Laat agtermiddag stuur ‘n veewagter sy oë oor die trop en na hy ‘n tweede, derde en selfs vierde keer getel het om doodseker te maak, wéét hy – hy het, terwyl hy ‘n uiltjie geknip het, een van sy kudde iewers deur die loop van die middag verloor. Na hy hier en daar, en nog ‘n keer daar en hier, gesoek het, heuwels op- en afgehol, en selfs boomtoppe uitgeklim en -klouter het, bly daar vir hom niks anders oor as om maar met die Here in ‘n diep en ernstige gesprek te tree nie. En ook nie in ‘n gesprek tree nie, maar eerder ‘n pleitooreenkoms aangaan, om die onderhandelingstafel aansit. Hy belowe plegtig, sou die Here met hom handevat en hom help om die booswig wat onder sy goed kom steel het, aan te keer, hy een van die komende lamseisoen se lammers aan die kerk sal afstaan. Daar is die man se amen nog nie mooi koud nie, of hy loop hom vas, tromp-op vas, in ‘n groot uitgevrete vuilbaard wat sopas lelik met die karkas tussen sy kloue afgereken het. Dadelik, nog voor jy kan sê “més”, staan daar twee seker wetes en heldertes in die veewagter op: dis niks anders as sý verlore ooitjie daai nie, maar gewigter nog – die stomme ooitjie is vir daardie dierasie niks meer as ‘n ligte versnapering, ‘n ou peuselhappie gewees nie. Hoor hoe grom die ding se maag nog van nog pure honger wees! En skielik weeg hy nie meer sy woorde nie, meet hy nie sy sinne mooi af nie: “Vaneffe was ek nog bereid om van my eie lamgoed te offer solank ek net die satan wat met my ooi hier weg is, op kan spoor. Hy kan die ooitjie nou maar hou, en die kerk passerende lamtyd se vetste. Maar hiermee, Here, hoor vir my mooi, gooi ek ook sommer op die koop en verkoop toe vir Kasper, die teelram, by ons deal óók in, solank U my net help om in een stuk, met mý lewe veilig in U hand, van hierdie dief, wat ek met so ‘n seer hart en soveel oorgawe gesoek het, se kake kan ontsnap.”
Ja, aan die eenkant moet ons mooi dink voor ons iets vra, netnou net krý ons dit straks, en hoe dan gemaak! Aan die anderkant wil die fabel ook wys dat ‘n mens se eie lewe vir jou baie kosbaarder is as jou eie lammers en ooie en ramme, en enige iets wat met geld gekoop kan word, sáám.
Die Engelse vertaling van die bronteks is hier en een van my eerste pogings volg:
‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een van sy kudde iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse soektog maak hy plegtig en biddend belofte dat hy een van die lammers aan die gode sal offer as hy tog net die dief van sy stuks vee kan vastrek. En ook nie lank nie, terwyl hy in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van die heuwel besig om aan sy verlore skaap te vreet. Onmiddellik stuur hy weer sy oë en hande hemelwaarts in smekende gebed: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank ek net die dief van my ooi kan opspoor. Na my ontdekking, sopas, offer ek selfs saam met die dier wat ek reeds verloor het sommer nog ‘n teelram ook daarby, enige iets solank ek net met my lewe van hierdie dief kan wegkom kom.
Hierdie fabel wil wys dat ‘n mens se eie lewe vir jou baie kosbaarder is as enige vorm van rykdom of gewin.