Francis Barlow (1787) se illustrasie deur Laura Gibbs op toeganklik gemaak. |
Ek het weer twee vertellers vertaal. Ek verkies die eerste, en oudste, weergawe:
'n Donkie en 'n haan het saam op dieselfde plaaswerf gewoon. 'n Leeu wat die donkie opgemerk het, bekruip hom toe, maar net voor die leeu tot die aanval oorgaan, laat die haan van hom hoor. Dit jaag die leeu toe 'n skrik op die lyf (hulle sê mos leeus is vreesbevange by die aanhoor van 'n haan se kraai) en hy slaan voet in die wind. Die donkie is heel oorstelp by die gedagte aan 'n leeu wat van 'n haan weghol – en hy sit die leeu agterna. Egter nie lank nie, of die leeu draai om en vreet die donkie op.
Dieselfde gebeur met mense: sodra die een sy vyand verleë sien, matig hy homself aan – en juis daardie houding en gedrag maak dit dan vir sy vand moontlik om hom te vernietig – selfs nog voor hy mooi die kloutjie by die oor kon bring.
***
‘n Donkie en ‘n Haan is in ‘n klein kampie in mekaar se geselskap toe ‘n leeu, bykans tot die dood toe honger, daar aangestap kom. Hy was op die punt om die Donkie te bespring toe die Haan helder oordag uit volle bors begin kraai. Omdat die een geluid wat ‘n Leeu nie kan uitstaan nie, ‘n haan se kraai is, spring die Leeu onmiddellik om en slaan voet in die wind. Toe die Donkie eers besef hoe min dit gevat om die Leeu ‘n skrik op die lyf te jaag, skep hy moed om die Leeu aan te val en begin hom agterna jaag met die doel om hom te verskeur. Hy het nie lank gehardloop nie, of die Leeu ruk om, gryp hom aan die nek en skeur hom aan flarde. Want dit is nou maar een maal soos dit is: valse vertroue lei dikwels tot groot gevaar.