fotobron |
Na ‘n tweede koppie boeretroos, meer as net ‘n lekseltjie beskuit, en die pyp ook al weer ‘n keer gestop is, kom Boer uiteindelik gestewel en gespoor aan op die agterstoep waar sy getroue rifrugteef behaaglik uitgestrek lê en wag. “Nou vir wat, oudste, lê jy nes ‘n vrot vel net daar en ginnegaap met jou bek vol tande? Jy hou vir ons op, en die werk raak ook nie minder nie, nè?” sê-vra die boer terwyl hy sy pyp eers gou weer neersit om sy sakke deur te gaan en oulaas net weer van die regte sleutels en dinge seker te maak . “Lig jou gat, sussa, dat ons ons ry kan kry. Kyk waar staan die son al; jy weet goed hy wag vir g’n niks en niemand nie!” skerts hy een strook voort, sy aandag nou weer by die weermeter teen die een muur. En al wat sy doen is om haar stert net nóg sterker en vinniger te swaai terwyl sy swyend, die kake glimlaggend, dink: “O, nee, jou ou draaikous, beslis nie jy wat vanmore, soos elke ander more, vir my moes wag nie – ek is al douvoordag slaggereed vir aksie gewees en bly om uiteindelik te sien dat ek nie nóg ‘n minuut langer op jou hoef te wag nie.”
Maar dan is dit mos maar soos dit is: die een wat laat is, is almelewe die een wat maar al te geneig is om enige vorm van vertraging voor die deur van ‘n ander te loop lê.
En oor dit 'n rifrug is wat ek wil hê, terwyl ons drie lief en dierbare patryshonde het, kan ek nie anders as om hierdie prentjie ook te wil plaas nie. So wag my stadsussa ook soggens op die eerste teken dat ek nog in die lewe is en die dinge nou uiteindelik kan begin.
http://animalphotos.info/a/ |