Saturday, 2 February 2013

Die hiëna en die rooiboklam

‘n Verhongerde ou hiëna loop toe mos een mooi dag hierdie Rooiboklammetjie, wat natuurlik eintlik maar liefs saam met die ander lammers in die kleuterskoolkudde moes gebly het, vingeralleen in die veld raak. Hy wil op dié betrokke oggend nie so ongeskik wees om net sommerso op haar af te storm en haar te verorber nie; nee, hy besluit om eers ‘n grondige rede te kry om haar aan flarde te verskeur. Eintlik was hy maar net nie regtig lus vir ‘n vreeslike jaagtog nie, en stap hy toe heel rustig, sonder om die lammetjie te verskrik, op haar af. Toe hy eers by haar is, begin hy sommer dadelik skoor soek: “Jy het my darem maar verlede jaar, die laaste keer toe ons twee mekaar daar anderkant raakgeloop het, lekker beledig en lelik in die gesig gevat,” begin hy rede soek om haar aandete te maak. “Haai, oom, hoe kon ek oom in die gesig gevat of beledig het, as ek verlede jaar nog nie eens gebore was nie,” blêr die lammetjie bewerig. Maar hiëna laat hom nie van stryk bring nie; hy verander bloot sy storie, én sy stemtoon – om bietjie kwaaier te kan klink: “Nou vir wat wei jy dan in dié lappie veld, en eet jy van sy gras, terwyl jy goed weet dat dit aan my behoort?” “Maar ek het in my ganse lewe nog nooit eers my mond aan so veel as ‘n enkele grassprietjie gesit nie,” kom die lammetjie tot haar eie verdediging. Ou hiëna verander bloot net sy deuntjie so bietjie en slaan ongedeerd ‘n ander koers in met 'n nuwe storie wat hy uit sy duim uit suig: “Jy kan  darem nie stry nie, jy drink by dieselfde watergat as ek, mý watergat, jou water!” “Aikona, al wat ek drink is moedersmelk, oom; geen water het nog ooit in my kleine keeltjie afgegaan nie,” is die bokkie dadelik gereed met ‘n antwoord. Hiëna, wat homself nie eens moeg wou hardloop nie, en nou glads al op die punt staan om homself moeg te stry – en dit nogal met ‘n boklammertjie daarby – dink toe by homself:  “Nou verstaan jou ou oom dan nou mooi, my liewe klein lammetjie; selfs al het jy ‘n antwoord of twee op elkeen van argumente gereed, gaan ek, wat hiëna is, nog steeds nie vanaand honger slaap nie.” Hy slaan summier en sonder enige verdere verwyl sy kake om haar nek en verslind ons rooiboklammetjie net daar op die plek.

Net so is dit ook met boelies – hulle sal altyd ‘n rede, sommer enige rede, vir hul wandade vind.

Die Grieke het van 'n wolf en 'n lam vertel. In die Oosterse fabelskat is daar 'n soorgelyke vertelling met 'n tier. Hier gebruik die tier die verskoning dat die lam op sy stert getrap het. Die lam wil dan weet hoe dit moontlik is, as hy nog die heeltyd voor die tier is.

Ek wou doelbewus die storie Afrika toe bring, Suid-Afrika toe, Kruger Wildtuin toe. Waar daar nie wolwe is nie!

Aardwolf, wat ek met 'n strandjutwolf verwar, klink toe vir my net die ding. En toe ek nader met die aardwolf begin kennis maak, toe is die aardwolf 'n skugter insekvreter.

Hierdie fabel wat deur Babrius nagelaat is,is ook een van die sowat 35 fabels wat Martin Luther, hy was nogal opgetrek met die fabels as vormende leesstof, in Duits vertaal het.

Sonder om met die fabel bosveld toe te wil gaan, klink dit soos volg:

Deur Laura Gibbs in die openbare domein vir gebruik beskikbaar gestel.


Wolf loop toe mos vir Lam, wat eintlik by haar trop moes gebly het, in die veld raak. Om die een of ander rede, wat jy net verstaan as jy self 'n wolf is, vertel hy homself hierdie mooi oggend dat Lam nie sommer so sonder rede sy gewelddadige kake om haar nek kan kry nie. Nee, hy moet sy optrede regverdig en Lam eers oortuig dat dit soorts van sy goeie reg is om haar te verslind. Hy kom eers met ‘n storie: “Jy het my, toe ons mekaar verlede jaar raakgeloop het, darem vreeslik beledig, my lam.” “Onmoontlik,” verdedig Lam haarself met ‘n blêr wat bang bewe, “ek was verlede jaar nog nie eens gebore nie.” Wolf verander sy storie, én sy stemtoon word ook nóg meer aggressief: “Vir wat wei jy in die veld en aan die gras wat aan my behoort!” “Nee, meneertjie,” en Lam begin moed skep, “ek het my mond nog nooit eers aan ‘n enkele grassprietjie gesit nie.” Wolf laat hom nie van stryk bring nie: “Ek sien darem jy suip van my stroom se water!” “Kan ook nie wees nie, Wolf,” sê Lam, “ek drink nog aan my ma en geen water het nog ooit oor oor my lippies gegaan nie.” “Nou kyk, Lammetjie,” dink Wolf by homself, “selfs al het jy ‘n antwoord gereed op elkeen van my argumente, gaan ek nié vanaand honger slaap nie!” En hy slaan sy kake om haar nek en verorber haar net daar op die plek.

‘n Boelie sal altyd ‘n rede, enige rede, vir sy optrede vind.

En in Afrikaans het ons, tien teen een langs soortgelyke vertelling, vandag steeds die uitdrukking: “As jy ‘n hond wil doodslaan, sal jy ‘n stok vind”

Babrius se teks, in Engels vertaal, is hier te lees.