Saturday, 7 May 2011

Die olyfboom en die vyeboom



Die olyfboom spot die vyeboom oor sy haar blare met die eerste tekens van herfs verloor en nou, middelwinter, poedelkaal voor hom staan, terwyl hy wat olyfboom is, die heel jaar deur sy lowergroen blareprag behou. Met dié word hulle deur ‘n sneeuvlaag oorval. Die sneeu val dwarsdeur die vyeboom se kale takke en pak op die grond en om sy stam saam. Maar onder die vyeboom kom dit by die grond nie uit nie. Dit pak swaar op sy blaredak aan en onder, die gewig, begin die takke breek om die olyfboom eers van sy skoonheid, en later sy lewe te beroof. Maar met die koms van die lente, toe stoot die vyeboom, springlewendig, haar eerste nuwe blare uit. 


Die oudste aantekening van die storielyn hier bo dateer uit sowat 400 nC en word aan Aphthonius toegeskryf. Syntipas, 'n Indiese filosoof het teen 100 vC 62 Esopiese fabels uit Siries in Grieks vertaal. Sy, ouer, weergawe verloop só:

Toe die vyeboom al haar blare deur die loop van die winter verloor het, het 'n olyfboom in die onmiddellike omgewing die spot met haar naaktheid gedryf. “Somer én winter,” kom dit van die olyfboom, “is ek met 'n blarekleed, immer groen van nuwe lewe, bedek, dít terwyl jou kortstondige skoonheid net 'n somer lank duur.” En terwyl die olyfboom nog so staan en spog tref 'n bliksemstraal uit die bloute en verbrand haar tot kole, dít terwyl die vyeboom ongedeerd bly staan.

Die fabel wys dat mense wat met hul goeie geluk of rykdom spog, onverwags deur die een of ander ramp getref kan word.