Illustrasie uit 'n vyftiende-eeuse uitgawe van Steinhowel, deur Laura Gibbs op Flickr toeganklik gemaak. |
‘n Baie lastige kraai het hom tuis gemaak op die rug van ‘n skaap. Teen sy sin in het die skaap die kraai op sy rug verduur en hom heeldag rond karwei. Na ‘n ruk kan hy dit ook nie meer hou nie en sê: “Het jy ‘n hond behandel soos jy my behandel, was jy lankal deur sy kake en af in sy maag.” “Dis nes jy daar sê,” antwoord die kraai, “maar onthou net, ek het geen agting vir ‘n swakke nie, maar ek respekteer die sterke. Ek weet wie kan ek boelie en wie moet ek vlei om tot ‘n rype ou ouderdom aan die lewe te bly.”
Minder geborduur, en effe nader aan Phaedrus wat dit teen ongeveer 100 nC in Latyn verwoord het, klink die storie so:
'n Verfoeilike kraai het homself op 'n stomme skaap gaan tuismaak sodat dié nie anders kan nie as om hom teen haar sin op haar rug rond te karwei nie. Na 'n ruk merk die skaap op: “Het jy dít nou aan 'n hond gedoen, het jy nie daarmee weggekom nie – honde het slagtande!” Waarop die aanstootlike kraai antwoord: “Ek sien neer op skepsels wat hulself nie kan verdedig nie; aan die anderkant maak ek 'n kniebuiging vir die hooggeplaastes wat kan – ek weet immers goed wie om te misbruik en wie met vleitaal en leuens om die bos gelei moet word. Dis hoeka daaraan wat ek my goeie lewe en rype ouderdom kan toeskryf.”
Die verwysing na die kraai se rype ouderdom hou verband met die Grieke wat 'n volksgeloof gehad het dat kraaie baie oud kan word, tot so lank as nege menselewens. Phaedrus noem trouens 1000 jaar in sy vertelling, iets wat vir die Grieke nie vreemd sou wees nie.