieme neerlê as hy nog net nader kom nie, oorweeg nie eers meer om hom te help nes hulle hom klaar uitgeluister het en die kloutjie mooi by die oor gebring het dat hulle in sy keelgat sal moet af nie. Na baie soebat en smeek, en lank se mooi broodjies bak, oortuig hy ‘n saalbekooievaar met allerhande beloftes om tog maar te kyk of dié nie van die been ontslae kan raak nie. Daar plaas die ooievaar toe eers haar lieflike saalbek, maar op die ou einde ook haar nek en hele lewe, in die gapende kake van die grynsende dierasie. Maar met die been eers uit en op die grond, sing die hiëna ‘n gans ander deuntjie toe saalbekooievaar, haar dienste klaar gelewer, aandring op haar beloofde beloning: “Jou ondankbare skepsel – jy het klaar jou kop, nek en potsierlike bek in een stuk uit my magtige kake getrek, en dan het jy die vermetelheid om by dit alles nog te kom staan en aandring op vergoeding ook daarby!”

'n Engelse vertaling van die bronteks is hier te lese.

Die foto uit 'n 1894-uitgawe is deur Laura Gibbs
in die openbare domein beskikbaar gestel.

Ronde 1, voor ek probeer het om die storie huis toe te bring, het my oorvertelling die oorspronklike Griekse rolspelers gehad:
 
Om hom te verlos van ‘n been wat dwars in sy keel bly steek het, huur wolf teen ‘n aardige bedrag die dienste van ‘n reier om haar kop in sy keel af te druk en die been uit te pik. Wat sy toe ook doen. Maar toe sy aandring op haar betaling, wys wolf grommend sy tande en sê met ‘n grynslag: “Het ek jou nie reeds genoeg vergoed deur nie jou kop van jou nek te byt toe dit in my kake was nie. Wees eerder bly jy het met jou lewe daarvan af gekom as om nou op geld aan te dring.
Moenie beloning verwag vir diens aan die skelms en booswigte gelewer nie, wees inderdaad eerder dankbaar as jy gelukkig genoeg is om nog heelhuids daarvan te kan ontsnap.