Tuesday, 31 May 2011

Die siek Valkie



‘n Valkie, tot die dood toe siek, vra sy ma om nie tyd te mors met trane en rou nie, maar om dadelik die gode om hulp aan te roep sodat sy lewe gered en verleng kan word. “En watter van die gode, dink jy, my liewe seun,” kom dit van sy ma, “gaan jou miskien bejammer? Is daar onder hulle ‘n enkele een wat jy nog nie die harnas ingejaag het omdat jy stukkies offervleis wat aan hulle opgedra was van die altare weggepik het nie?”

Ons moet vriende maak solank dit met ons goed gaan, en hulle behou; dan is hulle daar om ons by te staan as dit slegter gaan.

Ek verkies hierdie weergawe uit 1860 bo die uit die 1200's. Die storie verloop basies dieselfde, maar die lewensles is effe anders. Toe was die fabel 'n waarskuwing aan die sondebevlekte krimminele wat die heiligdomme van ouds besoek het om vergifnis te verwag. Hulle moet hulle eerder ophou met goeie dade om hul sondes te help verdwyn.

Die dogma van die Middeleeuse kerk is baie duidelik op die fabel afgedruk, maar oor ek nie Grieks kan lees nie, weet ek nie hoe die fabel klink as hy in die mond van Babrius, wat dit eerste opgeteken het, woorde kry nie.

Monday, 30 May 2011

Die bok met die blinde oog


‘n Bok wat blind in haar een oog was, het in belang van haar eie veiligheid vinnig aangeleer om so na as moontlik aan die hoë kranse, met die see ver onder haar, te wei. Die oog wat nog kon sien het binneland toe gekyk sodat sy vroegtydig die eerste tekens van ‘n naderende jagter op ‘n afstand kon bespeur. Die blinde oog het seekant toe gewys terwyl sy wei, juis omdat sy geen gevaar van die seekant te wagte was nie. Seevaarders wat daar verby geseil gekom het, het haar bo op die lysie van die krans gewaar en geskiet. Die stomme bok het haar lot bekla, sy was immers bang vir gevaar uit die binneland wat nie bestaan het nie, terwyl sy gemoedsrus gehad het oor dit wat juis haar dood beteken het.

Die fabel wys ons dat die goed wat ons reken ons kwaad kan doen, ons dikwels goed doen, terwyl dit waarop ons reken vir skade, ons eerder van skade weerhou.



Elders word dieselfde boodskap effe anders tuisgebring:



Die bok, voortvlugtend van die jagters, gaan soek toe skuiling in 'n nabygeleë grot wat huisvesting aan ‘n leeu verleen het. Toe sy die grot instap en verken met die oog op wegkruipplek vir haarself, val die leeu haar aan. Terwyl sy flarde geskeur word, dink sy by haarself: “Wat 'n sot was ek nie! Terwyl ek uit die kloue van die jagters ontsnap, hardloop ek in die bek van die leeu in!”

Dieselfde kan van mense gesê word: om 'n klein gevaar te ontduik lewer hulle hulself dikwels oor in 'n veel groter gevaar.

Van die vet in die vuur?

En hierdie bok lyk vir my nie net blind nie, maar doof en domonnosel ook. (Ek sou ook kon jagter wees as dit so maklik was.)

Al die illustrasies is deur Laurag Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Sunday, 29 May 2011

Die Reisigers langs die kus


‘n Groepie reisigers langs die kus af het hulself op ‘n baie hoë uitkykpunt oor die see bevind, toe hulle op die horison iets sien wat hulle aangeneem het ‘n groot skip is. Hoopvol het hulle dopgehou of die skip by die hawe gaan aandoen, maar toe die voorwerp veel nader deur die wind aangedryf is, was dit duidelik dat dit hoogstens ‘n bootjie en beslis nie ‘n seilskip is nie. Toe dit ten einde laaste op die strand uitspoel, was dit al die tyd niks anders as ‘n stuk dryfhout nie en merk een van die reisigers teleurgestel op: “Hoe onnosel was ons nie - ons het hoë verwagtings gekoester van iets wat uiteindelik niks was nie." 

Dieselfde kan van mense gesê word. Ons is dikwels in vervoering oor iemand wat ons nog nie ontmoet het nie, maar as ons hom eers leer ken het, besef ons hy is regtig nie iemand van belang nie.

Jare na hierdie vertelling van die fabel, het 'n ander storieverteller afgsluit met die gedagte dat ons verwagtinge van die lewe dikwels die werklikheid by verre oortref.

Die vertelling laat my ook dink aan die uitdrukking “as my skip eendag inkom.”

Iewers het ek kleintyd ‘n boekie gehad met ‘n naam soos As pa se skip kom. Maar ongelukkig net die naam en die voorblad wat ek met relatiewe duidelikheid in die herinnering kan roep. Tog sal dit interessant wees om te weet of daar raakpunte tussen hierdie fabel en veral die eersgenoemde spreuk is.

Hierdie fabel herinner aan die een van die berg wat ‘n muis gebaar het, maar die twee het totaal verskillende strekkings, boodskappe, kontekste en toepassingsmoontlikhede.

Die illustrasie is deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Saturday, 28 May 2011

Die hond in die stal


Dit gebeur dikwels dat mense ander mense, iets wat hulle self nie kan geniet nie, ook nie gun nie. Selfs al hou dit vir hul geen voordeel in nie, laat hulle ander ook nie toe om dit te geniet nie. Luister na 'n fabel van een so geval:  Daar was hierdie gemene hond wat homself op die hooi in die stal uitgestrek het. Toe die beeste daarvan wou eet, het hy hulle gekeer, sy tande gewys en aggressief gegrom. Die beeste sê toe vir hom: “Dis baie gemeen van jou om ons iets te misgun wat vir jou van absoluut geen waarde is nie. Honde eet nie strooi nie, en tog laat jy ons ook nie naby kom nie. Dieselfde ding het gebeur met die hond wat 'n been in sy bek vasgeklem het: op die manier kon hy nie daaraan vreet nie, maar net so kon geen ander hond daaraan kou nie.” Die fabel wys dat dit nie maklik is om afguns te vermy nie, met bietjie moeite kan jy probeer om aan die slegte gevolge daarvan te ontkom, maar dit geheel en al vryspring, kan jy nie.



Hierdie fabel is in geen klassiek Griekse of Latynse teks opgeteken nie. Die oudste optekening wat ons het, soos dit hierbo vertaal is, dateer uit die laat 1400’s, toe dit as 'n fabel van Esopus gepubliseer is.

Dat die oorsprong daarvan in klassieke tye lê, lei geen twyfel nie; ons lees in klassieke tekste van die spreekwoordelike “hond in die stal” wat in een bok verklaar word met 'n vertelling oor die hond in die stal wat nie die hawer wou eet nie, maar dit ook nie vir die perde gegun het nie.



 

So 500 jaar na die boonste vertelling, is die fabel soos volg in Afrikaans vertel:

‘n Hond het homself in die koeistal tuisgemaak. Hier het hy met ‘n gegrom,‘n geblaf en ‘n gehap die beeste daarvan weerhou om by die hooi wat vir hulle uitgepak was, uit te kom. “Wat ‘n selfsugtige dierasie is daardie hond nie,” merk een van die beeste teenoor ‘n ander op, “self kan hy nie die hooi eet nie, en tog laat hy ons, wat kan, ook nie toe om dit te doen nie.”

 

 Illustrasies deur Laura Gibbs op Flickr toeganklikm gemaak.

Die lam en die wolf


Omdat dit meer as 2000 jaar later is, is die volgende fabel moeilik om in ons huidige tyd te vertaal:

'n Alleenloperskaap sien 'n wolf raak en vlug na die skaapkraal wat per toeval oopgelos is omdat 'n offerlam in gereedheid gebring is met die oog op die vakansiedag. Die wolf wou dit nie waag tot binne die kraal nie, maar het van buite probeer om die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die bloedbevlekte altaar daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou en offer jou kort voor lank ook.” “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die gode as slagoffer en prooi van 'n wolf se honger maag, tande en kloue.”

Daar is eintlik nie eens sprake van 'n kraal nie, maar 'n stal – iets wat net in die koudste dele van die land aan ons bekend is. 'n Altaar op die werf het ook verval.

Selfs in die 1800’s het die outjies al gesukkel. Een het met die volgende vorendag gekom:

Met ‘n wolf op sy hakke het ‘n lam skuiling gaan soek in die tempel. Wolf het sy spoor gevolg en hom daar uit probeer lok met die woorde: “Jy beter toesien dat jy so gou as moontlik daar uitkom, die priester gaan jou gryp en op die altaar offer.” Waarop die lam op sy beurt van hom laat hoor: “Ek word honderd maal eerder ‘n offerlam in ‘n tempel as wat ek deur jou verskeur en verslind word.”

Vandaar ook die prentjie wat ek 'n ruk gelede by 'n ander fabel gebruik het.



In die Afrikaanse boeregemeenskap van sê maar die Kalahari in die omgewing van Van Zylsrus, kan dit seker so iets klink:

'n Skaap wat van die trop afgedwaal het sien 'n tierwolf raak en vlug na die plaaswerf waar die hek oop laat lê is omdat alles en almal in rep en roer is vir die jaarlikse kerkbazaar. Die ongedierte wil dit nie waag tot binne die werf nie, maar probeer om van anderkant die draad die skaap se vertroue te wen. “Sien jy nie die gewerskaf in die vleiskamer daar oorkant nie,” kom dit van die wolf. “Kom uit daar, nou! Netnou gryp hulle jou ook en beland jy kort voor lank op een van die kerk se kreunende bazaartafels. “Wees gerus,” antwoord die skaap, “en bekommer jou nie oor die veiligheid van my skuilplek nie; dit gaan met my net goed hier. En selfs as dinge verloop soos jy voorspel, is ek enige dag honderd maal eerder offerlam vir die kerkbazaar as slagoffer en prooi van jou honger maag, tande en kloue.”

Die illustrasie is deur Laura Gibbs toeganklik gemaak. (Die eerste een pas nie by die fabel nie, ek weet - dit het net vir my so oulik gelyk.)

Thursday, 26 May 2011

Die Bobbejaan en die Vissermanne



‘n Bobbejaan wat as brandwag bo in die top van ‘n boom sit en uitkyk oor die rivier, hou daglank aandagtig ‘n klompie vissermanne doenig met hul nette dop. Toe die Vissermanne tevrede is met hul vangstes vir die dag, verkas hulle om te gaan eet en los die nette opgetrek teen die wal. Dis net die kans wat Bobbejaan heeldag afgewag het, hy klouter uit die boom, vas van plan om die Vissermanne se kuns na te boots. Hy kry die nette beet en gooi dit ewe behendig in die rivier, maar verstrengel homself totaal in die proses en versuip kort daarna. Toe hy die oulaas opkom sê hy met sy laaste asemteug: “Ek kry wat ek verdien want wat het ek wat nog nooit ‘n net hanteer het nie tussen die nette verloor om nou daarmee ‘n vis te wil loop staan en vang?”

Hierdie oorvertel was van 'n vertaling uit die 1800's. Weliswaar ek wat die oorspronklike aap in 'n bobbejaan verander het.

Die oudste teks waaroor ons beskik vertel die storie effe anders en dis vir my interessant pm te sien watter veranderinge die Victoriaanse pen aan die oorspronklike storie gemaak het. In die hierdie geval is die einde van die storie heeltemaal verander.

'n Visserman was naby die strand aan’t visvang op see. 'n Aap wat hom dopgehou het, wou hom dit graag nadoen. Die visser los sy nette net so op die strand toe hy loop om 'n uiltjie in 'n nabygeleë spelonk te gaan knip. Die aap storm nader en gryp die net – hy gaan nou self visvang. Maar omdat hy niks van die nette geweet het nie, was dit nie lank nie of hy was totaal en al verstrengel in die toue. Die volgende oomblik val hy natuurlik toe ook nou in die see en versuip. Die visserman kom op hom af toe dit te laat was, trek hom uit op die strand en sê: “O, jou stomme ellendeling – jou gebrek aan onderskeidingsvermoë, ongesonde oordeel en onnosel optrede het jou jou lewe gekos.”

Hierdie fabel wys dat mense wat hul meerderes wil nadoen (na-aap?) hulself op die ou einde vernietig.

Die illustrasie deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Wednesday, 25 May 2011

Noodlot en die Reisiger



‘n Arbeider, moeg en uitgeput van ‘n lang dag se werk, gaan lê vlak teen die gat van ‘n baie diep put, maar is selfs te moeg om water daaruit vir homself op te trek. Net voor hy in ‘n diep slaap wegsink, kom Noodlot daar verby en wek hom met hierdie woorde: “Nee, Meneer, ek smeek jou, word tog dadelik wakker. Rol jy vannag in hierdie put en versuip, dan is ek weer die een wat blameer word en onkuldig die skuld moet dra. En so kry ek ‘n slegte naam onder julle mense. Ek weet nie wat dit is nie, maar met elke terugslag is dit ek wat bygesleep word, en dit terwyl dit julle mense se eie onnoselheid is wat telkens die oorsaak van die terugslag is.”

Ek het baie waardering vir die verteller wat in die illustrasie aan die woord is. Hierdie man het daarin geslaag om die fabels in 4 of 5 rymende lyntjies oor te vertel. Ek kry nuwe respek vir die voorgeslagte se babas as ek lees dat sy boek "Baby's Aesop" genoem is. Die boek is by hierdie internetbiblioteek te lees. Dis 'n lieflike biblioteek - knyp die tyd af en gaan snuffel.

Met dank aan Laura Gibbs en Flickr


Tuesday, 24 May 2011

Die Visserman en die Baie Klein Vissie



‘n Visserman wat vir daaglikse brood van sy nette se vangstes afhanklik was, sit na ‘n volle dag ter see met slegs in enkele Baie Klein Vissie op sy skuit. Die Baie Klein Vissie hyg en spartel om meer as net asem, hy snak en spartel om sy lewe gespaar te kry: “Ai, dierbare Visserman, wat op aarde kan ek nou vir jou beteken, hoe min is ek nie werd nie? Ek het nog lank nie tot volle gewig en grootte gegroei nie – ek smeek by jou, spaar my lewe en gooi my terug in die see. Dis nie meer lank nie, dan is ek ‘n vis uitgeknip vir ‘n koning se tafel, dan vang jy my weer en geniet die groot wins wat ek vir jou inhou.” Die Visserman is sommer dadelik gereed met ‘n antwoord: “Ek sal ‘n volslae sot wees as ek vandag, ter wille van ‘n veel groter onsekerheid more, my huidige klein sekerheid prysgee,” en hy plaas die Baie Klein Vissie in sy fuik.

Met dank aan Laura Gibbs
Ek het dit gisteraand gedink, maar wou dit nie sê nie; ek dink dit nou weer, so nou sê ek dit maar:  as ek na die ou hier bo kyk, kan ek nie glo hy is so slim om tot die inig te kom waartoe hy in hierdie fabel kom nie; om die vis terug te gooi sal nie van hom 'n volslae sot maak nie - hy is op die oog af reeds een.

Monday, 23 May 2011

Die smous en sy donkie



‘n Smous is met sy donkie af see se kant toe om ‘n vrag sout aan te koop. Op pad terug en in ‘n driffie langs die pad, trap die donkie skeef en beland in die water.Toe sy eienaar hom eers weer daar op, daar uit, en veilig buite die water het, voel die donkie dadelik dat sy vrag aansienlik ligter is. Dis ook vir die smous duidelik dat die water die sout moes gesmelt het, en hy draai terug om dit wat hy sopas verloor het, eers weer aan te vul Hy koop trouens meer sout aan en dis met ‘n swaarder vrag dat hy en sy donkie ‘n rukkie later weer die terug pad aanpak. By dieselfde driffie aangekom, struikel die donkie kwansuis weer en staan met ‘n aansienlik ligter vrag uit die water op. Dit is amper vir die smous of die gebalk wat hom begroet triomfantelik is, so asof die donkie bly is hy het gekry wat hy verlang het. Weer draai hulle om, terug see se kant toe; hierdie keer nie om die verlore sout aan te vul nie. Nee, die smous wat gemenespel van die donkie se kant vermoed, maak aankoop van ‘n groot vrag spons, wat, al is dit nie naastenby so swaar soos die vorige twee vragte sout nie, vreeslik groot en lomp is. Dis dieselfde pad terug, dieselfde driffie, ook dieselfde klip in die driffie waar die donkie dan nou kamstig sy poot swik, struikel en met die grote vrag spons op sy sy in die water beland. Die stomme donkie versuip amper en toe die smous hom uiteindelik weer op en uit die water het, is die vrag niks ligter nie, maar het sy toertjie geboemerang en is dit tien keer swaarder van al die water wat die spons absorbeer het. Maar, en dis wat so mooi is van hierdie storie – nooit weer by daardie driffie langs die pad terug, of trouens enige ander driffie nie, het die donkie ooit weer gestruikel nie.




As kind, verbeel ek my, het ek meer van hierdie fabel gehou, as van die een oor die leeu met die doring in sy voet. In my storie het die donkie versuip, maar soos ek dit oorvertel het, is hoe Babrius sy vertelling afgesluit het.

Die illustrasies is met ongekende liefde en passie deur Laura Gibbs opgespoor en as liefdesdiens teenoor fabels op Flickr beskikbaar gestel. (Dalk het sy haar studente dit laat doen.)

Sunday, 22 May 2011

Die arend en die valkie


“En vir wat lyk jy so hartseer,” vra die valkie toe hy langs ‘n hoogs bedoefde arend neerstryk op ‘n tak. “Ek soek nou al hoe lank,” sê die wyfie, “vir my ‘n man wat goed genoeg na my sal kan omsien, maar só ‘n man kon ek tot nou toe nog nie opspoor nie.” “Nou waarom neem jy my nie,” stel die valkie voor, “ek is immers baie sterker as jy.” “Wil jy daardeur vir my sê dat jy jagter genoeg is om in voldoende prooi vir ons altwee te voorsien?” vra die arend. “Wel, met hierdie kloue van my,” spog die valkie, “het ek al telkemale self ‘n volstruis gevang en manalleen aangevlieg na my blyplek toe.” Hierdie woorde het die arend oorgehaal om die valkie as lewensmaat te neem. Pas terug van die wittebrood herinner die arend haar eggenoot aan sy belofte om vir haar ‘n volstruis te bring, en hy klief daar weg, die blou lug in. Dis met die flouste verskoning vir ‘n ou veldmuisie wat hy twee dae later daar aankom – die stomme dingetjie stink sommer so aan ontbinding en dis duidelik dat die valkie hom nie gevang het nie, maar dat hy dae lank dood in die veld gelê het voor die valkie hom opgepik het. “Is dit,” vra die arend, “jou interpretasie van die huweliksbelofte wat jy aan my gemaak het?” Die valkie se enigste, en baie eerlike, antwoord: “Om ‘n edel dame soos jy se guns te wen en boonop jou koninklike hand in ‘n huwelik te verseker, sou ek jou enige iets belowe het, selfs al het ek goed geweet dat daar niks van sal kom nie.”

Illustrasie deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel

Die bokwagter en die wilde bokke



‘n Bokwagter wat sy bokke teen die aand se kant uit die veld kry en af stuur kraal toe, merk tussen hulle ‘n spul wilde bokke op wat hy ook saam met sy eie bokke veilig toesluit vir die nag. Daardie nag, en die volgende dag, sneeu dit swaar en hy kan hulle nie terug na hul gewone weiveld toe lei nie, maar is verplig om hulle in die kampie neffens die kraal op die werf te hou. Hy voer sy eie bokke net genoeg om in die sneeu en koue te kan oorleef, maar vir die nuwe en wilde bokke, juis in ‘n poging om hulle te oorreed om by hom aan te bly en so sy bokke te word, het hy oorvloedig voer en versorging. Toe die sneeu eers weer gesmelt het, lei hy die bokke na die gewone weiveld en die wilde bokke skarrel vinnig die berge in en weg. Die bokwagter skel hulle uit vir uiters ondankbaar omdat hy, toe die nood op sy hoogste was, beter na hulle omgesien het, as sy eie bokke. Waarop die een toe omdraai en hom antwoord:  “Nou maar, dis die presiese rede waarom ons vandag so versigtig is – as jy ons gister beter behandel het as jou eie bokke wat jy so lank reeds het, dan is dit mos nou duidelik:  kom daar ander bokke eendag ná ons oor jou pad, dan gaan jy weer die nuwes bo ons, wat dan die oues is, verkies.”

Hierdie fabel is 'n perfekte illustrasie van wat die Victoriaanse denkraamwerk aan die fabels gedoen het. Soos ek hom hier bo vertel het, is hoe dit in 1867 oorvertel is.

Babrius, wat dit ongeveer 2000 jaar gelede aangeteken het, se storie en strekking sing 'n effe anderse deuntjie:

Dit het begin sneeu en op soek na skuiling vir sy kudde, nou ook al wit van die sneeu, het die bokwagter hulle in 'n nabygeleë grot gedryf. Hy was onder die indruk die grot is onbeset; groot was sy verbasing om 'n trop wilde bokke wat hom en sy kudde voorgespring het, daar aan te tref. Hierdie trop was nie alleen groters as syne nie, maar die bokke self was ook veel groter en sterker. Die gevolg is dat die bokwagter toe die voer wat hy uit die bos saamgebring het, eerder vir die wilde bokke om hulle te versterk, terwyl sy eie kudde honger lei. Toe die weer later opklaar, kom hy agter dat sy eie bokke intussen gevrek het, terwyl die wilde op hul beurt reeds vort en aan die wei is op 'n deel van die berg waar nog geen dier die betrokke seisoen gevreet of vertrap het nie. So is die belaglike bokwagter toe huis toe sonder 'n enkele bok – van sy drome oor 'n groter kudde het net mooi niks gekom nie, nie eens van die trop wat van die begin af sy eie was nie.

Die illustrasie, hoewel ek nie seker is dis oorspronklik vir hierdie fabel geskets nie, is deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Saturday, 21 May 2011

Die Gode se antwoord aan die Eikebome



Die Eikebome vra ‘n spreekbeurt by die Gode en kom met die volgende klag: “Ons dra van alle bome die swaarste aan ons lewenslas, want onder al die bome is dit ons wat die swaarste gebuk gaan onder die kap van die byl.” “Julle het net julleself te danke vir hierdie toedrag van sake,” kom dit van die gode, “as julle nie so gemaklik sulke goeie meubels en pale en planke opgelewer het nie, as julle nie so diensbaar was nie, sou die boere en die ambagsmanne, die skrynwerkers en die arbeiders nie sou gou geneë wees om die byl teen jul stamme en wortels in te lê nie.”



Toe die man klaar het met die byl se lem wat hy gemaak het, vra hy die bome om hom ‘n hef van die sterkste hout denkbaar te gee. Die bome besluit toe onderling op hout van die Wilde Olyf. Die man pas toe die hef in die byl se lem en sonder om ‘n oomblik te huiwer, begin die man aan die ander bome se take en stamme te kap, neem hy vir hom net wat hy wil. Dis die Eikeboom wat teenoor ‘n ander opmerk: “Dis ons verdiende loon, dis ons wat ons vyand die hef in die hand gegee het toe hy vir dit gevra het.”

Jy moet twee keer dink voor jy iets vir jou vyand gee.


Ons het natuurlik nie 'n idee watter van die fabels wat opgeneem is in die kanon van "die fabels van Esopus" is vir 'n feit deur 'n historiese Esopus vertel nie.

Ek lees toevallig gisteraand dat daar outjies is wat reken dat fabels wat verwysings na die Griekse gode, waarskynlik die oudste en suiwerste Griekse fabels is, bes moontlik van die fabels wat Esopus (as daar ooit so 'n verteller was) vertel het.

Volgens die wat so redeneer sou hierdie twee fabels dan uit die mond van Esopus kon wees. Ek het die verwysing na Jupiter (of was dit nou Zeus, ek weet nooit watter een is Grieks en watter een Latyn nie) uitgehaal omdat verwysings na die gode vir party lesers vandag verwarrend kan wees.

Alle illustrasies, soos bykans altyd, deur Laura Gibbs op Flickr toeganklik gemaak
vir outjies soos ek wat nie toegang het tot al hierdie antieke geskrifte nie.



Friday, 20 May 2011

Die Ou Man en Dood




‘n Ou Man se dagtaak was om vuurmaakhout in die bos te kap. Op pad markplein toe een dag, is die pad vir hom net te ver, die opdraende net te steil, sy skouers net te moeg, en die vrag net te swaar. Hy gooi die drag hout langs hom op die grond neer en wens hardop dat Dood hom asseblief tog nou maar kan kom haal. Dood het dadelik gehoor gegee en van uit die niet langs die Ou Man verskyn, met dan ook die vraag waarom die Ou Man hom geroep het. Baie vinnig en hups is die man weer op die been, die vrag hout in sy hand, eelte of te not, en vandaar op sy skouer in een flinke beweging. “Nee, toe maar, niks ernstigs nie,” antwoord die Ou Man, “ek het maar net gehoop jy sal my kan help om hierdie sware vrag weer op my skouers te kry.”

Illustrasies deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel

Thursday, 19 May 2011

Die seuns en die paddas



Hierdie fabel, so wil dit voorkom, het geen bewese klassieke oorsprong nie, al het dit later jare deel van die Esopus-kanon geword.

Ek het dit al vertaal so ek plaas dit maar.

Die seuns, spelend aan die kant van die water, kom op ‘n spul paddas af en begin hulle sommer vir die lekker met rivierklippe pot. Hulle het reeds ‘n paar afgemaai gehad voor een van die paddas sy kop bo die water uitlig en roep:  “Ek  bid by julle om te stop, Seuns – julle pret en plesier is vir ons die sterwensuur.”

In 1919 het een onbekende verteller 'n boodskap ook bygevoeg:

Wag en stop altyd eers om seker te maak jou plesier nie die bron van 'n ander se ongeluk is nie. 

Die illustrasie is in die openbare domein by Project Gutenberg

Die Jagter en die Visser

Illustrasie deur Laura Gibbs toeganklik gemaak

‘n Jagter wat met sy honde en dag se dooie fisante en hase huiswaarts keer, loop op pad ‘n vriend, ‘n Visser, met sý dag se vangstes oor sy skouer, raak. Daar smag die Jagter na die Visser se vangs, en die Visser kyk net so begerig na die Jagter se vleis oor sy skouer gegooi. Net daar en dan besluit hulle om die opbrengs van hul dagtaak uit te ruil. Elkeen was so opgetrek met hierdie reëling (wat beide as ‘n winskopie vir homself gesien het) dat hulle dag na dag dieselfde ruiltransaksie uitgevoer het. Uiteindelik merk ‘n buurman teenoor hulle op:  “As julle veel langer so aangaan soos nou, word julle kort voor lank uitgekuier met die plesier van ‘n ander se kos, en begin elkeen weer verlang om tog net die voëls of vis wat hy self gedood het, te geniet.”

Selfde kool, ander sous (maar hierdie keer meer getrou aan Babrius se antieke optekening daarvan):
Die jagter was bergaf oppad huis toe na sy jag terwyl die visser van die ander kant af, bergop was met sy vangste vir die dag. Toe die twee se paaie kruis, verkies die vleiseter skielik die vis uit die see terwyl die visser op sy beurt bereid is om sy vis te ruil vir 'n porsie rooivleis uit die bos. Net daar en dan word 'n ruiltransaksie beklink en van hier af aan het hulle elkeen elke dag hul onderskeie suksesse ter land en ter see uitgeruil om 'n meer aptytwekkende maaltyd te kan geniet. Op die ou einde kry hulle egter die volgende advies:  “Pasop, te veel van 'n goeie ding is ook nie meer 'n goeie ding nie, omdat julle so gewoond raak aan die anderste sal dit kort voor lank nie meer spesiaal wees nie en dan verlang julle weer terug na wat julle oorspronklik geniet het.”

Wednesday, 18 May 2011

Die Muise en die Dwergmuishonde


Die Muise en die Dwergmuishonde was jare reeds in ‘n ononderbroke baie bloedige oorlog gewikkel. Na elke veldslag was dit die Dwergmuishonde wat as oorwinnaars uit die stryd getree het. Die muise het hul herhaalde nederlae toegeskryf aan die feit dat hul leermag geen leiers of iets soos offisiere gehad het nie – niks anders as ‘n spul ongedissiplineerde voetsoldate een en elkeen van hulle nie. Gevolglik is ‘n klompie muise, party op grond van herkoms en familieagtergrond, ander op grond van militêre dapperheid aan die dag gelê, as leiers gekies om die strydmag wat hulle eers in pelotons, kompanies en battaljons ingedeel het, op die slagveld aan te voer. Met die ordereëlings, struktuur en algemene dissipline eers in plek, is oorlog, met ‘n groot fanfare aangekondig, opnuut teen die Dwergmuishonde verklaar. Die nuut verkose generaals het, ten einde meer sigbaar onder hul eie manskappe te wees, indrukwekkende kentekens van strooi om hul nekke gebind. Die groot slag het skaars afgekop of die Muise word totaal oorweldig en moet in aller yl na hul gate haas. Die generaals, met hul indrukwekkende halssnoere van strooi, het elkeen voor die voet gesukkel om by hul gate in te skarrel, is deur die Dwergmuishonde gevange geneem, en weldra opgevreet.

Dit herinner ons aan die uitdrukking “hoë bome vang die meeste wind”; hoe meer die eer wat jou toekom, hoe groter die gevaar waaraan jy uitgelewer is.







Ek het onderneem om die fabels van die klassieke Grieke en Romeine te vertaal. Bg. is 'n vertaling van 'n Britse oorvertelling uit die 1800’s.
Laat ek daarom my woord hou.
Syntipas was 'n Indiese filosoof en skrywer wat ongeweer 100 vC baie bekend was. 62 fabels, vermoedelik uit Siries in Grieks vertaal, word aan hom toegeskryf. Sy vertelling van die fabel, met gans 'n ander vreemde slotsom, klink so:

Oorlog het uitgebreek tussen die muise en die muishonde. Die muise was natuurlik nie so sterk soos die muishonde nie. Toe hulle eers besef dat hul volslae swakheid en gepaardgaande lafhartigheid tot hul nadeel strek, verkies hulle 'n spul despote as generaals om hulle in die stryd te lei. Die bende outokrate wou meer opvallend en opsigtelik as die ander muissoldate wees; so toe maak hulle horings aan hul koppe vas. Toe die muishonde aanval, sit hulle die spul muise lelik ore aan. Die opmerklike aanvoerders van die muise, al was hulle met die terugval die eerstes by die gate, kon nie by die skuiling ingaan nie – die lompe horings aan hul koppe het hul belemmer. Die muishonde het elke generaal krygsgevange geneem en ter dood veroordeel.

Hierdie fabel wys dat aanvoerders wat aanmoediging aan hul soldate bied sonder om goddelike bystand vir die komende veldslag af te bid, reguit op 'n groot ramp afstuur.

Die illustrasies hier gebruik is deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Tuesday, 17 May 2011

Die haas, die jagter en die beeswagter (?)


‘n Jakkals, voortvlugtend van ‘n Jagter en sy honde, kom op ‘n houtkapper, besig om aan ‘n groot stinkhout te kap, af en smeek hom om hom van ‘n skuilplek te voorsien. Die Houtkapper stel voor dat die Jakkals sommer daar in sy hut gaan skuiling kry, so toe kruip die Jakkals maar daar eenkant in ‘n hoekie weg. Ook nie lank nie of die Jagter en sy Honde kom daar verby, met natuurlik die navraag of die Houtkapper nie strakkies ‘n Jakkals daar verby sien kom het nie. Die Houtkapper verklaar dat hy in geen dae ‘n jakkals gesien het nie, maar wys tog die heeltyd knip-ogend met sy kop en arms in die rigting van die hut waarin die Jakkals wegkruip. Die Jagter slaan egter nie ag op die Houtkapper se gebare nie, waarom sal die man ook nou vir hom lieg, en vertrek dadelik verder op soek na die Jakkals. Net toe hy en sy honde buite sig is, slaan die Jakkals, sonder so min as ‘n dankie of ‘n groet, voet in die wind. Maar die Houtkapper roep beskuldigend agterna:  “Jou ondankbare dierasie, dat jy nog asemhaal is aan my te danke, en tog wil jy hier vort sonder selfs ‘n dankie!” Waarop die Jakkals hom daarop wys:  “Ek sou jou so graag wou bedank het, as dit net was dat jou woorde en jou gebare dieselfde taal gepraat het, maar dit was mos duidelik dat die een die ander, en daarom ook vir my, verraai het.”

Hierdie een het 'n kinkel. Party vertellings maak dit 'n haas en allermins nie 'n jakkals nie wat kom aanklop. Dit wil voorkom of die vertalers die lupes (haas) verander het in lupus (wolf). Soos ek aflei het Phaedrus dit in Latyn geskryf en van 'n haas gepraat. Toe dit in Grieks vertaal is, sluip die verwarring in word dit 'n jakkals. Later is dit weer uit Grieks in Latyn vertaal, toe natuurlik, is dit 'n wolf. Ek praat nie van 'n haas nie, ook nie van 'n wolf nie, maar 'n jakkals. Die eerste bron wat ek geraadpleeg het was 'n Victoriaanse Engelsman se boek. Dit maak sin dat die Brit eerder 'n jakkals of vos sou gebruik.

Maar hoe het Phaedrus dit vertel:


'n Vlugvoetige haas was aan’t wegvlug van 'n jagter. 'n Beeswagter het egter gesien waar die haas homself in 'n digte struikgewas onsigbaar wou maak. Die haas sê toe vir die wagter: “Ek smeek jou in die naam van al die gode en almal vir wie jy lief en dierbaar is, om my nie te verklap nie! Ek het my nog net altyd goed gedra hier in die veld waar beeste wei.” Die beeswagter antwoord:  “Wees nie bevrees nie, hou jou lyf skaars daar waar jy is en wees gerus.” Met die daag die jagter warm op die spoor van die haas daar op, al skreeuend:  “Haai, jy, beeswagter, is hier nie nou net 'n haas verby nie?” “Inderdaad,” kom dit van die beeswagter, “maar hy het voet in die wind geslaan, doerie kant toe.” Terwyl hy praat swaai hy egter sy kop en wink met die oog, anderkant toe, in die rigting van die haas se skuilplek. Die jagter slaan egter nie hierop ag nie en verdwyn spoedig uit die oog. Dis toe dat die beeswagter hom tot die haas wend: “En toe, gaan jy my bedank vir die feit dat ek jou geheim gehou het nie?” Maar die haas antwoord: “Wel, ek kan dit nie ontken dat ek jou tong baie dank verskuldig is nie, en daarvoor baie dankie. Maar wat jou leuenagtige oë betref, wens ek sommer iemand kom en ruk hulle skoon uit daardie verraderlike, winkende kop van jou.”

'n Haas, wat my betref, pas die rol wat hier vertolk moet word baie beter as die van 'n jakkals of 'n wolf.


Monday, 16 May 2011

Die Leeu, die Jakkals en die Donkie



Die Leeu, die Jakkals en die Donkie het ‘n samwewerkingsooreenkoms aangegaan – voortaan, as dit by jag kom, sal hulle mekaar bystaan. Na ‘n hoogssuksesvolle vangs versoek Leeu vir Donkie om die vangs regverdig tussen die drie jaggenote te verdeel. Die Donkie doen wat van hom verwag word – hy verdeel die vleis in drie ewe groot porsies en vra ewe beskeie dat die ander twee eerste ‘n keuse kan uitoefen. Leeu bars uit in ‘n verwoede tirade, dood die donkie en verorber hom op die plek. Terwyl hy sy lippe aflek vra hy vir Broer Jakkals om die prooi te verdeel. Hierop sleep Jakkals alles wat hulle gevang het op ‘n hoop en laat vir homself enkele seninkies, niks meer as ‘ n taai peuselhappie nie, eenkant. Die Leeu vra hom hierop wie dat was wat hom die kuns verdeling geleer het, want dis duidelik dat hy ‘n meester op die gebied is. Waarop die Jakkals antwoord: “Donkie het my dit geleer, bloot deur toe te laat dat ek hom dophou.”



Hoewel Annieka sê dat sy die uitrukking nog nooit gehoor het, is dit hierdie Fabel waar Afrikaans aan iets soos “die leeueaandeel” kom.

Vir die meeste lesers is Leeu hier die vark in die verhaal. Die verhaallyn het egter ook oorgespoel na die Ooste en is hy in die Oosterse fabelskat ook opgeneem. Hier is Donkie die vark in die verhaal. Leeu word interpreteer as God aan wie alles toekom, en dis Donkie wat so onnosel en eenogig was om dit nie te besef nie. Jakkals, aan die ander kant het die insig om te besef God is aan die hoof van alles, ook sy en sy medemens se handewerk.

Ek verbeel my egter dis nie die Jakkals nie, maar ‘n ander die dier wat hier die rol van die jakkals speel. Die boodskap waar by my brondokument uitkom is wat ons Westerlinge betref voor die handliggend: 

Bevoorreg is die man wat homself toelaat om uit die slegte lotgevalle van ander te leer.

‘n Tong-in-die-kies:   Leer uit ander se foute.

Alle illustrasies hier deur laura Gibbs toeganklik gemaak op Flickr.

Sunday, 15 May 2011

Die Boklam en die Wolf





‘n Boklam, veilig op die dak van een van die plaas se buitegeboue sien ‘n Wolf verbydraf en begin hom dadelik uittart. Wolf kyk op, sien hom raak en herinner hom:  “Onthou net, dis nie jy wat my terg of in my pad staan nie, maar niks anders as daardie hoë dak onder jou wankelmoedige beentjies nie.”

Ook goed om te onthou dat slegs tydelike omstandighede, die tyd en plek, dit somtyds vir die swakke moontlik maak om voordeel bo die sterkere te geniet.

Hierdie bok op die dak het my nog altyd gepla. Ek weet daar was huise met gras wat groei op die dak, maar dit was nie dakke soos enige van die dakke op enige van hierdie illustrasies nie:



Ek kon my die tipe huis met groeinde gras op die dak, soos ek dit leer ken het, ook geensins in Griekeland voorstel nie.

Toe ek egter op Babrius se vertelling van die fabel afkom, die oudste optekening wat ons het, toe besef ek die verwysing na die dak het later bygekom, tien teen een in 'n ander land waar dit moontlik was vir bokke om op die dakke te loop.

Die oorspronklike fabel sien egter heel anders daar uit:

'n Wolf stap verby 'n muur waaroor 'n ram loer en allerhande op- en aanmerkings maak. Die wolf wat hoogstens op sy tande kan byt laat hoor van hom:  "Dis suiwer omstandighede wat jou beledigings moontlik maak. Jy, jouself, het niks om op te roem nie."


Hierdie is nou weer 'n lam en nie 'n ram nie, maar dis eerder hoe ek my prentjie voorstel.

Al die illustrasies wat ek hier gebruik is deur Laura Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.



Die Leeu op die plaaswerf






‘n Leeu daag een oggend deur die hek op die plaaswerf op. Die Plaasboer, wat lank reeds die Leeu wou vang, sluit onmiddellik die hek. Die oomblik toe die leeu agter die kap van die byl kom, spring hy onder die skape in en saai verwoesting. Daarna klim hy eers onder die bokke en toe die beeste in en dood ‘n hele aantal van beide. Die Plaasboer wat vir sy eie en sy gesin se lewens begin vrees, gooi die plaashek oop en bevry die Leeu. Hierna sanik en kla hy luid oor die skade wat die Leeu hom en sy boerdery berokken het, maar sy vrou, wat alles die heeltyd op‘n afstand gade geslaan het, sê: “Glo my vry, dit is alles jou verdiende loon. Hoe kon jy vir ‘n enkele oomblik daaraan gedink het om ‘n leeu saam met jou op die plaaswerf toe te sluit, dit terwyl jy weet dat jou broek beginne beef as jy so min as slegs sy brul oor ‘n afstand hoor?”

As jy met vuur speel, moet jy bereid wees om jou vingers te brand.

Ek het lieflik borduur hier. Kom ons kry hom net eers ook darem soos hy in klassieke tye oorvertel is:

'n Leeu kom die plaaswerf binne en die boer wat hom wil vang sluit die hek. Die leeu, wat nie kan uitkom nie, vreet nou eers die skape op en wend hom toe tot die beeste. Die boer begin vir sy eie veiligheid vrees en gooi die hek oop. Na die leeu weg is sien die boer se vrou haar man sy lot bekla en sê vir hom: “Dis jou verdiende loon! Vir wat het jy jouself wou opsluit met 'n tipe dier waarvan 'n mens, selfs oor 'n groot afstand, eerder weg moet hardloop?”

Op dieselfde wyse moet mense wat die wat sterker is as hulle opklits, bereid wees om die gevolge van hul fout te dra.

Of die betrokke illustrasie hier by die fabel hoort weet ek nie – die illustrasie se opskrif is in Latyn, die oerteks van die fabel Grieks. Tog lyk die leeu vir my
pretty distressed asof hy opgesluit kan wees, en dit sal my nie verbaas as die bok in die agtergrond spoedig op die leeu se kerfstok gaan eindig nie.



Die Donkie met die Ikoon op sy rug


‘n Donkie stap deur die stad met ‘n groot hout beeld, bestem vir een van die kerke, stewig op sy rug gebind. In die verbystap stop die voetgangers en buig voor die beeld. Die stomme Donkie is onder die wanindruk die mense buig uit respek voor hom en begin grootkop kry. Kort voor lank is hy so vol eiewaan dat hy verseg om een voet verder voor‘n ander te sit. Die drywer vererg homself, looi die Donkie hard met die karwats en herinner hom daaraan dat die wêreld lank nog nie so agteruit gegaan het dat mense voor ‘n domkop donkie sal buig nie.”
Dit bly nou maar een maal nie wys om die lof en die eer wat ‘n ander toekom, vir jouself toe te eien nie; jy maak net van jouself‘n gek in die oë van ander.
Dis nou soos wat 'n sekere Townsend dit in 1867 oorvertel het. En dis die geneuk met die fabels, die goed is volksbesit en elkeen maak nes hy lus het. In die Klassieke tye was die boodskap veel eenvoudiger:

Hierdie fabel kan gebruik word as mense die eer wat ander toekom op hulself neem.

Die Jaghond en die Haas


‘n Jaghond het ‘n Haas uit sy skuilplek opgejaag, maar na ‘n jaagtog van enkele minute die aftog begin begin blaas. ‘n Beeswagter wat dit alles gade geslaan het, spot die Jaghond: “Hoe lyk dit my die kleiner een is die vlugvoetigste van die twee!” “Nee,” antwoord die Jaghond, “jy het duidelik nie die verskil in ons twee se hardloop opgemerk nie – ek het bloot agter ‘n versnaperinkie aangehol, terwyl die haas se lewe van sý hardloop afgehang het.”

Saturday, 14 May 2011

Die Duif met die Groot Dors

Illustrasie van www.burningwell.org

'n Duif wat al skoon swak voel van die dors, vlieg verby ‘n uitbeelding van ‘n beker water wat teen 'n muur geverf is. Hy is so bly om uiteindelik by water uit te kom, dat hy nie vir een oomblik dink dis bloot maar ‘n prentjie nie en pyl reg op die waterbeker af.  Hy vlieg homself des disnis teen sy beker, breek een van sy vlerke, slaat neer grond toe en word kort voor lank deur ‘n kat opgemerk wat hom vang en opvreet.

‘n Insident wat maar net weer bewys dat ‘n mens se geesdrif en ywer nie jou gesonde oordeel moet aantas nie.

***

Nader aan die oorspronklike Grieks klink die fabel effe anders teen die einde as die duif self aan die woord kom wanneer hy sy laaste asem uitblaas. Dit is getrou aan die Esopiese tradisie – waar daar 'n sterfte is het die sterwende dikwels die laaste sê:

'n Duif wat vreeslik dors geword het, het van plek tot plek gevlieg op soek na water om te drink. Sy sien toe 'n waterbeker wat teen 'n muur geverf is en onder die indruk dat dit regtig water is, vlieg sy sonder om twee keer te dink reg op die muur af om haar dors te les. Toe sy in die muur vas vlieg bring sy haar lewe tot 'n skielike einde. Terwyl sy haar laaste asemteug gee, sê sy vir haarself:  “Wat 'n ellendige en ongelukkige skepsel is ek nie! Ek het nie vir een oomblik kon vermoed dat ‘n soeke na iets om te drink my ondergang kan beteken nie.

Die fabel wys dat versigtigheid strate beter is as roekelose ondeurdagte haas.

Ons sê in Afrikaans dat 'n haastige hond sy mond verbrand.

Wednesday, 11 May 2011

Die twee paddas


Illustrasies deur Laura Gibbs toeganklik gemaak

Toe dit somer word en die poel wat die twee paddas deel, droog op, sit hulle af op soek na ‘n nuwe en beter blyplek. Dit was ook nie lank nie of hulle kom af op ‘n lieflike diep waterput. “Nou maar waarom wag ons, kom ons spring in,” kom dit van die een padda, “hier is nie net water nie, maar ook genoeg kos en selfs skuiling sou die nood dreig. Die tweede een openbaar meer omsigtigheid:  “Hoe gemaak as die put opdroog? Hoe kom ons dan weer van daar onder tot hier bo?”

Nou kan ons allitereer: "dink voor jy doen," of assoneer: "dink en besin voor jy begin."


Illustrasies deur Laura Gibbs toeganklik gemaak

Tuesday, 10 May 2011

Die berg in barensnood


‘n Berg was eens op ‘n tyd hoogs omgekrap. Talle harde kreun- en steun- en ander onaangename geluide is gehoor. Van heinde en verre het mense gekom om te kyk wat skort met die berg. Terwyl hulle gereed staan om getuie te wees van ‘n rotsstorting, ‘n natuurramp soos ‘n aardbewing, of self ‘n vulkaniese uitbarsting, toe kom daar ‘n muis deur ‘n gleufie in ‘n rots uitgekruip.

Alle illustrasies hier deur Laura Gibbs op Flickr


Monday, 9 May 2011

Die Donkie, die Haan en die Leeu

Francis Barlow (1787) se illustrasie deur Laura Gibbs op toeganklik gemaak.

Ek het weer twee vertellers vertaal. Ek verkies die eerste, en oudste, weergawe:

'n Donkie en 'n haan het saam op dieselfde plaaswerf gewoon. 'n Leeu wat die donkie opgemerk het, bekruip hom toe, maar net voor die leeu tot die aanval oorgaan, laat die haan van hom hoor. Dit jaag die leeu toe 'n skrik op die lyf (hulle sê mos leeus is vreesbevange by die aanhoor van 'n haan se kraai) en hy slaan voet in die wind. Die donkie is heel oorstelp by die gedagte aan 'n leeu wat van 'n haan weghol – en hy sit die leeu agterna. Egter nie lank nie, of die leeu draai om en vreet die donkie op.

Dieselfde gebeur met mense: sodra die een sy vyand verleë sien, matig hy homself aan – en juis daardie houding en gedrag maak dit dan vir sy vand moontlik om hom te vernietig – selfs nog voor hy mooi die kloutjie by die oor kon bring.

***

‘n Donkie en ‘n Haan is in ‘n klein kampie in mekaar se geselskap toe ‘n leeu, bykans tot die dood toe honger, daar aangestap kom. Hy was op die punt om die Donkie te bespring toe die Haan helder oordag uit volle bors begin kraai. Omdat die een geluid wat ‘n Leeu nie kan uitstaan nie, ‘n haan se kraai is, spring die Leeu onmiddellik om en slaan voet in die wind. Toe die Donkie eers besef hoe min dit gevat om die Leeu ‘n skrik op die lyf te jaag, skep hy moed om die Leeu aan te val en begin hom agterna jaag met die doel om hom te verskeur. Hy het nie lank gehardloop nie, of die Leeu ruk om, gryp hom aan die nek en skeur hom aan flarde. Want dit is nou maar een maal soos dit is:  valse vertroue lei dikwels tot groot gevaar.