Wednesday 4 May 2011

Die Leeuwyfie



Die dames van die veld het ook maar hul onderlinge klein geskilletjies. Hierdie dag het hulle dit oor watter een van hulle die meeste kleintjies op ‘n slag die lewe in bring, want daardie een is dan tog sekerlik die waardevolste mamma. So maak hulle ook by leeuwyfie ‘n draai om te verneem hoe groot haar werpsel is. “O, nee,” lag sy “ek kry maar net een seun op ‘n slag, maar dit moet julle onthou dat hy elke duim, van sy kroon tot sy toon, ‘n opreggeteelde Leeu is.”

Die waarde lê nie in hoevéél nie, maar hoe góéd – soos ons sê: kwaliteit en nie kwantiteit nie.

In sy oudste vorm klink die storie effe anders en was dit in sommige gevalle 'n sog, in ander 'n jakkals, wat die leeuwyfie konfronteer het:

Die storie wil dit hê dat hierdie sog wat pas 'n hele werpsel die lig laat sien het, die leeuwyfie luidkeels konfronteer: “En aan hoeveel kinders gee jy miskien geboorte?” “O, ek verwek net een,” kom dit van die leeu, “maar hy is baie goed geteel.”

Hierdie fabel wys dat 'n enkele een met uitsonderlike fisieke krag, waagmoed en wysheid, veel meer werd is as talle swak en ruggraatloses.